
Caren Kearley is in Januarie 1974 gebore en het in Namibië grootgeword en in die Swartland wortel geskiet, waar sy tans in Riebeek-Kasteel as eiendomspesialis werk. Ná matriek by La Rochelle Hoër Meisieskool in die Paarl het sy eers die wêreld (en haarself) gaan ontdek.
Kearley sien haarself as ’n gebore digter. “Ek het maar net aanvaar dat as ek dit so maklik kan doen, kan ander dit sekerlik ook doen. Ek het eers op ’n baie laat ouderdom besef hoe ’n spesiale talent dit is.”
Haar eerste publikasie was op veertienjarige ouderdom in Hoërskool Namakwaland se jaarblad. Sedertdien is haar werk opgeneem in verskeie versamelbundels saam met ander digters, asook op Avbob se poësie webblad. Kearley se debuutbundel, Dawerende stiltes (Turksvy, 2025), is ’n versameling van haar persoonlikste en sterkste gedigte wat sy oor die afgelope nege jaar geskryf het. Die mees onlangse publikasie is in die versamelbundel Merang (Naledi) wat in 2025 gepubliseer is.
“Wanneer ek nie eiendomme verkoop nie, reis ek rond en versamel stories … merkwaardige mense en oomblikke wat vra om oor gedig te word. Ek glo poësie is ’n leefwyse —’n manier om die wêreld sagter, skerper en sinvoller te maak sonder om al die vrae te beantwoord.”

Dawerende stiltes
Sy het gewag vir ’n teken
iets soos ’n bos wat brand
of water wat in wyn verander
maar niks het gebeur nie
behalwe dat stiltes
reg rondom haar begin blom het
soos bougainvilleas
tussen swart populiere
en verwinterde wingerdstokke
sy het só verlig gevoel
dat sy hierdie mooi van niks
kon vasgryp
en daarmee kon dans
asof môre geen einde ken nie
later het sy met skuim om haar mond
voor die spieël gestaan
haar kaaimanslag oor die stiltes geslinger
die afstand tussen vis en mens verwens
haar hande saamgevou en
’n letsel gemaak op haar laaste gebed
want swyg stuur geen tekens nie.
Namibnes
Nes vir my ‘n bietjie vrede in jou hart
‘n rusplek wat my kan skans
teen gister se omwaaiwind
‘n plek soos in die holte van jou arm
waar buitestaan ‘n binneding word
sing vir my met jou soet stem
en woorde sonder taal
in die vroeë oggendure:
“Goeiemôre my sonskyn,
goeiemôre my kind”
of nes my sommer net toe in jou hart
in sagte ewigsoene vol donsies
wikkel my styf teen jou rug vas
sodat ek nie weer sal uitval
elke keer as ek omdraai nie
want ek het gesien hoe lig weg kan kwyn
en oggend dou verdamp uit ‘n Sandhof-lelie
ek ken ook die voetpad vanaf Sonop tot in Mariental
en ‘n halfhart wat kierie-loop
tussen die kalkklip
saam met korhaan en koringkrieke
ja, bou vir my ‘n versamelnes
in die hoogste takke van jou bestaan
Heildronk op die lewe
(Avbob 2024 plasing)
Ek kon nog nooit verstaan het hoekom party mense
op ’n sekere tyd nie meer deel van jou lewe kan wees nie
sommiges is soos reënboë wat vlugtig verskyn en
net so stil weer verdwyn
ander bly dalk ‘n bietjie langer, saam met ’n seisoen of ’n gety,
maar maak nie saak hoe styf jy hulle wil vashou
of hoe lief jy vir hulle is nie,
hulle gaan ook weg en los net ’n groot gat in jou lewe
dan is daar dié wat lang paaie saam met jou gaan stap
nagte om saam met jou gaan filosofeer, lag, huil of worry
maar jy gaan hulle ook een of ander tyd moet laat gaan
tyd is ’n dief – het iemand gisteraand aan tafel gesê
ek het haar glas weer vol rooiwyn geskink
’n heildronk gedrink op die goeie tye wat ons al saam gehad het
uitbundig gelag – ja my sus, God vergeet partykeer van sy eie reëls
maar mense verloor is nie die ergste nie, vergeet is erger – meer finaal,
as die dood, wat ons maar net tydelik skei.
© Caren Kearley/2025
Efemeer
die wentelende storm
sif sand soos ’n uurglas
teen die horison van ’n rooisandduin af
waar tyd hier met versugting vervaag
net warm mirages
efemeer soos asem teen ‘n ruit
wat jou die verte in lei
met kronkelpaaie van grond en wind
wat sonder belofte aanhou strek
jy ry die vlaktes in
laat sak die ruit om die wind teen jou vel te voel
daar’s geen bord of baken nie
net die pad wat jou eerder vra as wys
en jy ry aan, en aan, en aan
luister hoe klippe teen jou bande spat
tot die aand oopvou
soos ’n troosmantel oor jou skouers
en die nag jou met woestynsterre verlei
soos gode wat oor jou waak
en voor jy weet
bring skemer nog ’n dagbreek
en daar, op die rand van niks
bly net ’n skim van hoop
selfs ’n majestueuse skuif van landskappe
beteken maar min hier, dink jy ook
die son keer terug met hitte en skadus
om die eindelose duine weer op te kerf.
© Caren Kearley/2026
