Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
17 November 2026

Wat lees jy? “Van die Apennynse berge tot Sisilië”. Rina Cascione (Vert.)

 

Van die Apennynse berge tot Sisilië: Italiaanse kortverhale. Vertaal deur Rina Cascione. 2026. Naledi.

 

In haar voorwoord tot die kortverhaalbundel Van die Apennynse berge tot Sisilië: Italiaanse kortverhale motiveer Rina Cascione haar vertaling van 15 Italiaanse kortverhale in Afrikaans soos volg: “Afrikaans het ontwikkel tot ʼn lewendige medium vir uitdrukking in veral poësie en prosa wat worstel met temas van isolasie, geborgenheid en transformasie – eggo’s wat oorvloedig voorkom by die Italiaanse meesters se werk”.

Inderdaad verryk hierdie bundel die Afrikaanse kortverhaalskat met ʼn aantal aangrypende verhale en temas. Die verhale stam uit verskillende tye van die Italiaanse letterkunde, vanaf Boccaccio (1313 – 1375) tot Cesare Pavese (1908 – 1950). Dit is verhale wat die leser aangryp vanweë die menslikheid daarvan, maar ook omdat dit boeiende stories bevat wat kundig en op die man af vertel word. Hoewel die ruimte vir die Afrikaanse leser vreemd mag wees, onder andere vanweë vreemde plekname en landskappe, is die verhale diep menslik en kom argetipiese karakters en verhaalelemente dikwels voor.

Sommige verhale bevat elemente van die gruwelike, soos Boccaccio se “Andreuccio van Perugia” waar die hoofkarakter die geld waarmee hy wou perde koop in ʼn bordeel verloor, maar ʼn waardevolle juweel in ʼn graftombe vind. “Pels” (Renato Fucini) is die aangrypende verhaal van ʼn hond wat in sy laaste jare iets van die luukse lewe in ʼn familie beleef, terwyl “Soete herinneringe” van dieselfde skrywer die grootmoedigheid van ʼn vader teenoor sy verkwissieke seun as tema het. “Maansiek” (Luigi Pirandllo) belig die lot van ʼn vrou wat deur haar familie aan ʼn geestesversteurde man in die huwelik gegee word. Bonatuurlike kragte en verskynings word in Dino Buzzati se twee verhale “Die mantel” en “Die getoorde baadjie” ontgin.

Dit is alles verhale wat deur hulle eenvoud en menslikheid tot lesers spreek. Die grootste waarde van die bundel lê egter in die uitnemende vertaling. Rina Cascione se sensitiewe aanvoeling vir die Italiaanse woord en idioom en haar oorsetting daarvan in Afrikaans slaan soms die asem weg. Haar vertaling is melodieus en vloeiend. Nooit kry mens die gevoel van vreemdheid en letterlike vertaling nie; vervreemding (foreignization) wel, maar dan dien dit die doel om die bekende vanuit ʼn nuwe perspektief te sien óf om klem te lê op die Italiaansheid van wat vertel word. Veral ten opsigte van sinskonstruksie skemer die vreemde taal deur, soos in die volgende voorbeeld:

“Die jong vrou wat met subtiele kwaadwilligheid nou volledig kennis gedra het van Andreuccio se familie en ook hulle name geken het, het die ou vrou, toe hulle terug huis toe is, die hele dag in die werk gesteek sodat sy nie daarby kon uitkom om na Andreuccio te gaan nie.”

Sodoende behou die vertaler die linguistiese eienaardighede van die (Middeleeuse) bronteks eerder as om dit te moderniseer of aan te pas om in die doeltaal vlot te lees en word die bronteks nie afgewater deur domestikasie of verinheemsing nie.

Hierdie bundel kortverhale vul ʼn leemte in die Afrikaanse vertaalde werk uit Italiaans. Dit is keurig versorg en uitgegee deur Naledi. Ter wille van Afrikaanse lesers vir wie die Italiaanse skrywers nie bekend is nie, verskyn daar ʼn kort biografie van elke skrywer, asook ʼn lys van belangrikste werke.

Nini Bennett-Moll skryf só: “Om die warmte, humor, skerpsinnigheid en eindeloos-deurleefde wysheid, wat mens mis by so baie moderne kortkuns, op outentieke wyse van die brontaal in die teikentaal, Afrikaans, oor te dra, is gewis ’n fyn kuns. En daarin slaag die vertaler.”

 

Marlies Taljard

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Wat lees jy? “Douwenis” (Daniel Lötter)

2e gedagtes oor “Wat lees jy? “Van die Apennynse berge tot Sisilië”. Rina Cascione (Vert.)”

  1. Hennie Smith says:
    17 November 2026 at 16:32

    Hennie Smith gaan more boekwinkel toe om te bekom. Of is daar n ander manier?

    Reply
    1. Versindaba says:
      18 November 2026 at 09:39

      Hennie, dit behoort in die boekwinkel te wees, maar jy kan dit ook van Naledi bestel.

      Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. kapitulasie
  • Jacques Boshoff. Die hond in Desember
  • Margaret Cordier. Wes-kus Desember
  • Margaret Cordier. Tog
  • Stephan du Toit. Graaff-Reinet

Nuutste bydraes

  • Miel Vanstreels. Soms
  • AVBOB Persverklaring
  • Wat lees jy? “Van die Apennynse berge tot Sisilië”. Rina Cascione (Vert.)
  • Joan Hambidge. Joernaal van Jorik
  • Hennie Nortjé. Nog iets oor Henk Rall

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Wat lees jy? “Van die Apennynse berge tot Sisilië”. Rina Cascione (Vert.)18 November 2026

    Hennie, dit behoort in die boekwinkel te wees, maar jy kan dit ook van Naledi bestel.

  2. Hennie Smith on Wat lees jy? “Van die Apennynse berge tot Sisilië”. Rina Cascione (Vert.)17 November 2026

    Hennie Smith gaan more boekwinkel toe om te bekom. Of is daar n ander manier?

  3. Karina Nel on Karina Nel. Okerstof: Nicolaas17 November 2026

    Dankie Angie, waardeer dit baie.

  4. Karina Nel on Karina Nel. Okerstof: Nicolaas17 November 2026

    Dankie Ida, groot waardering.

  5. Karina Nel on Karina Nel. Okerstof: Nicolaas17 November 2026

    Dankie James, waardeer dit.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d