Posts Tagged ‘Kiekies’

Andries Bezuidenhout. Die gapings tussen kiekies maak my bang

Sunday, February 20th, 2011

Lucas Maree het ʼn wonderlike, donker stem gehad. Vandag onthou ek hom egter vir sy lirieke. Met sy eerste plaat (toe het mense nog plate gemaak), Kiekies, was Lucas sy tyd ver vooruit. “A turn of phrase,” sê mens in Engels. Hy’t ʼn talent daarvoor gehad. Dink maar aan die lied “Kiekies in my plakboek”, waarin hy sing van iemand wat deur sy fotoalbum blaai. Hierdie foto’s is “verwysings, my lewensinventaris, die ensiklopedie van my bestaan.” Daar is ook “patrone wat herhaal, in die kom en gaan en wegbly van gesigte”:

Ek verdwaal deesdae so dikwels
in die blaaie van my boek,
soek die sleutels van my hart onder die stof.
In my pelgrimstog na gister
blaai my wisselstroomgemoed
deur die ou, bekende name in my boek.

Ek skryf nou uit my kop uit, sonder om die plaat se omslag te raadpleeg – so verskoon asb. foute. Ek het dit destyds nog op viniel geluister. Ek hou veral van “wisselstroomgemoed” en die lied se treffende einde:

Daar’s net een probleem met kiekies
en die gom van plakdriehoekies,
want die gapings tussen kiekies maak my bang.

“Wiegeliedjie” is ook nogal treffend, die tema van alkoholisme en die oorerflikheid daarvan. Dis donker, amper melodramaties – weer ʼn treffende einde:

Pappa slaap en Mamma luister
na die weerklank op die vleuels van tyd,
want in Baba skuil ʼn vader
met ʼn bottel in sy stuurkajuit.

As ʼn mens nou ʼn plakboek moes maak van goeie Afrikaanse lirieke, sou Lucas Maree ʼn paar bladsye volmaak, neffens mense soos sy goeie vriende Koos du Plessis (wat hom lank, lank gelede oortuig het dat dit moontlik is om lirieke in Afrikaans te skryf) en Coenie de Villiers.