Posts Tagged ‘Let there be peace’

Pieter Odendaal. Lemn Sissay en die slawekerk in Langstraat

Tuesday, April 24th, 2012

Twee weke gelede hoor ek dat die wêreldbekende digter Lemn Sissay in Kaapstad gaan optree – en ek het nie ’n clue wie hy is nie. ’n Bietjie kwaliteit-tyd saam met Google maak my wys dat hy ’n sterk en vreemde mens is. Hy’s ’n lid van die Britse Empire (MBE), maar sy ouers kom van Ethiopië en Eritrea (ah, die ironie!). Hy’s aangeneem deur ’n wit familie in Engeland nadat sy ma terug is Ethiopië toe, maar die familie het hom na 12 jaar weggejaag en hom belowe dat hy hulle nooit weer sou sien nie: Hy is deur die duiwel besete, deur alles wat donker en onheilig is, het sy aanneemma vir hom gesê.

Hierna het hy van die een na die ander kinderhuis verhuis – hy was glo ’n vreeslike moeilike knaap gewees. Op ’n dag het hy vir een van die maatskaplike werkers in die kinderhuis gesê: “You are more institutionalized than I am. I will walk free when I’m eighteen. You will work here for the rest of your life.”

Hy het nooit hierdie dwarsheid laat vaar nie. Inteendeel, hy het sy dwarsheid oor die jare geslyp en kerf deesdae deur alle pretense en grense in sy poësie. Sy verse word gekenmerk deur integriteit en ’n bemoeienis met die betekenis van woorde soos familie, vryheid en onsekerheid.

Sy debuutbundel, Tender fingers in a clenched fist (1988), is oraloor geprys en het hom kitsroem besorg. Sedertdien het hy homself ook as dramaturg en filmmaker bekwaam. Hy is die eerste digter wat gekies is om ’n gedig vir vanjaar se Olimpiese Spele in Londen te skryf en sy verse pryk in verskeie publieke ruimtes in Brittanje. Ek het dus hoë verwagtinge gehad toe hy die afgelope Saterdagaand in die ou slawekerk in Langstraat opgetree het. Die aand is deur Badilisha Poetry X-change gereël en is baie goed bygewoon.

Die slawekerk is in 1804 voltooi en het die kern van Protestantse sendelingwerk onder slawe gevorm. Ons gaan die gebou binne. ’n Beligte SO SÊ DIE HERE-matjie hang oor die imponerende en verhewe kansel. ’n Vriend fluister dat die kerk se vloerteëls deur gevangenes op Robbeneiland gemaak is. ’n Gelade ruimte vir ’n poësievoorlesing dus. Ons skuifel by die kerkbankies in en wag saam met die res van die gehoor vir die vertoning om te begin.

Toni Stuart open die aand met een van haar kenmerkende sing-praat gedigte. Die gehoor word meegesleur en almal is op dieselfde golflengte wanneer Lemn Sissay die podium betree. Vir die eerste paar minute wonder ek of ons ’n parallelle heelal betree het waar stand-up comedy instaan vir poësie – so diagnoseer hy byvoorbeeld ons land met “NGO-itis” – hy het glo nog nooit ’n land gesien wat soveel tyd en aandag aan welsyn spandeer nie. Die gehoor bars uit van die lag (miskien eerder uit onsekerheid as enigiets anders) en Sissay vuur nog one-liners tussen die mense in.

Ten spyte van die grappies en die gesellighede weet die gehoor dat hierdie digter eintlik tot in sy wese ongemaklik met die wêreld en homself is. Sy eerste gedig bevestig dat hy iemand is wat baie versigtig met woorde omgaan omdat hy weet hoe kragtig hulle kan wees. Hy maak dit duidelik dat woede onvoldoende is om poësie te skryf – ’n mense het iets nodig wat dieper loop, iets wat wêrelde oopmaak en liefde kan kweek. Sy gedigte is sy enigste familie, sê hy, sonder ’n sweempie van sentimentaliteit.

Die verse wat volg is soepel en speels, hulle maak allerhande vreemde draaie en dit klink heeltyd of Sissay net-net in beheer van homself en sy woorde is. Sy voordrag is vol gapings en herhalings, hy begin oor, probeer weer. Dit is duidelik baie belangrik vir hom om die regte klank vir die gedig te kry, om die gedig op die regte manier aan ons voor te stel, sonder tierlantyntjies of verdraaiings. Hy is hoeka bekend vir sy uitsprake teen podiumpoësie waar die kwaliteit van die gedig dikwels ingeboet word ter wille van die performance. “It starts and ends with the words,” sê hy. Sy gedig “Suitcases in muddy parks” maak alles stil. Selfs die karre in Langstraat klink of hulle stadiger ry om na die woorde te luister.

Later is daar die gedig “Invisible Kisses”. Met toegknypte oë en ’n serp om die nek besing hy sy geliefde en die “necklace of invisible kisses” om haar nek. Daar is ’n suiwerheid, ’n vlambaarheid aan die gedig wat alle potensiële aanklagte van sentimentaliteit of clichés laat verdamp. Ook die gedig “Apple cart art” laat my regop sit – hierin spot Sissay met die tradisie van slam poetry en hoe maklik slams tot ’n kommodifikasie van die laaste rewolusionêre werktuig tot ons beskikking (lees: poësie) kan lei.

Een van Afewerk Tefle se bekende kunswerke

Een van Afewerk Tekle se bekende kunswerke

Sissay se mondhoeke trek skeef as hy oor die onlangse afsterwe van sy goeie vriend, die beroemde Ethiopiese kunstenaar Afewerk Tekle, praat. Tekle het nog in die gehoor gesit toe Sissay die gedig “Let there be peace” twee weke gelede in Addis voorgedra het. Die gedig gaan glo op die Britse Konsulaat se gebou in Addis Ababa aangebring word. Die hele stad sal die woorde kan sien. Ek word opgesweep in die eenvoud van die gedig se wens, voel weer die kerk se vloer onder my skoene, verlang na die dae toe ek nog so maklik die matjie teen die kansel kon glo.

Let there be peace
Lemn Sissay

Let there be peace
So frowns fly away like albatross
And skeletons foxtrot from cupboards;
So war correspondents become travel show presenters
And magpies bring back lost property,
Children, engagement rings, broken things.

Let there be peace
So storms can go out to sea to be
Angry and return to me calm:
So the broken can rise and dance in the hospitals.
Let the aged Ethiopian man in the grey block of flats
Peer through his window and see Addis before him
So his thrilled outstretched arms become frames
For his dreams.

Let there be peace.
Let tears evaporate to form clouds, cleanse themselves
And fall into reservoirs of drinking water.
Let harsh memories burst into fireworks that melt
In the dark pupils of a child’s eyes
And disappear like shoals of silver darting fish.
And let the waves reach the shore with a
Shhhhhhhhhh shhhhhhhhh shhhhhhhhhhh.

(’n Onderhoud met Lemn Sissay sal binnekort op SLiPnet verskyn.)

  •