Posts Tagged ‘End Conscription Campaign’

Andries Bezuidenhout. Hou my vas, Korporaal!

Wednesday, November 4th, 2009

Hierdie naweek het al die kamerade van die eertydse End Conscription Campaign (ECC) makietie gehou om nostalgies te raak oor die tyd toe alles nog swart en wit was. Blykbaar is daar erg baklei (darem nie wapens opgeneem nie) oor of Julius Malema by die geleentheid moet optree. Die Kaapse faksie het gewen. Raai of hy mog kom of nie.

Maar laat ons nou nie snedig raak oor hierdie organisasie se belangrike rol nie. Om die ECC te gedenk, plaas ek ʼn ou stuk uitskryfwerk van my op LitNet hier – oor Afrikaanse musiek en die weermag.

Hou my vas Korporaal…

In Afrikaanse musiek is daar sekere kulturele verwysingspunte — onderwerpe wat voorkom in die werke van baie liedjieskrywers. Die seemeeu is ’n besonder ongelukkige een. Enige sanger wat ’n seemeeu in ’n song toelaat, moet onmiddellik alarms hoor lui of ’n Hawaiian kitaar hoor loei. Dis iets wat ’n mens eerder soos die pes moet vermy. Die seemeeu is die universele simbool van soetsappigheid.
Dan is daar temas wat besig is om uit te sterf en nuwes wat regstaan om hulle plek in te neem — temas wat figuurlik gesproke “tekens van die tye” reflekteer. Soos die army, of casual werk in Londen. Die leemte wat deur “twee jaar in die army” by braaivleisvuurgesprekke gelaat is, word nou ingeneem deur “By watter kroeg in Londen het jy gewerk?”, “Het jy ook in ’n kommune in Walthamstow gebly?” of “Moes jy ook eendetonge by daardie fabriek inpak?” Uiteindelik sal die gesprek draai na “Ek kan nie glo daar is Engelse mense wat dit permanent doen nie!” of “Ek is so bly ek kon ’n kar koop met my geld toe ek terugkom!”

Sommiges kom natuurlik nooit terug nie — die nuwe globale trekarbeiders (alhoewel die Britte dit seker nie vir lank meer sal toelaat nie, veral nie noudat dit bekend geword het dat 6% van wit Suid-Afrikaners MIV-positief is).

Maar ek dwaal al weer af. Ek is nog deel van die generasie mans wat soms oor “die army” by die braaivleisvuur praat. Ek was een van die heel laaste suckers wat nog twee volle jare moes doen en plekke soos Kimberley, Mamelodi, Mariental en Walvisbaai van nader leer ken het. Dis merkwaardig hoeveel van die Afrikaanse sangers wat ek al ontmoet het, spesifiek by Kimberley opgelei is, maar ek sal eerder hulle privaatheid respekteer en nie name opnoem nie. ’n Hele paar van hulle lag nog as ’n mens gesels oor die een sersant (later stafsersant) wat as Taragompie bekend gestaan het. Die Weermag is geneig om ’n eie woordeskat te ontwikkel. So byvoorbeeld is die slope wat oor kanonne se lope getrek is “effies” genoem. Mense wat bril dra, is gewoonlik as “Brilmonster” aangespreek, selfs deur een korporaal wat self ’n bril gedra het!

My gunsteling is egter Taragompie se gevleuelde woorde een aand toe hy probeer het om Kompanie A aan te spoor om vroeg op te staan vir ’n sessie op die skietbaan by Schmidtsdrift. “Here,” (want dis hoe hy altyd die Kompanie aangespreek het) “môreoggend, nog voor die sonbesies hulle pishorings afgeskud het, drop ek die clutch.” ’n Mens sê natuurlik die sin met die nodige “mannerisms” en intonasie om dit soos die outentieke Taragompie te laat klink. Oor van sy meer gewaagde gesegdes sal ek eerder hier swyg.

Dís nou die tipe goed wat om braaivleisvure bespreek word, as iemand al gewonder het: die ligsinnige dele, nie die dinge waaroor ons in die nagte wakker lê nie. Dít bespreek ’n mens liefs nie, veral nie om die braaivleisvuur nie.

