Laat ek sommer met die intrapslag die aap van hierdie bydrae uit die mou laat.
Wat hier volg, is eerder sienings waarvan ek hou as wat dit bevindings behels wat onwankelbaar op wetenskaplike pote staan. Bowendien maak ek nie aanspraak op werklike diepgang nie.
Ek skuil maar agter die verskoning dat dit om ’n blogbydrae gaan. En dat die base van hierdie webwerf sulke dinge hier in die buitekamers van hul kubererf duld.
Ek wil dit naamlik hierdie keer hê oor wat digters “moveer” (Leipoldt).
Laat ek eers aanknoop by die vorige bydrae: Wat op die spoor van Peter Abbs en Harry Müller oor die estetiese ervaring gesê is, herinner sterk aan wat neurowetenskaplikes oor kennisverwerwing via die regterbreinlobfunksies skryf: primêr, konkreet, integrerend, intuïtief, verbeeldinggewys, holisties, subjektief, gelyktydig, ensovoorts. (Hennie Aucamp het in 1992 al, in Windperd: Opstelle oor kreatiewe skryfwerk, ’n helder, bondige oriëntering in Afrikaans oor breinlobfunksies te boek gestel.)
Wanneer ’n baba dan sy eerste woorde leer sê, vereenselwig hy daardie teken (klank) volledig, alle vermoëns tesame, met wat hy (leer om te) benoem. Hy verkeer nog in die imaginêre orde, as ek ’n psigologiese begrip by die Fransman Jacques Lacan as metafoor mag leen.
Ook die linkerbreinlob – met verwerwingswyses soos intellektueel, sekondêr, abstrak, proposisioneel, ontledend, objektief, lineêr – word deur die benoeming, die be-tekening of teken-toekenning, betrek. Ironieserwys begin die vervreemding tussen subjek en benoemde objek, tussen “ek” en “ander/Ander”, juis op daardie moment intree – iets wat met die steeds abstrakter en simbolieser wordende talige betekening al hoe radikaler raak.
Waar die teken (’n semiotiese komponent) eers die (psigologiese) eenheidsband tussen subjek en objek help ‘bevestig’ het, tree dit algaande as ’t ware tussenbeide.
Dit herinner ietwat aan Lacan se konsep van die simboliese orde, maar ek wil dit nie op sý spoor in geslagtelike terme sien nie (as ’n ontwikkeling van die ‘moederlike’ imaginêre na die ‘vaderlike’ simboliese orde nie). Wat ek in gedagte het, staan nader aan die begrip “othering” soos in die feminisme en postkolonialistiese teorie toegepas, maar dan met minder van die sosio-politieke implikasies wat binne daardie benaderings betrek word. (In Alkant olifant, wat ’n bietjie meer as tien jaar gelede gepubliseer is, skryf Chris van der Merwe en Hein Viljoen toeganklik oor verskillende literatuurstudiebenaderings, waaronder bogenoemde.)
Ons tyd (is dit steeds postmodern te noem?) is besonders gekenmerk deur relativisme: ten opsigte van wat waarheid en selfs werklikheid is; ten opsigte van reg en verkeerd; waardevol of waardeloos; ensovoorts. Sekerheid het ’n nog skaarser item geword as voorheen. Ons het ook baie bewus geword van hoe toevallig of arbitrêr be-tekening en betekenisgewing is.
’n Mens word voortdurend gepeper, indien nie geteister nie, deur tekste wat in ’n baie groot mate slegs funksioneel bedoel is (opinie-uiting, informasie, reklame, polities-ideologiese stellingnames en werwing, noem maar op). Bowendien is die ‘boodskappe’ wat op ons neerreën via ’n steeds groter en gesofistikeerder verskeidenheid media dikwels teenstrydig, en kennelik grootliks van kortstondige, deelse en beperkte betekenis en waarde. Nuus – nuwe kennis, sienings, insigte en benaderings – kom brokstuk vir brokstuk by ons uit en is sommer voor môreoggend brekfistyd alweer ou nuus.
