Breyten Breytenbach is op 16 September 1939 op Bonnievale in die Wes-Kaap gebore. In 1948 verhuis die gesin na Wellington, waar Breyten in 1957 matrikuleer aan die Hoërskool Hugenoot. Ná matriek volg Breytenbach ’n BA-kursus aan die Universiteit van Kaapstad. Hy studeer ook in die jare 1958–1959 aan die Michaelis-kunsskool. Hy vestig hom in Parys, Frankryk, waar hy as skilder bekend word. Hy is getroud met die Viëtnamese Yolande. Na sy debuut met die digbundel, Die ysterkoei moet sweet (1964) en kortvehaalbundel Katastrofes (1964), volg ’n groot aantal digbundels, prosawerke en ander geskrifte.. Hy ontvang verskeie Suid-Afrikaanse en buitelandse pryse vir sy werk , waaronder die CNA-prys vir Kouevuur (1969) en Lotus (1970) en die Lucy B. en C.W. van der Hoogt-prijs wat deur die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde toegeken word. In 2008 het Die windvanger verskyn waarvoor hy die Hertzogprys, die Universiteit van Johannesburg-prys vir Skeppende Skryfwerk, die WA Hofmeyr-prys en die Protea Poësieprys ontvang het. In 2009 het nog ’n digbundel by Human & Rouuseau verskyn, te wete Oorblyfsels/Voice over, wat ’n huldeblyk is aan Breytenbach se digtersvriend Mahmoud Darwish wat in 2010 oorlede is. Sy jongste digbundel op weg na kû verskyn in 2019. Lees gerus ’n meer uitgebreide biografie oor die digter op Litnet: |
die digters se manifes van meelewing
ons is die digters / ons gun mekaar die vryheid van denke
en verbeelding / ons kyk die een na die ander
se woordeworstelinge soos kleuters wat Noag se arkeologie
met modelleerklei boetseer / en ons
is bly elkeen oor die vrug van die ander
se hande / ons is die digters / ons het gróót
medeklinkende harte wat belangeloos
opgaan in die liefde / ons is nie jaloers
of nydig nie / ons voel nooit afgeskeep nie /
ons oordeel en veroordeel nie / ons
probeer mekaar nie bewimpel met ekkerigsotiese
kontsepte van die Empaaier nie / nóg
sal ons ‘n ander ooit vergiftig met wierook
of in die kánondonder stuur /
ons is die digters / geringskattend
as woord is te tongbeduiwelend om ooit
vars en viets in ‘n vers lê gemaak te word
en ons ken nie van liemaak of vermakerigheid nie /
ons baklei immers nie vir krummels
van die baas se tafel nie / kyk, ons loer nooit af
en aap nooit na nie / ons is die digters / ons koer
wedersydse bewondering soos vredesduiwe /
buitendien: ons weet al ons lettergrype is torinkies
van as en sandkasteeltjies in die land / en óns
brandkerse in die wind van geskiedenis / daarom
is ons monde welluidend van meelewing /
want ons is die digters / broers en susters /
so waarom sou ons mekaar ook ooit
in die oond wil steek?
© Breyten Breytenbach. Mei 2011
Klein reis: 27 Okt. – 1 Nov.
“Memory, says Borges, is very much like forgetfulness.
It comes into and fades from focus.” – Ben Tery
die dood moet soos ‘n voëltjie wees
wanneer aandlig daal om die breë vloei
van die rivier in donkerwordende goud te doop,
en die voëltjie val
en dryf in ‘n nag van sterre
*
Op die platteland in België
Het ek deur die treinvenster
Gesien hoe mooi en fleurig
Getooi ‘n begraafplaas is.
Asof dit liefdevol soos
‘n Groentetuin bewerk word.
En waarom sou vleesakkers
Nie groentetuine en blomtuine
Wees nie? Die behoefte
Aan voedsel en aan skoonheid
Word al hoe groter
En die messtof en toegewyde
Aandag is dáár.
