Antjie Krog, gebore 23 Oktober 1952, is ’n bekroonde digter, joernalis, filosoof en Buitengewone Professor aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy behaal in 1973 ’n BA-graad in Engels aan die Universiteit van die Vrystaat, ’n M.A. in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria in 1976 en ’n onderwys diploma aan UNISA. Krog debuteer op die jong ouderdom van 18 met die bundel Dogter van Jefta (1970). Hierna volg nog elf digbundels asook drie bundels met kinderverse uit haar pen. Haar drie niefiksiewerke, Country of my skull (1998), A change of tongue (2003) en Begging to be Black (2009) verskyn in Engels. Vir haar poësie het Krog onder andere die volgende pryse ontvang: die Eugene Marais-prys (1973), die Rapport-prys (1987), die Hertzogprys (1990), die FNB Award (2000) en die RAU-prys (2000). Mede-wete is in 2015 op die kortlys vir die toekenning van die Universiteit van Johannesburg-prys en verower in hierdie jaar die Elisabeth Eybers-prys en die ATKV-prys vir poësie. Vir haar vertaling van gedigte uit die inheemse tale, Met woorde soos met kerse (2002), ontvang Krog in 2003 sowel die Toekenning vir Voortreflike Vertaling van Poësie, as die Toekenning vir Beste Vertaler van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI) in 2003. Haar gedigte word opgeneem in talle versamelbundels, wat insluit Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Digters en digkuns, Die dye trek die dye aan, Woordpaljas, Liggaamlose taal, Goudaar, My Afrikaanse verseboek, Kraaines, Verse vir Opperman, Majesteit, die kat, Die goue vreugde, Voorspraak en Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. In 2020 word van haar gedigte in Vers en vrou opgeneem. Krog se gedigte is in Engels, Nederlands, Frans, Spaans, Duits en Italiaans vertaal. In 2009 verskyn ‘n keur uit haar werk, Digter wordende, by Human & Rousseau. Lees gerus meer oor Antjie Krog en haar werk op LitNet. |
Abecedarium vir Afrika
Aardvark Armadil Alikreukel Akkedis
Buffel Bradysourus Bokmakierie Blaasopvis
Cape Cobra Cactoblastis Camembert Codlingmot
Damaralandse Dik-dik Diederik Duif Dikkop
Eekhoring Engelvis Elsie Eland
Feniks Fiskaal Flamink Fisant
Gapermossel Giraffa Gaboenadder Gemsbok
Hartebees Hiëna Hadida Hotnotsgod
Ietermago Impala iMpevu Ibis
Jakkals Janfrederik Jagluiperd Jellievis
Klaasneus Kakelaar Kwena Korhaan
Lelietrapper Leeu Lystrosaurus Likkewaan
Muskeljaatkat Mahem Manatee Maraboe
Nagmuis Nonaap Njala Ghnoe
Ouvolk Oorbietjie Otterjasie Otterjou
Pylstert Pietjoutjou Pofadder Pou
Quagga Quil snuif op Engels aan die lot
Ratel Roerdomp Rinkhals Rot
Speg Selekant Songololo Saagvlerkswael
Tiptol Tsetsevlieg Troupand Tarentaal
Uil Ungulungu Unicorn (Kalahariduin sy huis)
Vlakvark Vlindervis Vader-langbeen Volstruis
Wildebees Waaierstert Wulk Wildehond
Xhama laat in Xhosa spore op die grond
Yellowtail Yellowfinch en Yslike Ystervark
Zambesi-haai Zambenenje Zoeloelandse kruipmol met baard
Ja alles van hier van huis en van haard
Alles wat kruip volgens suidelike kaart
Alles wat fladder, doodle of dool
Wag reikhalsend op die koms
van die Amazi-voël
(Uit: Versindaba 2009, Protea Boekhuis, 2009)
dit rammel sag
dit rammel sag. die aarde lig haar skedel.
vanuit die binnevlerk van wolke veer
die donderweer al met die stil verhemeltes
van berge langs. ‘n tiptol stip die mees
intieme plek aan in die esdoringboom –
die plek waar die stam die stilste boomwees hou.
o, roerloos wag die boom. die weerlig stroom
uit vlakke blou, die veld voel hoe haar ganse
vel oopsnou na die geur van dragte vol
geloftes. in haar hare bloei die rose.
haar laaste koelte damp vanuit haar oksels
sy knoop haar lang hart los. nog nooit was sy
so karig, so alleen, of het sy so
gesmag na reën wat net nie, nooit nie kom nie
die blikbul van lavigny
van borsspiere bult is hy uitgeput. sy lyf
van onverganklik jonkwees gedaan
sy verwende borskas sak diep tussen
sy pote in as hy die blonde koringveld
opwaarts swiep in ‘n vaag-onthoude snak
van geluk – wanneer laas is sy sjarme
metafories betas? roerloos roes sy
bal. sy lieste ril beskermend teen soet vergane
geilheid vas. wat moet word van hierdie
on-ejakulerende jagse bul? sy horing hang. sy
stert tril nog om solitêre swier maar sy lyf is
een opgehoopte dom vrag vrees … hy weet die groot
inmekaarstort kom en druk sy kwylbek vir
oulaas vrypostig tussen persblou pruime in.
(Uit: Verweerskrif, Umuzi, 2006, opgeneem in Versindaba 2006. Marlise Joubert (samesteller), Protea Boekhuis, 2006)
Klein vrede
Vanmiddag wag sy vir hom in ‘n klein hoëmuurhuisie
half toe-oog ingekruip agter ‘n straatstoepie
5.12 hang hy sy hoed aan die haak
trek sy baadjie uit en sy gooi kookwater deur die koffiesak
vee haar hande aan die geblomde voorskoot en wag darem
dat hy haar eers teen hom vasdruk, so skuinserig met die een arm
voor sy hom die dag se nusies vertel
die gat in die heining, die hond, Anna-jannie het gebel
Na ete haal sy die Bybel uit die boonste laai
en hy lees vir hulle van Israel se afgode teen die berg Sinaï
haar hande vou ‘n stopskulp in syne as sy bid:
Onse Vader wat hoog bo die aarde in die hemel sit …
Die maan rys soos ‘n koringmeelbrood bokant die dak
sy was skottelgoed met lifebuoy en ‘n omgesoomde meelsak
hy luister nuus op die treetjie by die agterdeur
oor dinge wat met ander mense in die wêreld gebeur
Later as die luggie begint trek
die windpomp klap-klap in die dam in lek
sit hy die sproeier af, maak die hoenderhokke toe
sit die kat uit en kom langsaam kamer toe.
In die na-nag as die wind uit die noorde begin
skuif die maan oor hul bed dieper die kamer in
tot op die woorde geraam in krulle:
My vrede gee Ek julle.
© Antjie Krog. (Uit: Mannin, H & R, 1975)