Daar is derhalwe ’n diep behoefte by mense om te ontkom aan die toevalligheid en opsegbaarheid van tekens (en waardes); om weer die agting vir en verwondering oor die dinge en die gebeure terug te wen; om ’n sin vir die verhulde twee-derdes van die werklikheid (die sub- en supra-rasionele) te herwin. ’n Behoefte wat seker grens aan wat Lacan beskryf het as ’n onvervulde begeerte na die geborgenheid en heelheid van die moederskoot.
Eintlik leef daar ’n hedendaagse begeerte om (van voor af) wat onsegbaar geword het (die sinvolle en waardevolle), segbaar te maak; om wat dreig om verslete en dus waardeloos te wees, ‘nuut’ en dus waardevol(ler) te maak – ’n eietydse weergawe van die behoefte aan ewige, absolute waarhede (Bronzwaer in Lessen in lyriek); aan die mities-religieuse waarde van onsself en die dinge (Van Vliet in ’n Pleidooi vir die poësie).
Vandaar die Amerikaanse digter Randell Jarrell se antwoord op die vraag wat ’n mens kan doen om gedigte beter te begryp: “Jy moet opnuut gebore word”?
Daar bestaan sienings dat die oorspronge van die poësie, net soos menslike kognisie, in die konkreet-sintuiglike gesetel is, maar ook in die ritualistiese, en derhalwe in die volkse. Die oudste vorm van taal was hiervolgens waarskynlik poëties van aard. “Alles wat heilig of plegtig was, is in ’n gedig gesê.” (Van Vliet)
Beelde, klankeffekte en herhalings was die wyse waarop die onbekende (dit wil sê die ongesegde) bekend (dit wil sê segbaar) gemaak is. Dit was die basis van ons kreatiewe verbeelding (om ‘beeldvoorstellings’ van dinge te vorm).
Plato (in sy dialoog Kratylos) stel al duisende jare gelede die vraag of woorde betekenis het kragtens afspraak/konvensie of kragtens die feit dat hulle op een of ander manier deel het aan die ‘wese’ van die dinge wat daardeur benoem word.
Daar bestaan selfs ’n opvatting dat ‘oertaal’ iets hiervan weerspieël het – dat dit byvoorbeeld sterk klank- en vormnabootsend was. Poësie besit iets van die aard hiervan.
In ’n baie bekende passasie (wat ook deur Van Vliet aangehaal word; vandaar onderstaande Afrikaanse vertaling deur Heilna du Plooy) skryf Rainer Maria Rilke in 1910 in Die Aufzeichnungen des Malte Laurids Brigge:
“Want gedigte is nie, soos wat mense dink, gevoelens nie (die het ’n mens vroeg genoeg in jou lewe) – dit gaan om belewenis. Vir één gedig moet jy baie stede sien, baie mense en dinge, jy moet die diere ken, jy moet voel hoe die voëls vlieg en jy moet weet van die roering waarmee die klein blommetjies oopgaan in die môre. […] Jy moet herinneringe hê aan vele liefdesnagte, waarvan nie een soos enige ander een was nie, aan die krete van vroue tydens bevallings en aan die ligte wit slaap van vroue as hulle liggame weer dig sluit na die kraam. Maar jy moes ook by sterwendes gewees het, jy moes by dooies gesit het in die kamer terwyl gebroke geluide deur die oop venster binnekom. En dit is ook nog nie genoeg dat jy herinneringe het nie. Wanneer daar soveel is om te onthou, moet jy dit kan vergeet en jy moet baie geduld hê om te wag totdat dit vanself terugkom. Want die herinnering self is nog niks. Eers wanneer die herinnering in ons bloed word, blik word, gebaar word, naamloos en nie meer te onderskei van onsself nie, dan kan dit eers gebeur, dat op ’n heel uitsonderlike moment die eerste woord van ’n vers opstaan tussen alles en daarvan wegbeweeg.”
Die Amerikaanse filosoof en semioloog Charles Peirce het onderskei tussen soorte tekens op grond van hulle verskillende relasies met die objekte waarna hulle verwys: simbole (relasie van afspraak of konvensie), indekse (relasie van naasliggendheid of heenwysing) en ikone (relasie van gelykenis).