*
plant bome, struike, dié wat vinnig groei
om die grond waar ons asse en ander weggooi
begrawe lê die skyn van vastigheid te gee
ons gly so maklik weg in die vergetelheid
maak die paaie wyer as dit moet
dis goed dat mense op en neer kan loop
maar bou ‘n heining of span ‘n draad
óm daardie walle waar ons beendere
soms glinsterend uit die aardkors breek
sodat verbygangers na die toekoms
nie hulle voete sal sny met sterfskerwe nie
trek vir hulle spoggerige klere aan
geel baadjies, onderrokke met kant
om die naaktheid te bedek
terwyl hulle hier op en neer loop
asof niks ooit gebeur het nie
en alles vir altyd aan sal hou
*
Europese stede
vogtige keie
lug ‘n somber poep
en die dwarrelende blare
is die goud van vertederde gisters
*
Nederland, 2010
ou moffies met kaal hoofde
suwwe daggaverslaafdes
se oë is wyd van vervolgers sien
keurige jong fasciste
met gekapselde haardosse
serieus
en onmiddellik dekadent
*
I slept in the shadow of White Mountain
but around the high temples of the mountaintop
above the silvery bonnet of eternal snow
I could see wreaths of light shivering
this big this untouchable this white
this high my knowing will never reach
and through my fingers I tried to count
the prayer beads of scintillating stars
to liptaste your name once again
to capture as light raindrops your name
on my bitter tongue to plant your name
like an idol in the ground of my dreams
a god to bless my further journeys
for in calling your name blind on the way
with the blood of your name in the mouth
I crawl up ever steeper whitenesses of you
Die ou digter en die jong digter sit aan tafel, flets lig val oor die donker blad. Pura, die Meksikaanse vrou wat nou byna opgevreet is deur kanker, sy’s so petiet soos ‘n verhongerde mossie, net haar oë gloei nog groot van tussen die versreëls kyk in die dood, haar laaste opdrag is om vir haar seun wat ‘n baritonsanger is ‘n reeks lieder te skryf, het vir die ou digter vertel hierdie jongeling se totale doofheid kom van pampoentjies wat hy op sewejarige ouderdom gehad het. Die ou digter sukkel om die jong digter se uitspraak uit te maak. Hulle speel ‘n spel van name, van tye en getye en tradisies en klank gedra deur eeue se gedigte. Hóór die jong digter enigiets? Die name word geskommel en met skreefogies beloer, word triomfantlik soos wenkaarte op die bladspieël uitgepak.
“Wie is jou geliefde skrywers?”
“Vallejo. Lorca. Szymborska. Mandelstam. Du Fu…”
Elke naam bring ‘n snoer van verdere name.
“Ek gee vir jou twee Russe in ruil vir jou Chinees…”
“Wie is die digters wat jou aan die skryf sit?”
“Ha-ha-ha. Kavafi. Tsvetajewa. Celan…”
“Vertaal jy self jou verse vanuit Russies na Engels?” vra die ou digter.
“Emily Dickens het deurmekaar geraak met die grammatika, sy kon nie alles in die reëls insper nie,” antwoord die jong digter.
“Hou jy van Ritsos en Montale se werk?” vra die ou digter.
“Dis dalk waar,” antwoord die jong digter. “Maar Borges se verse werk goed in Russies, juis omdat dit so donker is.”
“Ken jy die werk van Lucebert?”
Sy donker oë is op die ou digter se lippe gevestig asof hy nog nooit ‘n mond van naderby gesien het nie.
“Ek kom van Odessa. Dis Babel se wêreld. Ek moet alles vóél.”
Is daar enigiets wat die jong digter kan hoor behalwe gedigte?
Toe die strate glimmend nat is buite in die donker nag lees Ilja Kaminski sy versreeks, “Dowe Republiek”, voor in die barok teatertjie La Bonbonnière waar blou en pienk verf afdop van die lyste se krulle. Eers het Elfi Sverdrup haar vreemde klankkonstruksies soos klonte voorgedra, die brullende opbreek van winde met asem soos ‘n duiwel se vloeke uit haar derms en buik totdat dit vasslaan teen die verhemelte. Een so ‘n knorknaag in die keelvel kom as dialoog van Inuït vroue wat met diep asemontploffings wedywer teen mekaar en die wat eerste lag verloor. Daarna lees Michael Krüger die brief wat God in die hemel vir Marx geskryf het, om te vra hoe dit gaan en waarmee hy hom deesdae besig hou. Marx hou nie van Bach nie.
