Philip de Vos. Om met twee linkervoete te kan dans
Saturday, May 17th, 2014Jare gelede reeds het ek die vreugde van ligte versies ontdek.
En tog vermoed ek dat daar dalk ‘n hele klomp slimmes is wat neersien op hierdie nederige vorm van poësie.
Ek het gou agtergekom dat ek self nooit ernstige gedigte sal kan skryf nie, maar het gelukkig wel spoedig ontdek dat ek kan rympies maak.
Ja, êrens in my binneste was daar ‘n yslike begeerte is om te kan dans alhoewel ek wel deeglik daarvan bewus was dat ek in werklikheid twee linkervoete het en dit nooit op ‘n dansbaan sou kon waag nie.
Selfs toe ek ‘n operasanger was, het ek ook dikwels in musicals opgetree – en outydse musicals beteken natuurlik dat daar op een of ander stadium om geen rede op aarde gedans moet word nie. Dan het David Matheson, die regisseur, my gewoonlik in die héél agterste ry op die verhoog geplaas, daar waar hopelik nie ‘n enkele persoon in die gehoor my ooit sou opmerk nie.
Maar selfs met nie-dans tonele kan daar partykeer iets op die verhoog skeefloop en dit het wel een aand met my gebeur.
In Hello Dolly het ek in die koor gesing en op een stadium is daar ‘n groot produksienommer: When the Parade passes by. Die koorlede het elk sy eie instrument gekry om te bespeel en waarom hulle juis vir my gekies het om die groot ronde trom (wat op aarde is bass drum in Afrikaans?) om my middel vas te gespe en elke liewe aand in formasie saam met die ander heen en weer oor die verhoog te beweeg, weet die joos alleen.
Met musicals is almal gewoonlik teen die 55ste opvoering ‘n bietjie uitgekuier met dié werk. Ewenwel, een aand staan ons aan die sykant van die verhoog – gereed vir ons groot oomblik. Waarom ek dit gesê het, weet ek tot vandag toe nie, maar net voor ons op die verhoog moes gaan, sê ek vir een van die ander koorlede: “This bass drum is so heavy. What if one evening the belt breaks during a performance?”
En dit was presies wat gebeur het. Ons het almal, soos elke aand lustig saam gesing:
When the parade passes by
Listen and hear that brass harmony growing
When the parade passes by
Pardon me if my old spirit is showing
All of those lights over there
Seem to be telling me where I am going …
En toe gebeur dit. Met watter woorde dit was, kan ek nie meer onthou, maar dit moes seker by daardie bass harmony growing, gewees het, want ‘n gemene gees êrens in die diepste ruimtes het seker my woorde gehoor en daardie gordel geknip.
Die yslike trom het skielik op die plek losgebreek, en oor die verhoog begin rol en rol. Toe ek dit agterkom, het ek heeltemal die formasie-lopery geïgnoreer en agter die ding begin aanhardloop. En daar in die Nico Malan-operahuis van destyds het ek daardie trom net op die laaste oomblik gekeer voordat dit op ‘n fluitspeler in die orkesbak beland het. Nodeloos om te sê – die parade was in sy maai!
In my versies dans ek wel, en dit gee my die plesier wat ek in die werklike lewe ontbreek.
Dit is tog snaaks hoe die diep-denkendes onder ons glad nie lawwe versies kan verstaan nie en so het Spike Milligan dit juis gesê:
“The extraordinary part of nonsense is that only a small persentage of people gain pleasure from it. I have tried it successfully with children of all races and 99% have always laughed. But then I have sat with men, intellectuals who are totally baffled by nonsense.”
So gee ligte versies my steeds groot plesier, soos dié van John O’Mill uit Rollicky Rhymes in Dutch and double Dutch:
De koning van Biscaye
die had een kattapult
Daar schoot ie mee op haaie
Very difficult
en hierdie een:
De koning van Oeganda
Die had een grote smoel
Met sewe gouwe tande
Very beautiful
En terwyl ons by die Nederlanders vertoef, kan ek ook Kees Stip noem:
Een hen sprak peinzend tot een ei:
“Wie was êrens eerder: ik of jij?
De wiisbegeerte mag misschien
op deze vraagd geen antwoord zien
maar ik heb, wat men ook mag zeggen,
nog nooit een ei een hen zien leggen.
Die Engelse het natuurlik hulle eie Lewis Carroll:
en Edward Lear
en die Amerikaners het hulle Ogden Nash:
FLEAS
Adam
had ‘em
En dan is daar hierdie wonderlike kortetjie van ‘n anonieme digter
ODE TO MY GOLDFISH
O
wet
pet
Ek het self nooit geweet dat ek lawwe versies kan skryf nie totdat Leon Rousseau my in 1978 (om watter rede weet ek nie) gevra het: Hoekom skryf jy nie kinderversies nie?
En hierdie was my eerste:
Wat is die verskil
tussen katte en muise?
Muise het sterte
en katte het luise.
Ja, muise het sterte
en so ook ’n kat,
maar geen luis
het ’n muis
of ’n kat
op sý blad.
’n Muis
het ’n luis
en ’n stert
nes ’n perd,
en perde
het luise
maar ly nóóít
aan muise,
en katte
het luise
en lang
gladde sterte
en soms kyk
hul dromerig
dóér in die verte
na muise
en luise
en perde soos huise
en dis hoe jy weet
wat is katte en muise
illustrasie: Jan Vermeiren uit O togga, ‘n gogga!
Mense het my al gevra: Is dit regtig ál wat jy kan skryf?
En my antwoord:
Elke outjie
het sy lied:
Hadida of
zoeiiii-muskiet
Of dit fraai
of goor
of gek is –
Jy moet sing
soos jy gebek is.
illustrasie: Piet Grobler uit Mallemeuleman
Ja, selfs met twee linkervoete kan ek nou so bietjie dans.