![]()
Ruan Fourie is in 1994 in Bloemfontein gebore. Hy onderneem in 2017 ’n honneursgraad in Afrikaanse Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit. Sy eerste gedig is in Taalgenoot en Jip gepubliseer (2012) en sedertdien het van sy gedigte op Versindaba, Storiewerf en Litnet se webruimtes verskyn. In 2016 wen hy die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se skryfkompetisie, waarna die wengedig in die bloemlesing Inkvars opgeneem is. Hy het ook as digter deelgeneem aan die Byderhand-projek tydens Aardklop 2015. ’n ope brief aan Dorian Gray (2017) is sy debuutdigbundel. |
“‘But a few minutes with somebody one worships mean a great deal.’ ‘But you don’t really worship him?’ ‘I do.’”
– Oscar Wilde, The Picture of Dorian Gray
by jou
wil ek
die donker mond
van ’n tydlose, eindlose dier
stuk-stuk betree;
’n vakuum waarin ons
amper rug aan rug
aan weerskante van ’n kiestand
kan gaan sit.
“I like people either too much
or not at all,”
en eers onthinder jy my.
ek vertel jou van die aard van angs;
speel-speel ekstrovert
vergeet ek van skugter wees
wanneer ek my hiperboliese
liefdesverse voorlees
hiperboliese liefdesverse
(maar nooit erken ek
almal gaan oor jou nie).
al wat nou vir my voorlê
by jou
is flou skadu’s
van wat my klaar vervoer het.
maar ek ignoreer dit nie
– paai dit saggies as jy slaap –
netnou sluk die dier
ons al twee heel in.
’n mens raak gewoond aan liefhê,
daarom deel ek dit maklik
met jou,
maar al is jy die toonbeeld
van skoonheid en jeug
kan ek nou al voorspel
waar jou diepste plooie gaan lê.
daarom betree ek
(en lei jou, geblinddoek, stilletjies aan die hand)
dié ruimte waarin swaartekrag ’n fiksie is –
sodat nie een van ons kan sien
wat jou mooi maak
verlelik jou later nie.
want ek kan my liggaam voel inplof
onder die druk van alles
wat ek nie meer by jou
voel of weet nie.
– swaartekrag
***
ek het vanoggend saam met my tee koud geword
toe ek toekyk hoe die grys motreën
die kleure van die fynbos verdrievoudig.
kardamom is die derde duurste spesery ter wêreld,
slegs uitgestof deur vanielje en saffraan.
hulle meng dit soms in koffie in.
’n misbank het oor alles gaan lê
die landskap word low-contrast-medium-brightness
en ek gaan haal ‘n roman
– my boeke lyk of hulle reeds aan die see behoort –
projekteer myself op elke dealmaker en duiwel
in die bladsye opgesluit.
dis bisar dat die stilte tussen ons
nóú al so hoorbaar leeg is,
maar ek bly dink:
daar skuil nog baie gedigte hierin.
daarom en omwille my digterlike selfsug
sal ek jou aanhou sien in die smaak en reuk van tee
en saam met die gedagte aan jou
koud word en toekyk hoe die kleure uit die wêreld gewas word.
meer as ’n peperagtige herinnering
en ’n oorlogsugtige traan of twee
sal ek jou nie gun nie.
ek het saam met die tee
koud geword.
– tea for one
© Ruan Fourie / 2017