En nou is dit die groot, lomp, dowe jong Ilja se beurt. Hy buig sy aansienlike bo-lyf in die losse trui oor die mikrofoon, haal sy bril af en bring die bladsye tot dig aan sy oë. En begin skandeer. “Hy praat nie soos ‘n dowe nie,” sê Pura. “Hy verwoord doofheid.” Aan die begin kan mens nie uitmaak of hy in Russies of Engels lees nie. Sy stem klim soos dié van ‘n wenende wolf. En tjank. So het Brodski ook gelees. Dit moet ‘n bepaalde Russiese ekstase wees. Vroeër die dag het hy gesê Brodski se raad was dat indien jy in die Empire lewe dit ver van die hoofstad moet wees, by die see.
Terwyl haar man slaap, vertel Sonja ‘n storie
… reg in die pad van die aankomende trein
naai ‘n vrou en ‘n man in die sneeu.
Oorweeg dit, my siel, hierdie tekstuur van koppigheid en wees stil:
terwyl sy sak en styg bo hom in die lug,
begeer hy haar en hy begeer haar nie, hy wil haar hê
met die belofte van daardie volheid.
Oorweeg hierdie aankomende trein
waarin die kondukteur fluit, die klok lui en skree
asof hy weier om te glo hulle is doof
Oorweeg, my siel, die doofheid
en die man, sy aardse voertuig.
Die trein hou stil, die kondukteur fluister
Mag julle die lotery wen en dit alles uitgee op dokters!
Die vrou trek haar jas reg, en lag –
“Een van ons moes eerste stop, meneer. Ek kon nie.”
*
Met die skielike koue vlamme van herfs begin gesels die bome teen die beboste heuwels met mekaar. Daar is so te sê ‘n knettering vurige herinneringe. Spatsels woede ook. En baie berou aan liefde.
Voor die stomtyd.
*
gister was ek ‘n Joegoslaaf
vandag is ek ‘n Belg
môre is ek ‘n engel in die hemel
één van onder tot bo
*
bo die slaapslangrivier
tussen geel en rooi bome
uitgeputte mynhope
soos piramidegrafte vir die armes
geen swart vlees
meer gepeul ondergronds, net
skagte hol aanwesigheid
ook in dorpies is skoorstene dood
*
die digtersfees
kyk na die digters
hulle kom uit verskeurde lande
met kole in die oë
en neergestuifde skilfers op kraag
en mou, sommige het vlae
van betrokkenheid geviervou
tot die inperking en samevatting
van ‘n teks in ‘n skraal bundel
wat hulle onder kalklig vanaf ‘n kateder sal mompel
vir ‘n yl gehoor wat niks verstaan nie
kyk hoe hulle in lomp danspassies
al sirkelende mekaar probeer bekoor
hoe hulle in romantiese verblinding
soek na die verleiding van die ander se lyf
hoe morsig en kortstondig eensaam
is die liefde
luister hoe hulle luister na mekaar
se voorlesing uit verse
asof dit die belangrikste nagnuus is
wat môre vroeg fladderend
sal wegvlermuis tot niks
slaap piekanienie die vee’s in die kraal
kyk hoe vergas hulle mekaar
met gefatsoeneerde klankdrolle,
‘n familietwis, ontroue bemindes,
vergete vaders, ‘n grepie onderdrukking,
die versugting na stilte in die grond
kyk hoe drink die digters
die drank wat ander betaal
observeer die skeefgetrapte skoene
die liprooisel wat bysiende aangeverf is
hoe hulle op die toilet die blokkiesraaisel
probeer invul van die koerant
wat gratis voor die hotelkamerdeur gelos is
kyk hoe onthou die digters die name
van dese en gene wat laasjaar
nog hier was gekruk op ‘n kierie
of laatnag besope en natgepis in ‘n gang
kyk hoe belangrik is die digters
elk voor eie spieël
wanneer die gloeilampie swak is
kyk hoe dun is hulle beursies
kyk hoe vernaam neem hulle afskeid
om te verdwyn in ‘n reële wêreld
onsigbaar soos bedelaars
met geheime opdragte
wie se stemme nie gehoor word nie
*
paraprosdokian – a phrase or a sentence that leads us down a garden path to an unexpected ending
© Breyten Breytenbach. November 2010
Die duiwe op die sinkdak
Die duiwe op die sinkdak
van die Flamboyant Hotel in Ziguinchor
wat so ritsel en koer nog voor die dag
brander oor apebroodboom en breë rivier
is dieselfde as dié van ’n honderd gedigte gelede
op die sinkdak van Paradys in Montagu
wanneer ’n opkomson oor bergspitse tuimel
en die blare roer. Hulle trippel met eenderse
tjierp-tjierp skraapgeluide, hulle kantel eweneens
die koppies skuins om nuuskierig sku op my
af te kyk waar ek gehurk in die skemerige binnehof wag
op die berig. Oor die donker verlede van honderd nagte
het hulle gevlieg om met vlambelope ogies iets te kom sê.
