![]() Johann de Lange is op 22 Desember 1959 in Pretoria gebore. Hy debuteer in 1982 met die digbundel Akwarelle van die dors waarvoor hy in 1983 die Ingrid Jonker-prys ontvang. Daarop volg Waterwoestyn (1984), Snel grys fantoom (1986) en Wordende naak (1988) waarvoor hy die Rapportprys vir Poësie ontvang. Daarna volg nog verskeie bundels. In 2020 verskyn sy vyftiende bundel genaamd Duimnaelsketse. In 1997 stel hy Soort soek soort saam, ’n bundel gay kortverhale uit die laaste honderd jaar, en saam met Antjie Krog in 1998 ’n bloemlesing erotiese poësie, getiteld Die dye trek die dye aan. De Lange ontvang die Pankratorprys in ’n internasionale poësiekompetisie van UNESCO vir sy gedig “Skerpskutter” en ’n Avanti-toekenning vir sy draaiboek oor die lewe van Ingrid Jonker (“Verdrinkte hande”). Sy vertalings van Afrikaanse gedigte verskyn in verskeie publikasies, onder meer in The heart in exile: South African poetry in English 1990–1995 (1996) en The lava of this land: South African Poetry 1960–1996 (1997). Vertalings van Wilma Stockenström se gedigte verskyn in 2007 as The wisdom of water. Lees gerus ’n meer indiepte biografie oor die digter op Litnet: |
Gedigte is op versoek van Johann de Lange verwyder. – Red.
Klaaglied vir Ralph (1960–2002)
Al wat oorbly, is ek en jy
as die aarde tuimel & die res verdwyn.
Johannes Kerkorrel
I
Die wattel is ’n dors boom
die wattel is ’n nors boom
& sy wortels grawe diep
die wattel is ’n vreemdeling
nie my of jou se tiep
Die wattel is ’n skuilboom
die wattel is ’n huilboom
hy bly voortdurend dors
’n wattel is die vreemdeling
wat platsak uit ons drome dros
II
Vry na Ingrid Jonker
Ek het gehoor, Dinsdagnag, jy is dood.
Hoe daag die anderkant
wat jy besing het,
hoe daag die verskriklike uur,
hoe raak die bos stil, die klein geveerdes
wat jy bemin het, hoe val
die geel bloeisels van die wattel,
hoe gaan die dag oor die berge
huis toe, hoe lui die windklok
van die sterre. Die voetpaadjies
van Botrivier & Kleinmond
dra swaar aan jou voetval:
was daar sonlig op jou hande,
was daar bloed?
Ek het gehoor, verlede nag, jy is dood,
& sien jou weer sit
op my rusbank
in jeans & ’n swart t-shirt
’n joint & rol met rustige vingers,
met oë wat die droefheid van die wêreld drink.
Ek het gedroom daar’s ’n einde aan die blou lug
& akkoorde sterf weg.
Daar’s ’n einde, & die einders los op
soos ’n far-out acid trip,
daar’s ’n einde waar alles vibreer
anderkant woorde, waar ons kwantumflikkers is,
niks meer. Daar’s ’n einde
en die einde het jou ontroof
van alles wat jou getraak het,
van alles waarin jy wou glo,
tot jy oplaas net ’n laaste rooi vloed
voel klop het agter geslote oë.
Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008