Louise Boshoff (Prinsen) is in Groblersdal gebore. Sy gaan skool op Menlopark Laer- en Hoërskool en Verwoerdburg Hoërskool. Sy studeer by UP en Kovsies.
Louise skryf gedigte vandat sy 16 jaar oud is. In matriek wen sy Die Transvaalse Onderwysvereniging se prys vir Poësie en Prosa. Sy wen ook ’n digkompetisie op universiteit. Sy publiseer Handlandskap in 1988 en Witpad in 1999 self, nadat Elize Botha en Ian Raper haar aanmoedig daartoe. Witpad word by kunsgallerye, Protea Boekwinkel en deur Louise self by KKNK, op die sypaadjie, verkwansel. Verder word haar gedigte opgeneem in Groot Verseboek, Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte, As die Son Kon Oogknip en word ’n gedig – “Die man wat ek liefhet” – getoonset en gesing deur Koba Wicomb. Die CD heet: êrens is jy. Daar is ook gedigte op ’n CD wat Ian Ryper opgeneem het – Klinkspringer. ’n Gedig oor rotskuns dien as die leitmotief van ’n toneelstuk by die Woordfees.
In 2022 verskyn haar bundel Handspoor by Naledi.
’n Kortverhaal is opgeneem in Amfiteater, saamgestel deur Piet Roodt. Hy was ’n belangrike mentor vir haar. Fanie Olivier is ook ’n lankbekende mentor. Sy skryf sewe artikels vir ’n toep op aanvraag van die ontwikkellaar. Die artikels handel oor swangerskap en ouerskap. Sy het ook aanlyn ’n artikel oor humor en Covid-19 by Therapy Route gepubliseer. Sy werk tans aan kinderverhale.
Louise is ’n sielkundige van beroep. Sy het in 2002 haar PhD in Kinder en Ontwikkeling Sielkunde voltooi en werk meestal met adolossente. Hulle geite en humorsin hou haar jonk en verwonderd. Sy werk ook met angs en Logoterapeutiese insigte. Aangesien sy al lank getroud is met Louis Prinsen en haar beroep vir 40 jaar beoefen, het sy wysheid en insig en gewone boereraat verkry om met haar kliënte te deel.
Louise is betrokke by ’n diggroep, maak kleipotte en speel lawaaierig saksofoon.
Istanboel
Saans dans ligte in die arms
van die donker waters,
saffier, granaat, smarag wieg
en blink en kaats siersels
op die Bospherus se bors.
Die nagte ruik na hoekarook,
ryp appesl en kaneel,
elke dis smaak na kardamon en neut,
heuning en donker dadelstroop.
Moskee’s hou bolwang asem op,
uit elke minaret word verklaar:
God is werklik groot –
en groots sit babba Isha op Maria
se skoot, hul samesyn innig vas
gemessel in koepelmosaieke
van die Hagia Sophia.
God is groot in Istanboel;
daar buig profeet, vasteland en see
knie voor sy lig.
© Louise Boshoff, 2022
Van Grafte en Kruise
Ver weg van die koepels en die katedrale
van Rome, ver van die Pous
in sy fluwele en robyn juwele
is die sendingstasie in Afrika-veld gebou;
‘n kapel vir Mmapula bewaar nog steeds
Maria, waar sy gehul in vuilwit
sementkleed noorde toe tuur,
gipsblomme aan haar voete
asbleek verweer.
In swaar swarthout
skooldeure wat dig
agter slot en grendel staan
kerf Setswana bybelverse:
“Tlaang bana ba nna lohle ba la lapiieng
ba la meliwang;nna ke tla la lapolosa”-
hier is rus vir almal wat vermoeid
en belas is, hier is lewende water.
Somer na somer verroes
skeef gesakte ysterkruise
in die begraafplaas waar selibaat,
sonder naam,
padre, broer en non
in die goue grasveld rus;
ver van die Pous, met sy Gucci-pantoffels,
sy kruise en luide klokke
in hoogheilige Rome.
Sendingstasie van die Marists, Dominikaanse susters en Jesuiete te Madikwe, Oktober 2021
© Louise Boshoff, 2022
Inventaris
Die seun neem uit die tehuiskamer:
3 Appelbokse half-vol klere en toiletware,
4 Delft vase, Wit-en-blou,
2 Handdoeke skif gewas,
1 Olyfhout Jesusbeeld uit Israel.
Weke later bring hy ook
‘n silinder as –
luuks gestrik in kobalt blou.