Ek onthou hoe mense altyd op daardie versoekprogram vir die troepies op die radio van ’n plek met die naam “Diskobbelos” ingeskryf het — vreeslik baie van hulle. Ek dink ook nie dis toevallig nie, want dis waar die Weermag sy propagandiste opgelei het: by Diskobbelos, naby Kimberley.

So gepraat van propaganda: ek wonder soms hoeveel Afrikaanse sangers geld van die staat ontvang het om opgeruimde liedjies oor die Weermag te skryf. ’n Mens kan seker maar net bespiegel. Dalk was dit nie eers nodig gewees om die liedjies te “commission” nie. Dalk het mense sommer maar self geskryf aan:

Daar’s ’n man op die grens,
weet nie waar op die grens,
maar hy’s daar op die grens
ver van my …

Ek kan nie onthou hoe dit verder gaan nie, maar ek dink die sangeres het basies maar gesê dat sy sal wag vir haar man op die grens. Ja, sure.

Dan was daar die ou wat om een of ander vreemde rede nie ’n rang wou hê nie:

’n Rang wil ek nie dra nie
net ’n R1 hier styf langs my sy
Ag man, dis lekker in die army
’n Troepie dié wil ek graag bly …

Daar is ook die bekende “Troepie Doepie”. Ek kan nou nog nie uit-figure wat die “Doepie” behels nie, maar ons weet die troepie hoor in die vreemde hoe sy geliefde na hom roep, maar tog wil hê dat hy sy plig teenoor sy volk en sy land moet doen. Bles Bridges het ook sy beskeie bydrae gemaak met ’n nommer genaamd “Tawwe Tienies”.

Maar dis nou genoeg oor die “seemeeu-benadering” tot die Weermag. Ons almal weet dat die Troepie Doepies, die Boeties op die Border, baie keer met “dog tags” tussen hulle tande in seilsakke teruggekeer het — of ’n “houtjas”, soos ’n doodskis genoem is.

Ek is bly daardie tye is verby. Maar hoekom gaan ek nou weer aan hieroor? Die rede is die wonderlike songs wat geskryf is wat nie “seemeeue” in het nie. Baie van hierdie musikante het musiek gebruik as wapen, as ‘t ware om die dienspligstelsel en alles waarvoor dit gestaan het, te ondermyn. In die proses het hulle songs geskryf wat steeds monumentaal in Suid-Afrikaanse rockmusiekgeskiedenis bly staan — al is daardie tye nou verby.

Vat byvoorbeeld Bernoldus Niemand (James Phillips) se “Hou my vas Korporaal”. Dit is seker een van die classics — tot so ’n mate dat dit nogal ’n anthem vir die End Conscription Campaign geword het. Ek lag nou nog as Bernoldus skree: “Troep! Sien jy daai boom? Bring dit hier, ek wil dit rook!” Wat dit so ’n kragtige song maak, is juis die humor wat die boodskap baie effektief oordra saam met ’n lekker dansbare tune en ritme.

Op “Eet Kreef!“ sing Johannes Kerkorrel die “Ou ou lied van Afrika” — ’n liriek wat deur Marianne de Jongh geskryf is. Dis een van die min songs wat oor die Weermag in die townships praat. Gesing uit die oogpunt van ’n soldaat, sny dit verby die onmenslikheid van geweld:

Maar vannag gooi ek my geweerband weg
en ek haal my gordel af
as dit donker is, as almal slaap
is ek voor jou deur en ek wag
En sing die ou ou lied van Afrika
sing dit sag, sing dit lank vir my
maak oop jou hart, maak oop jou deur
laat my binnekom, laat my bly.

En dan die deel wat die volksvaders waarskynlik die heel meeste ontstel het:

Blaas uit die kers draai jou kopdoek los
ek het lankal my tent vergeet
laat ons mond aan mond en lyf aan lyf
laat ons vry en vir altyd wees.

Dit eindig met ’n militêre snaartrom wat oorgaan in ’n lekker rock & roll-riff — Willem Moller op die kitaar. Dan gaan dit weer oor na die melodieuse klanke van ’n klavier. Ai, soms sê goeie musikale verwerkings amper meer as ’n liriek. Dis die toppunt van subversie!

