Posts Tagged ‘Vrugbeginsel De Waal Venter’

RSG-onderhoud met De Waal Venter

Thursday, January 13th, 2022

 

 

Luister by die onderstaande skakel na ‘n onderhoud op “Vers-en-Klank” met die digter De Waal Venter oor sy nuutste bundel, “Vrugbeginsel”:

 

https://www.rsg.co.za/rsg/potgooi-resultaat/?_sf_s=De%20Waal%20Venter&post_date=20220104

 

Resensie: “Vrugbeginsel” (De Waal Venter)

Saturday, December 4th, 2021

 

Resensie: “Vrugbeginsel” deur De Waal Venter. Naledi, 2021

Resensent: Louise Viljoen

 

Naledi publiseer De Waal Venter se Vrugbeginsel. Neffens die kleurfoto van die skrywer op die agterblad, lees mens dat Naledi ook in 2017 sy digbundel Oop sirkel uitgegee het. Hulle het ook in 2019 Vandag is boordensvol – ’n bundel verse van Pablo Neruda wat hy uit Spaans vertaal het – gepuliseer. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ken in 2020 aan hom hulle Prys vir Vertaalwerk toe vir die goeie werk gelewer aan Vandag is boordensvol. In 2020 gee die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns sy bundel vertaalde gedigte van Tomas Tranströmer, Alles keer om, uit.

Lees gerus hier op Versindaba wat dr. G. Brits oor Venter as veelsydige en produktiewe woordskepper skryf. Daar is ook agtergrondinligting oor Philippus Arnoldus de Waal Venter hier op Wikipedia. Hy woeker feitlik sy lewe lank met woorde. Venter is in Mei 1942 in Pretoria gebore. Vrugbeginsel verskyn dus in sy nege en sewentigste lewensjaar by Naledi – ’n prestasie! Gelukwense ook aan ’n uitgewer wat nie skroom om ouer digters se werk uit te gee nie.

Vrugbeginsel, Venter se mees onlangse digbundel, beslaan 104 bladsye en is opgedeel in vier afdelings. Die agterbladteks lui: “Die gedigte ondersoek die mens se plek in die heelal en in die geskiedenis in die eerste afdeling. Verder besin die gedigte merendeels oor die wonderlike ontdekkings en begrippe van die moderne wetenskap, asook meer persoonlike, liriese gedigte en ’n skeut subtiele humor skemer deur. Die vierde afdeling is ’n reeks gedigte waarin die digter gesprekke voer met sy persoonlike muse, wat hy Yanni Euterpe noem. Die titel van die bundel is ontleen aan die idee dat “’n gedig die begin van ’n vrug vir die leser kan wees – ’n vrug van verbeelding, van nuwe begrippe, van ’n beter soort verstaan van die wêreld om jou.”

Ek het lekker gelag vir die tong-in-die-kies humor in “Vandag het die son opgekom” (14) waar verskeie voëls redekawel oor waar presies die son die oggend opgekom het, totdat een naderhand die geskil besleg: Die hadida antwoord met ’n skel, nasale stem: / Die son het opgekom / en de donner met die res.

“Tweemaal tafel” (35) het my verbeelding die loop laat neem: Hier volg ’n uittreksel:

 

En tussendeur engele

wat swenkend vlieg,

mekaar die hand gee,

raad gee, moed gee.

 

Daar staan die tafel,

ernstig soos ’n koei,

herkouend aan haar vastigheid.

 

Twee keer is dit ’n tafel:

een keer wanneer jy daar is,

en dan weer wanneer jy weg is.

 

Verbeel die tafel weg:

sal die borde bly hang?

 

Venter se belangstelling in die wetenskap skemer deur in die ondersoekende vrae wat hy vra. Hy sien die wêreld vanuit ’n baie interessante perspektief, en dis asof hy, tipies digter, heeltyd soekend is na die regte woorde om sy waarnemings oor te dra. Hy dig dan ook in “Toepaslike soekwoord” (50): Ek soek ’n woord / wat nog nie bestaan nie, / ’n woord wat ek moet skep.

Hy lewer eweneens kommentaar op die mens se invloed op die aarde. As voorbeeld lig ek enkele strofes uit “Haarfyn uitgelê” (25) uit:

 

Hier waar ek sit

met ’n haartjie in my hand,

voel ek die polsing

van die aarde se dink,

die geheimsinnige, magtige motore

van die blou en bruin gevlekte ruimteskip.

