Posts Tagged ‘Lapa Uitgewers’

Want die hart kan heel

Monday, October 26th, 2009

Lees asb my resensie in vandag se Beeld oor Frans van Rensburg se ongelooflike debuut-roman: Lammervangerhttp://www.beeld.com/Content/Vermaak/Nuus/1924/b0c13185b7154780a2c9cdc869d4d23c/26-10-2009-09-40/Hartroerende_blik_op_vertroue_

Of hier, onderaan:

Hartroerende blik op vertroue

  – Ronel Nel

Enigeen wat die produksie Sellelied ooit by Aardklop Kunstefees gesien het, sal vir Frans van Rensburg onthou. Dit was sý produksie – een waar werklike tronkgevangenes van Potchefstoom in hul oranje oorpakke, geboei, ingestap het, en in gesprek getree het met die skrywer, die gehoor, met hulself. In Sellelied het hy die fisiese en spirituele gevangeskap van die mens in die omgewing van die hartelose ‘korrektiewe dienste’ ondersoek – aan die hand van gedigte deur digters wat self daar was. Breyten Breytenbach, Herman Charles Bosman, Eugene Terre’Blanche, Allan Boesak, Tokyo Sexwale, Jeremy Cronin, Frank Anthony, Dennis Brutus, Mzwakhe Mbuli… asook die gedigte van daardie manne in oranje self.

Die teater se deure is letterlik agter jou toegeslaan en gegrendel. Die manne het met hul boeie aan voet en hand oor die vloer na die verhoog geskuifel. Jy het geweet: hierdie skrywer verstaan die binnekant van die gevange mens. Dit was ’n enigmatiese hartstuk uit ’n nuwe invalshoek wat die teatergangers eweneens bekoor en hartroerend geklief het.

En hierdie, Die Lammervanger, is sy debuutroman. So, dink maar net…

Ná ontvangs van die boek, het ek een oggend vroeg, kruisbeen en nog in pajamas, op die bed gesit, en een na die ander bladsy koorsig omgeblaai. Vasgevang, in totale verwondering. Mense verwys graag na ’n ‘onneersitbare boek’ – en dié een is, wragtig.

Dit vertel kortliks die verhaal van Johannes van Staden, sestien jaar oud. Johannes se pa het sy werk verloor en sy ma werk nou as bediende by die ryk oom Alfred Botha.

Johannes sien dat oom Alfred besonder baie van hom hou en hy besef dat as hy sy kaarte reg speel, sal die oom help dat hy ’n (akademiese) toekoms het. Hy besef dat hy hul armoede kan oorkom as hy toegeeflik is teenoor oom Alfred, en hy besluit om wel vir die oom te gee wat die so graag wil hê.

Al dié dinge gebeur sommer binne die eerste vier hoofstukke al.

Maar wanneer sy ma daarvan uitvind, pleeg Johannes uit skaamte selfmoord.

 “Oomblikke later maak ek my oë in my nuwe wêreld oop – die wêreld van die dooies…”

Die res van die boek vertel hy uit die hemel. Hy sien sy maats trou; hy sien die lot van sy ma en sy pa. Sy pa wat elders begin kyk; sy ma wat rou-verstomp haarself afskeep, en verdwyn as mens. So voor sy eie oge uit die hemel.

Daar is deesdae heelwat post-lewe vertellers in boeke – The Book Thief is die eerste een waaraan ek nou kan dink.

Aan die een kant ontnugterd, aan die ander kant vol hoop.

Deur Johannes se hemelse bril leer jy die arm padkampe ken – die lewens van daardie mense wat paaie bou, en langs die paaie in kampe bly. (Van Rensburg kom self uit so ’n milieu.) Leer jy die ruwe, nuwe armblanke-kwessie beleef. Dit is hartverskeurend, dog op  manier vol mense-vertroue.

Maar wat Van Rensburg se boek so uitsonderlik maak, is juis sy slag met die kind se stem. Die verteller se stem is werklik sestien, en word algaande ouer, soos die tyd hom – en jou, as leser – meesleur.

Dit is deurspek van die patos. Dit is met tye snaaks. Dit is, heel eenvoudig, totaal lieflik. Vir my lê hierdie skitterende debuutboek iewers tussen Dis ek, Anna, en The incident of the dog in the nighttime. Lammervanger lê dus reg te midde van groot geselskap.

Maar die beste vergelyking is sekerlik met die wonderskrywe van Alice Sebold, The Lovely Bones. Dis die verhaal van ’n vermoorde dogtertjie wat ook uit die hemel die wel en wee(-moed) van haar familie op aarde aanskou en beleef. Die verskil is dat Lammervanger – hoewel uit die bo-maanse vertel – soveel meer aards, gegrond, plaaslik en in ons eie harttaal is.

Wit armoede… en wat die mens bereid is om te doen om te oorkom. Lammervanger is totaal toeganklik, hoewel dit geensins beteken dat dit nie werklike goeie letterkunde is nie. Dit is, genadiglik, nie genre-gebonde nie, en met ’n vars, nuwe aanslag, in Afrikaans. 

Na my beskeie mening is hierdie een van die varsste – en leesbaarste – Afrikaanse boeke wat vanjaar nog die lig gesien het.

Koop net die ding, soos Nataniël eens gese het. En lees dit!

* Die Lammervanger deur Frans van Rensburg. Lapa-uitgewers. Sagteband. 302 bladsye R140. ISBN 978-0-799304508-7

  •