Maar hoe het hulle geweet waar om my te kry?
op die buitenste grens
op die buitenste grens van die dag berge sneeu
soos brandstapels rokende roospetale, en in die nag
die maan onder ’n kors van sterre
’n halwe gesig wat donker ontbinding oorleef het
wanneer die bosvark die wintertuin omdolwe
op soek na bolle en die eerste tulp soos kleur geskulp
uit die grond kraak, wanneer die seisoen wentel
en die voël se skaduwee soos ’n hond se gedagte
haas oor die pad – dan mondmaak mens woorde
as ’n net om die son mee te vang en mondmak te maak:
hierdie vaandels op straat van ’n vreemde oord
as neerslag van wind, verslae en versvlae vir die engel
wat alles weet en nooit die weë van die mens bewandel:
’n lykgewaad bevlek met die wonder van wonde
(Uit: Versindaba 2009, Protea Boekhuis, 2009)
paginamagina
(verjaardagaantekening as ode aan Ampie Coetzee)
Ouboet, ek sit my beste gesig op
om hierdie gedig vir jou te skrywe
want jy, liewe maatjie, word ‘n fris sewentig
(let daarop hoe spoor die rym na gewig)
en wanneer lig en lied ons laat staan
en ons skeef gaan lê met die stil kreet
van protesvreugde in die hart
is ons wat jonk is van dae en nagte
(meesal omdat ons die tyd se gewrigte vergeet het)
dit aan ons weggaan verskuldig
om mekaar van die wal in die sloot te help
en so die koei van verbeelding in die put te versuip
en omdat ek lief vir jou is
kom: ons drink die wyn en eet die brood
en tjoeftjaf is ons albei dood
na hoeveel plafonne het ons gestaar oor die jare
hoeveel bleek bergspitse hoeveel swerms voëls
soos wegvlieglyne aasvreterwoorde wat soek om vers te word
hoeveel verkleurmannietjies in die heining?
Ouboet, indien ons die almanak van dae
op hierdie aarde kon onthou
wat sou in tekens behoue bly?
sekerlik die wind as die kind se hand
wat versinde bergtoppe aai
en ’n kraai soos ’n oogknip van verganklikheid
die sneeu so ’n koue asem tussen bome
die nat as van laatsomernagte
die teer binneboudsvlees van die vrou
en dan van watter sin sou die letterspoeling wees
wanneer die hand van die kind
blind opgemaakte bergtoppe aai
en kraai die boomkruine kraak
soos ’n dooie skarnier tussen lewe en grond?
