Margaret Cordier is gebore 28 April 1962 en het haar vormingsjare gehad in Alexanderbaai. Haar liefde vir skryf begin op ’n vroeë ouderdom tydens haar laerskooljare. Van haar skrywes word in die skoolkoerant gepubliseer en sy word in haar hoërskooljare aangemoedig deur o.a Anna Neethling Pohl. Sy neem gereeld met sukses deel aan redenaarskompetisies en kunswedstryde en beklee leierskapposisies op laer- en hoërskool. Sy matrikuleer aan Rustenburg Hoërskool en voltooi haar tersiêre opleiding by UP en Unisa. Chris Brunette het ’n groot rol gespeel in die aanmoediging om gedigte te skryf en dit in te stuur vir plasing op Litnet. Sy skryf oor haar belewenisse en oor ervarings op haar lewenspad. In 2021 word haar debuutbundel, Buigbreek, deur Cordis Trust gepubliseer. |
Sambrele in die son
hoekom loop al die vroue
van Suid-Afrika nie
met sambrele in die son
dink net hoe kan
so ‘n verskroeide land
weer blom
© Margaret Cordier, 2022
*
Terugblik.
gister se reën het opgedroog
die uitspoelvoortjies lê
ingeëts aan die oppervlak
ek tel my kop op
— kyk die lug
in die oë
geen bliksem
of donder
sal my verskrik
my opvangskottel loop oor
© Margaret Cordier, 2022