Een wat ’n mens doodeenvoudig net móét noem, al is dit in Engels, is Jennifer Fergusson se “Letters to Dicky”. Sy het hierdie een by Houtstok gesing — na aanleiding daarvan het iemand opgemerk: “That woman can stop any party dead in its tracks …” Dit gaan oor die gevreesde “Dear Johnny” — ’n afsêbrief. Soos in “Troepie Doepie” is die soldaat se geliefde aan die woord. Die liriek is saamgestel uit die briewe wat sy vir hom skryf. Aan die begin verklaar sy haar ewige liefde, sy brei ’n serp vir hom in kakie om by sy uniform te pas, en spaar vir ’n kleurtelevisie. “Oh Dicky I’ll always wait for you,” skryf sy. Later praat sy oor die bomme wat in die townships ontplof en hoe bang sy is. Dan ontmoet sy iemand anders en sy sê vir Dicky: “I just had to let you go.” Ai tog — die eufemismes van afsê! Die song eindig met:

I wore my best black dress on that hot afternoon
The sun burning my eyes … If only you knew
That the bullet that you put into your head
Was maybe meant for me, not you …

Nogal dramaties, maar die song is geskryf met venyn en spot — die kakie serp, byvoorbeeld. Ook die verwerking spot met die soetsappige weermagliedjies deur Hawaiian kitare in te span. “Letters to Dicky” is ’n voorbeeld van musiek as vlymskerp satire — en Jennifer Fergusson het geslaan waar dit seergemaak het — daar waar die persoonlike en die politieke oorvleuel.

Meer subtiel en op die oog af heel ligsinnig is André Letoit (nou Koos Kombuis) se “Bar op De Aar”, een wat gaan oor die kroeg waar die “duisende weerlose jong weerbare manne” kon drink voor hulle met die trein na “die grens” vertrek het. Hulle wag hier “op die trein na wie-weet-waar”, want amptelik was Suid-Afrikaanse magte mos nie in Angola nie. Die steek kom aan die einde van die song:

Briewe van êrens met posstempels van nêrens
Bosse en gille, koffie slaappille
Met ’n botteltjie blou wat my twee jaar moet hou …

Een van die heel treffendste rock-songs kom van een van die ghoeroes van Suid-Afrikaanse rock — Piet Botha se “Goeienag Generaal”. Waar “Letters to Dicky” met ’n begrafnis eindig, begin “Goeienag Generaal” met een waar al die jong laaities pas uit die skool verwelkom word, die swanger meisie wat wag en die kapelaan wat uit die Bybel lees. Piet maak van die sterkste stellings ooit oor wie almal voordeel uit die oorlog getrek het, maar dis veral die refrein van die song wat die boodskap tuishamer:

Whitey jou oë op daai dag was blou
Net soos die lug
En toe ons weer so kyk
Het ’n AK jou fucked up geskiet.

Aan die einde van die song: “Goeienag Generaal … slaap lekker.”

Soos ek reeds gesê het, is daar gelukkig nuwe onderwerpe wat om die braaivleisvure bespreek word en in rockmusiek aangepak word. Wit Afrikaanse mans wat skaars ’n jaar of twee jonger as ek is, is die ondervinding gespaar. Soms sal ons nog grappies maak oor Taragompie se sêgoed. Maar ander kere sal ons vir ’n oomblik stilbly as “Goeienag Generaal” oor die CD-speler speel — want niemand stel meer regtig belang in die individuele geraamtes in ons kollektiewe kas nie. Daardie tye is verby en dis dalk maar beter as ’n mens nie meer te veel daaroor skryf of praat nie. Soms sien jy die flitsing van ’n wilde kyk in iemand se oog as die sjampanjebottel se kurk onverwags skiet. Soms is die geluid van die geweer wat die hijacker oorhaal álte bekend — metaal op metaal — en dan kom die terugflitse.

Dis maar goed waarmee ons almal moet deal — soms help ’n goeie song om dit in woorde om te sit. Die generaals slaap in elk geval lekker, want daar is blykbaar net marsmusiek in hulle koppe.

Lees die oorspronklike weergawe hier.

  •