mik niks
maar wag stadig
kom ons drink die wyn en eet die brood
tjoeftjaf is ons albei dood
baie is aan ons gegee
voëlsang die maan
bo die nag se soom verse van Oom Wyk en Opperman
wors by die slagter en beskuit uit die oond
en af en toe ’n slukkie wyn in vergoeding vir voorbeeldigheid
op die dansbaan met die hemp oopgeslaan
oor die baadjiekraag het ons skaars ’n voet verkeerd gesit
met brylcreem in die hare was ons blink van boekgeleerdheid
kombuiskennis katelvaardigheid bekvernuf
hoe heerliker die passies van drank en idealisme
hoe meer kak het ons gepraat
en baie het ons weggegooi
ou baadjies en baaisiekels
dooie katte en historiese aandadigheid
en die gekyf en gekekkel van hulle
wat o so cool as tweetaaljakkalse
(maar ene gat)
op awesome agterente skuiwe
ons het die tafel vir mekaar gedek
met lig-gestyselde servette en glase vol son
op genadige dae ook ’n vleisie daarby
en deur die ruite gesien hoe bewe
die lewe in woordblare buite
hoe vlies binnelandswolke bo die spits
en die stof en muisdrolletjes nie raakgesien
die skaduwees in hoeke van kamers nie gewaar
onder beddens waar voorsterwers die tyd vasgelê het
op voorgestoeltes het ons gesit
en in agterbanke
en soms in die deur gestaan
vir aankoms of vertrek
of sommer om ’n ogie in die seil te hou
vir die bakleiery op straat
en gereis
of dan getrewwel
om op vreemde kuste uit te waggel
lotuseters en boknaaiers papierswape
en skeefskutters en perskediewe
in dese en gene wéét ons
hoé om op ’n stoep te sit onder ’n bloeisel
vuurspuwende naghemel
niks is uiteindelik ons s’n nie
en nêrens is ons tuis
want as die maan ’n misverstand is
is die son immers verstand
en daar is hoeka geen grond om op te staan
behalwe in dit wat verby is
droom is nagskrywe
wanneer die lyf
in ondergrondse riviere
van melancholie dryf
en die beelderyk ’n sintuig word
(maar ons eet die brood en drink die wyn
want tjoeftjaf gaan ons albei verdwyn)
ons oudstryders van ’n patetiese droom
gebleikte Afrikane
(in Tanzanië word albinos opgekerf vir muti)
moedswillig en moeg en stompsinnig gestruggle vir ‘n taal
wat eens geweet het van koekemakrankas en liewenheersbesies
om nou weg te syfer soos die water
wat mens in ’n sif aandra vir die donkie
wat klippers vreet in die Karoo
met woorde het ons skanse teen die smet van dood probeer bou
en toe het bevryding die land oorspoel
totdat ons krom soos brandsiek brakke
vir ons eie skaduwee moes loop koggel
natuurlik het ons kennis van alles geneem
en toe weer vergeet en die sin van ons wees
op die wêreld
het ’n duistere onsin geword
vir die skape van ons kennis
het ons ou stomp broodmesse in ruil gekry
want die lewe skil mens soos ’n ui
totdat daar niks oorbly
behalwe ’n waterigheid in die oog
kyk ons sal die kadawers van ons wysheid
oorlaat aan die alleswetendheid van wurms
en met die een goeie oog ’n laaste keer korrel
deur die trapdeur se sleutelgat
af in die kelder van ewigheid
maar fok hulle né Ouboet
die ou en die nuwe kapitaliste
vernaam gepoephol in hulle stralers en Mercedesse
die voorbankers en die kripvrate
die rassiste van weleer die huigelaars en die heiliges
en die werfbobbejane en die gatgabbas
die polisie en veral die veiligheidspolisie
(fok hulle)
en die bevryders met die botox gewetens
en dié wat anonieme briewe skrywe
fok die politici
fok baie spesiaal die staat
ek haal my bril af
maak die notaboek oop
sal ek geboordjie en gedas
pampoenwense vir jou skryf op papier?
nee! jy ken tog die metafoor
as stoorkamer van toor en van goël
waar die engel soos ’n voël wat wil nes bou
die wurms van betekenisvertering opgaar
’n wieg van oogverblindende sterrereise
teen die hemel se dak wanneer die nag so stil is
dat jy die donker kan hoor knetter
die oorstelpende wolkestapeling
waarvan ons woordstopseltjes maak
om die skoonheid te rook
totdat ons gedagtes soos voëlvlug vervaag
die berg se blou deining
die bome van kremetart tot flambojant
tot bloekom verby hoekom
(vinke wat fokol weet van die vergaanvolk
los visitekaartjes op die vensterbank
en vee hulle vere af aan die vat-so
sonder om ’n ooglid te verroer)
mens skryf gedigte
sodat die woorde
met mekaar kan praat
wie sê die ark is ’n wrak?
wie gee voor Noag was ’n vark
in Palestina te gesuip om te hoor
hoe swaar dra die brak waters
aan die vrag verdronktes
toe dit nog nat soos nag was oor die aarde?