(Vergelyk maar net Heilna du Plooy se oriëntering tot die semiotiek in Literêre terme en teorieë, soos geredigeer deur T.T. Cloete; of, van nog vroeër, Van Zoest se inleiding tot die Peirciaanse semiotiek in Grivel se boek Methoden in de literatuurwetenschap.)
Volgens Lotman (1977) verteenwoordig die poësie ’n poging om betekenisse (tekens) weer as ikone te sien, met ander woorde dat die tekens in gedigte een of ander gelykenis vertoon met die betekenislaag. Daar is volgens hom ’n ikoniseringsdrif in die poësie te bespeur, ook in die leser by die lees van poësie. (Hieroor in volgende aflewerings meer.)
Bronzwaer, in die genoemde Lessen in lyriek, meen derhalwe dat die behoefte aan ikonisering van betekenisse ’n dieptepsigologiese kenmerk van die mens is, wat die droom ken om deel te hê aan die wese van wat hy kan aandui, die droom om alles wat hy hom kan voorstel, ook te wees. (’n Vorm van daardie begeerte terug na intieme imaginêre orde waarvan Lacan gewag maak?)
As ons iets sou kon afbeeld, ’n gelykenis daarvan sou kon uiter – gaan Bronzwaer nogal waaghalsig voort – as ons dit volledig sou kon noem, dan sou ons ook daardie iets kon wees. Vandaar dat gesê kan word dat die poësie ’n poging verteenwoordig om die onbenoembare te benoem. Dit verteenwoordig ’n verleiding vergelykbaar met die een waaraan Adam en Eva in die paradys blootgestel is: om te word soos God. Om soos God te spreek, en dan kom dit wat ons benoem, tot stand (is dit saam met of ín die benoeming hier bý ons).
“Poëtisch taalgebruik is taalgebruik waarin in principe elk formeel element betekenis gaat dragen; huiselijk gezegd: poëzie is taal waarin álles er toe doet,” voeg Bronzwaer toe aangaande die uiting van dié begeerte in die digkuns.
T.T. Cloete (in Hoe om ’n gedig te ontleed, en in aansluiting by Cleanth Brooks) stel dit naastenby soos volg: Poësie is “totale kommunikasie” waarin alle elemente, selfs die suiwer komposisionele of sogenaamde tegniese elemente, ko-kommunikeer.
Maar Lacan sê nie verniet dat die begeerte na die imaginêre orde onvervuld moet bly nie. Die poëet, die gedigmaker, kan maar net daardie “goddelike”, oorspronklike, onmiddellike sê nastreef; probeer naboots. Want hy werk met (moderne) taal en digterlike vormelemente, dinge wat hoofsaaklik abstrak versimboliserend geword het – via ’n hele reeks kodes of interpretasiereëls. En die verikonisering kan slegs geskied op basis van gedeelde kennis tussen digter en lesers oor sodanige kodes.
Hieroor dan volgende keer meer.
Bronnelys
Aucamp, Hennie. 1992. Windperd: Opstelle oor kreatiewe skryfwerk. Pretoria: HAUM-literêr.
Bronzwaer, W. 1993. Lessen in Lyriek. Nieuwe Nederlandse poëtica. Nijmegen: Uitgeverij SUN.
Cloete, T.T. 1982. Hoe om ’n gedig te ontleed. Reuse-Blokboek 16. Pretoria & Kaapstad: Academica.
Du Plooy, Heilna. 1992. Semiotiek. In: Cloete, T.T. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUN-literêr.
Lotman, J. 1977. The structure of the artistic text. Translated by Ronald Vroom. Ann Arbor: University of Michigan Press.
Van der Merwe, Chris N., & Viljoen, Hein. 1998. Alkant olifant. ’n Inleiding tot die literatuurwetenskap. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies.
Van Vliet, Eddy. 1998. ’n Pleidooi vir die poësie (uit die Nederlands vertaal deur heilna du Plooy). Pretoria: Protea Boekhuis.
Van Zoest, A.J.A. 1978. Peirciaanse semiotiek. In Grivel, C. (red.). methoden in de literatuurwetenschap. Muiderberg: Dick Coutinho.