Uti Bodenstein
Stellenbosch:
Barend wat ek ontmoet in Helize se woonstel waar hy kuier en lekker skinder oor die Afrikaanse Literatoooore.
Barend wat kom oorslaap. Vroeg-oggend almal in die huis wakker sing met allerhande vreemde Duitse arias en liedjies.
Barend wat my uitskel omdat ek die liedjies nie ken nie. Watter soort Duitser is jy dan?
Barend wat my berispe oor my tweeling se slegte maniere. Het hom blykbaar “die Nase” genoem (moes gewees het toe hulle met Francois gaan bergklim het. Ek het dit nooit gehoor nie).
Barend wat sit en vertel van sy kinderdae en die dominee se huisbesoek. Wat uit sy maag sit en lag wanneer hy vertel van die pamfletjie : “Dinge wat ʼn seun moet weet”.
Barend wat deur my tuin loop en hom verwonder aan alles wat daar groei.
Barend wat my gryp en vasdruk en natuurlik sweer ek is die beste…
Barend wat voor die kaggel sit en rooiwyn drink en voorlees uit sy bundels.
Barend wat staan en kyk na Marjorie Wallace se selfportret – waar sy staan op haar balkonnetjie, met al die vinke om haar heen.
Barend wat in die berge rondhuppel en blommetjies en ander plante uitken en ontdek.
Barend wat weer sit en wyn drink en stories vertel van tye lank gelede.
Onrusrivier:
Barend wat so hard snork dat ek en Helize ons tekkies teen sy muur moet gooi om hom stil te kry sodat ons weer kan slaap.
Barend wat ons berispe wanneer ons kla oor die hond wat oralste pie – los hom uit! Hy’s te oud om te kan help. Never maaind al die gestink!
Barend wat ons ook uitskel omdat ons die skaap uit die kombuis probeer verdryf: “Is hierdie julle huis? Die skaap woon hier. Los hom uit. Hy kan die brood vreet as hy lus is!”
Barend wat opkikker omdat ons cheap bikini’s koop (vir een Rand elk in Hermanus).
Barend wat lekker lag omdat die skaap ons sunscreen van ons velle aflek waar ons lê en tan.
Barend wat aanmekaar probeer uitvind wat ons volgende vir hom gaan kook.
Barend wat soos ʼn kind begin straal as ons hom treat met koffie en koek.
Barend wat my uitskel vanaf ʼn dizzie height – omdat ek kwansuis sy tape-recorder gebreek het.
Franskraal:
Barend wat fluit-fluit deur die strate loop en alweer skinder lat dit bars.
Barend wat brag oor sy twee swembroeke wat sy ou tante vir hom gebrei het.
Barend wat, met mottegif-reuk in die gebreide ou baaibroeke, swart swerms muskiete na hom toe lok.
Barend wat kliphard skel. ʼn Groot stuk tak van ʼn boom afbreek. Dit soos ʼn helikopter bo sy kop swaai om die muskiete weg te hou.
Barend wat ure lank met Arnold baklei oor hoe om mossels skoon te kry.
Barend wat skielik verdwyn wanneer kos gemaak word. Om op wonderbaarlike wyse weer te verskyn sodra ons aansit om te eet.
Barend wat alweer wonderbaarlik verdwyn wanneer skottelgoed gewas moet word of wanneer ons Helize se vakansiehuis begin skoonmaak.
Kaapstad:
Barend wat te kere gaan oor sy ou kar wat gesteel is – verlies van die kar is een ding, die eintlike probleem is egter dat hy nou nie meer klere het nie. Feitlik al sy besittings was gebêre agter in die kattebak – met tonne mottegif sodat dit nie gevreet moet word nie. “Wat de hel gaan daardie f&*()&() skelm nou met my klere aanvang!?”
Barend wat in die strate rondloop en, soos hy dit stel, die “blou-swart” mense wat hy kry, terugstuur na die lande waarvandaan hy dink hulle gekom het.
Barend wat sy hart oopgooi vir die bergies en almal se stories ken.
Barend wie se grootste vreugde nog steeds bly om by ʼn tafeltjie te sit en lees en koffie te drink met koek en room daarby.
Barend wat natuurlik weer skel oor die prys wat als nou kos en wag dat iemand anderste die rekening betaal.
Barend wat vir ons die weirdste gereg van hoendernekke gaarmaak (geen geld vir ander kos nie…).
Barend, in wie se ou woonstelletjie jy die mees merkwaardige versameling boeke en plate kon vind.
Amerika:
Barend wat vloek oor die nuwe foon wat sy dogter ingesit het. “As dit lui en ek dit probeer optel om te praat, begin die verdomde ding riele papier uit te spoeg!” (Steeds geen benul van ’n faks-masjien nie.)
Strand:
Barend wat steeds Barend bly: Ek bel uit die VSA om uit te vind hoe dit gaan. Na ʼn halwe minuut: “Dis nou genoeg geklets, meisiekind. Magtag. Sit die foon neer! Ek wil krieket kyk!”
Waar-ook-al:
Barend wat elke nou en dan weer ʼn poskaartjie vir jou stuur – van wie-weet-waar!
Barend wie se laaste verjaarsdagkaartjie hier langs my lê: Dis ʼn uitgeknipte fotokopie van ʼn Picasso perd met ʼn nice boodskappie – en ʼn klein stuk papier bygevoeg: skryf ʼn mens gelukkige met twee k’s?
Daar is so baie wat ek onthou.
Daar is so baie wat ek probeer vaspen, maar wat al hoe meer vervaag.
Daar is so baie lewe wat nou net verdwyn het.
Daar is so baie hartseer omdat ek ʼn unieke en spesiale vriend verloor het.
Barend wat nou terug is by sy oorsprong en uiteindelik kan rus Ruhe gut, lieber Barend.