og og dis tog net strontstories by die trog
hulde hulde
vrot van skulde
skilpaddop is eerliker
die lewe is ’n tweede vrou, Ouboet
jy ontdek haar eers later
raak tot oor jou ore verstrik in haar sjarme
jy dra vir haar soetkoek aan
skarlaken lak vir haar toonnaels
’n kettinkie van Koptiese goud
om haar middel in geheime te lyf
maar in die nag voel jy soms
haar trane teen jou beaarde hand
kom agter sy begin staar na haar gesig in winkelglas
dat sy ’n geheue dra aan parfuum wat jy nie ken nie
en wanneer jy na ’n wêreldreis
voor dooiemansdeur te staan klop
wéét jy sy het lankal ’n ander minnaar
Ouboet, solank ek nog die een woord
agter die ander kan pas
en jy nog voldoende die aanlas-las
van lees kan bemeester
ter wille van ontlasting
sal ons onthou
om die rug teen die wind te keer
want ons het geen ander keuse
as om te maak met oog en hand
dankbaar om soos die slang
nog net beweging te wees
grawe jy solank die kortpad oop
en ek sal al agter jou loop
want ons drink die wyn en eet die brood
en tjoeftjaf is ons albei dood
maar intussen maak ek staan
as enigste klip bo die gat van die maan
hierdie glasie steen
en kyk hoe span die skip haar seile!
vryheid broer vryheid!
26 Junie 2009
© Breyten Breytenbach. Julie 2009
Belydenis
ek het nog nooit ’n vliegtuig geloods
al vlieg ek gereeld die wêreld vol,
ek het wel vir die skuifstonde van ’n wolk
in die buik van ’n skip oor die ewenaar gedobber
maar was nooit die matroos
wat teen takelwerk uitklouter
om die son aan te sien vir ’n vasteland nie
Sophia Loren het eens ’n bak dampende pasta
vir my gekook
met olie soos deursigtige semen besprinkel
en haar borste was bleek soos swanger ooie sonder wol
maar ek het nie met haar gevry nie
ek het nooit voor die volk gestaan
om die koers deur die woestyn aan te dui
met ’n staf wat bewe van woede en wraak nie
al het ek ook waarskuwings onder my tong gestotter
totdat my kiesvleise flenters was van bitter woorde kou
ek het nooit ’n huis-op-die-see met tien slaapkamers
en ’n swembad vir naakte gaste besit nie
maar wel ’n dakkamer in Parys met muise en motte
en die neersif van jare se fyn swart besoedeling
ek het hoog en laag probeer preek
teen armoede en onreg
maar op die ou einde was ook dit
slegs selfbevlekkende romantisme
en niemand wou aanvaar ek is ’n Afrikaan nie
die olifant vir wie ek in die sirkus gewuif het
het my tien jaar later nie meer herken nie
alhoewel ’n man die vrou se buik in kan gaan
om daar te snoetel en snotter soos ’n vark in ’n trog
sal hy nooit die vrou se verstand kan penetreer nie
en buitenste duisternis sal hom verblind
ek het God nooit geken
die hemelse vaandels nie sien wapper op die wind
nog enige van sy of haar klone
al het ek op my tone op die tafel mog kyk
na die dolosse en die repe vlees van kadawers
my verstand het versand in begrippe van orde
en niks het uiteindelik sin gemaak
en daar was geen verskil tussen bo en onder nie
en die blêrende skaap buite het vir fokol gevrek
ek was ’n soepel singende stryder
om die horison binne te haal:
in die spieël staan en buikpronk ’n lelike mens nou
ek het gedog ek sou die jeugdiges se hart
met sang en vervoering om kon praat
maar my enkele lesers is ou wrakke
wat met week en stywe oog
die losgetorringde voering van my betoog
my toga van klagte
tussen vers en kapittel kwytraak
ek het probeer
ek het hard probeer
om ’n groot gedig te skryf
en soms darem dit opgebring
wat in die plek daarvan kon staan
o liewe roubetonende biegleser:
die reisiger van my aard en kondisie
het baie maniere om kak aan te jaag
maar die grootste strontspul van alles
is om op pad huis toe te sterwe
Uit: My ousie is ’n blom , Charl-Pierre Naudé [samesteller], Snail Press.
Lees ook hierdie gedig: Klein reis as stippelkoei van ‘n jaar…