Koos Kombuis (André le Roux du Toit) is op 5 November 1954 in Kaapstad gebore. Sy familie trek gedurende sy kinder- en skooljare baie rond, maar vestig uiteindelik in Stellenbosch. Taal was nog altyd vir Kombuis iets wat hom na aan die hart gelê het. Hy leer lees op ’n baie vroeë ouderdom en tik reeds van kleins af romans op sy pa se tikmasjien. In die vroeë tagtigs skryf hy vir twee jaar op vryskutbasis vir Huisgenoot kortverhale. Hy publiseer ’n hele paar romans, kortverhale en gedigte onder die skrywersnaam André Letoit. In die laat 80’s verskyn sy eerste CD, Ver van die ou Kalahari, by Shifty Records en word dadelik deur die sensuurraad verban. Koos se musiek word verder as protesmusiek gebrandmerk deurdat hy in 1986 deelneem aan die Voëlvry Toer saam met ander bekende musikante soos Johannes Kerkorrel en Bernoldus Niemand. In 1994 behaal sy CD Elke Boemelaar se Droom kommersiële sukses en vestig Kombuis hom in die Afrikaanse musiekbedryf. Hy sien homself egter eerder as skrywer as musikant. In 2003 verskyn sy derde roman Hotel Atlantis, gevolg deur The Secret Diary of God (2003) en Raka die Roman (2005). In 2013 vertaal en verwerk Kombuis die I Ching in Afrikaans (i-Tjieng, ‘n GPS vir Verdwaalde Siele) en in 2018 verskyn die roman Blasjan en die Blou Kitaar . Behalwe vir romans verskyn daar ook talle kortverhaalbundels (My Mamma is ‘n Taal (2001), Afrikaans my darling (2003), Die Reuk van Koffie (2011)) en memoirs (Seks & drugs & boeremusiek – die memoires van ‘n volksverraaier), om maar ‘n paar te noem, uit sy pen. Sy eerste digbundel, Suburbia, verskyn reeds in 1982 en word gevolg deur vier ander oor die volgende dekade of twee. Vandag wil ek my blou skoene dra is Koos se eerste gedrukte digbundel in meer as twintig jaar. |
vandag wil ek my blou skoene dra
vandag wil ek my blou skoene dra.
want vandag is ’n blou dag,
blou soos die half-
edelgesteente van die oggendlig,
blou soos saffiere.
blou.
.
vandag wil ek my blou hemp dra.
vandag wil ek blou
deur die lewe loop
soos ’n briesie deur ’n wasgoedlyn,
gewigloos
en geurig.
blond en blou.
blosend, bronstig,
diepblou
soos die aand wat stadig aankom.
.
vandag wil ek vaar soos ’n skip
oor blou deinings,
wieg soos die meeue in die wind,
woel soos ballonne
wat vrygelaat is by ’n kinderpartytjie,
soel en soepel en swewig en snoesig
soos die oggenddou,
soos die briewe
van my
aan jou.
.
soos die smarterige jare wat van my afval
ou bloedpleisters weg in die grou
van al my christelike gisters.
groet daardie dae,
want hulle is
vir altyd verby.
.
hulle is ingesluk.
verby is al die rou.
ja, hulle is ingesluk
vandag
.
en nou proe alles
soos die soene
van ’n waterdraer-vrou.
.
aquarius.
libido.
net blou.
.
so lief
is ek vandag
vir jou.
© Koos Kombuis / 2018