
Onlangs het die Britse hotelgroep Travelodge hul statistiek ten opsigte van “agtergelate boeke” boeke bekend gemaak. Hiervolgens word rekord gehou van die boeke wat gaste liewerster in hul kamers “vergeet” as om die verder op hul lewensreis saam te piekel. Interessant genoeg was die boek wat loshande die meeste agtergelaat word in die hotelgroep se 7,200 kamers die model en gepaardgaande “glanspersoonlikheid” Katie Price (Jordan) se outobiografie, Pushed to the limit. Die boek in die tweede plek is ietwat van ‘n verrassing: Barack Obama se Dreams from my father. In ‘n stewige derde plek volg die komiese aktrise Dawn French, se Dear Fatty.
Nog interessante titels op dié lys van agtergeblewenes is John Grisham se The Appeal (sewende) en J. Randy Taraborrelli se boek The Magic and the Madness by Michael Jackson (negende). (Lees gerus The Telegraph se berig hieroor.)
Godedank, darem géén digbundel nie … Of is die prys van digbundels deesdae gewoon te duur?!
***
Twee interessante toevoegings tot die webblad vanoggend is Mathews Phosa se toespraak wat hy Maandagaand tydens die bekendstelling van Deur die oog van ‘n naald by Hidden Valley buite Stellenbosch gelewer het, asook Louise Viljoen se toespraak tydens die bekendstelling van Breyten Breytenbach se nuutste bundel, Oorblyfsel / Voice over, Woensdagaand by die Breytenbach-sentrum op Wellington. En maak seker dat jy ook Andries Bezuidenhout en Desmond Painter se nuwe blogs raaklees; veral die kommentaar wat Andries onderaan sy blog geplaas het, verdien aandag. Om nie eens van Yves T’Sjoen se insiggewende stuk oor Hugo Claus en vertaling te praat nie …
Lekker lees aan alles en onthou tog om jou boeke in te pak waar jy ook al hierdie naweek mag oornag. Vir jou sardoniese plesier volg Loftus Marais se Gedig vir my Seamus Heaney New Selected poems 1966-1987 hier onder. (Gelukkig het dié boek darem nie vergete iewers agtergebly nie …)
Nuuswekker hervat weer Maandag.
Mooi bly.
LE
Gedig vir my Seamus Heaney New Selected Poems 1966-1987
potloodnotas van ‘n vreemdeling wat blyk
katoliek te wees, ‘n koffievlek
‘n verdagte merk op “Digging” wat na ‘n snotkol lyk
‘n spinnekoppie platgedruk op bl. 203 –
o, dis poësie dié
die ganse wêreld is tweedehands te koop
die rug van die boek (isbn 0-571-14372-5)
is geplooi en daar val sand
uit die blaaie as ek skud
(god, van watter tuin of park of strand?)
kon ons maar woorde tussen vingertoppe vryf
soos swart stukkies turf
die boek in my hand sê woorde is restant –
die swart skeletjies van dooie idees
geperste memento’s van die eerstehandse dinge
meneer Heaney, u weet tog een van u moerasse
selfs vol subtiliteit en melodie
kan nie soos modder onder toonnaels vassit nie
ons kan jou plekname darem hoor
die wind in “Aarhus” en “Anahorish”
en in “Carrickfergus” die klank van oor nat turf stap
maar luister: die wêreld bars
uit alle metrum uit
‘n gedig bly slegs ‘n flou epitoom
meneer Heaney, voel:
selfs dié papier was eens ‘n boom
© Loftus Marais (Uit: Staan in die algemeen nader aan vensters (2008: Tafelberg Uitgewers)