 

En onder die reusedreuning,

fyner, hoër klanke

van onderdele in pyn,

slytend en skurend teen mekaar

Olie,

waar gaan ons olie kry

wat ons nie vergiftig nie?

 

My gunstelinggedig in Vrugbeginsel is “Sien en syn” (32):

 

Verhul onder donsige skil

lê die perskepit,

ongesien.

Die glanswit vorms

van die kniegewrig

glip oor mekaar, geluidloos,

onsigbaar,

In die songeel

van die duifeier

begin die embrio roer,

gedagteloos, buite sig.

 

Agter die muur,

onder die komberse

Die vaag bekende vorm

van ’n lyf

waardeur gedagtes stroom,

 

Dan, aan die einde

van die wedloop,

val die bedrieglike vlies

weg van die atletiese liggaam

van die syn,

en jy sien.

 

Die digter se muse, Yanni Euterpe, is ‘n fassinerende figuur. Sy sal vanuit die niet verskyn en beveel: “Skryf af!” In “Troos van die trieste” (90) staan byvoorbeeld: Die wyfiekat van weemoed / skuur teen my enkels, sê Yanni sag / en beveel dan: Skryf! / Ek skryf. In “Leë hand” (100) sê sy ongestoord: Smart is die donker suster / van bloeiende liefde. / Wees mens, / maar ry jouself soos ’n edel hings.

Ek het Vrugbeginsel nie in een sitting gelees nie. Van die gedigte het my laat nadink –meestal omdat ek verward gevoel het oor wat die digter nou eintlik daarmee wou sê. Dit het vir my gevoel dat ek soms die punt mis, en dit het my frustreer. Was dit ék wat nie oplettend of skerpsinnig genoeg is nie, het ek gewonder, of slaag die digter net nie daarin om my te oortuig dat daar méér in sekere van die verse skuil nie? Wil die titel Vrugbeginsel dalk te kenne gee dat, soos in die geheimsinnige skemerte van die baarmoeder, die vrug nog aan die ontwikkel is en van die gedigte nie bedoel is om volle wasdom te bereik nie? Is sommige gedigte doelbewus gepen om soos vormlose spoke nóg vis, nóg vlees te wees – die hart van die blom wat nog vrug moet word?

Neem byvoorbeeld die titel van die gedig “Wat?” (10). Ek kon eenvoudig nie die kloutjie by die oor bring waarom hierdie vraag gevra word nie. Dalk omdat die gedig eindig met: Op die see lê die boot, / ’n donker stippel / betrap deur die son se laser, / op pad / met ’n vrag mense, / met vrae bevrug. Dis ook hier waar mens lees van Honde aan leibande / trek hulle bekskermlinge / haastig aan oor die wandelpad. Weer het ek vasgehaak – “bekskermlinge” of “beskermlinge”? Tikfout of nuutskepping? “Hierdie onduidelikheid buite rekening gelaat, is daar ongelukkig heeltemal te veel ooglopende tikfoute in die bundel, asook ander redaksionele slordighede

Om ’n gedig te verstaan is om iets van die ewigheid te wil-wil begin begryp. Met die lees en herlees van die bundel kon ek nie help om te wonder wat ander lesers daarvan sou maak nie, of ek dalk iets miskyk of misinterpreteer … Daarmee sê ek nie dat ek die bundel negatief ervaar het nie – daar is lieflike verse wat my beïndruk het en wat ek graag weer sal lees.

Ek dink wel dat die bundel beslis kon doen met die geoefende oë van ’n strenger keurder, asook ’n manuskripontwikkelaar en ervare teksversorger. Teks wat behoorlik geslyp en afgerond is, dra baie daartoe by dat ’n skrywer beskerm word teen negatiewe menings van lesers. Die bundel sou ook baat kon vind by ’n sterker en deurlopende sentrale tema en stemming; dit sou moontlik verhoed het dat die gedigte van wisselende gehalte is.

Hierdie leeservaring het my onrustig gelaat. Vrugbeginsel het my laat kopkrap, dink en wonder. En as dít Venter se doelwit was, het hy daarin geslaag.

 

Louise Viljoen, Jeffreysbaai