![]() Julian de Wette is op 26 Junie 1951 in Kaapstad gebore. Hy studeer aan die Sarah Lawrence College in die VSA, New York, waar hy ’n B.A.-graad behaal met Engels, Duits, Ekonomie en Internasionale Betrekkinge as vakke. Hy was byna 30 jaar lank in die buiteland voordat hy weer na Suid-Afrika teruggekeer het. Sedertdien is hy op Napier in die Overberg woonagtig. Tydens sy verblyf in die buiteland het hy sy studies afgehandel en was hy in diens van die Verendigde Nasies in onder andere New York, Windhoek, Londen, en Bonn. Sy eerste digbundel, Koning in die buiteland, is in 1977 uitgegee. In 1980 volg Verban: Verbinne en in 2002 Tussen duine gebore. In 2010 verskyn sy roman A case of knives. Van sy gedigte word opgeneem in versamelbundels soos Groot verseboek en Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte en dit word ook in Nederlandse en Belgiese bloemlesings opgeneem. Hy skryf ook gedigte in Engels en deur die jare verskyn dit in tydskrifte soos New Contrast, Poetry Australia en Observations in New York, terwyl dit ook in die bloemlesing Somehow we survive in New York gepubliseer word.
|
Op Viljoenshof se stukkie rivier
Kyk hoe die visarend skielik die waters roer
‘n traerige in haar kloue gryp
uitreis bo die Breërivier
oor ‘n kwiksilwerding kom seëvier.
Meteens lê die troebel water weer stil –
fyn kreukels platgestryk –
verskerp deur die son lui die voël se gil.
Skaam is sy – selde kom die visarend weer
na waar die oog dit wil sien, waar die hart dit begeer.
Voordat ek die reuk van vis kan kry
verbeel ek my glad hoe die visarend vlie
van bo oor die wingerd tot digby die see
na die nes van takkies met mis vasgewerk
waar sy die angs op ‘n krans balanseer
haar arendjie voed vir die soveelste keer.
Uit: Versindaba 2006, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2005