DONKER LIG
Daar was eenmaal ʼn man wat wou weet
of sy yskas se liggie wérklik uitdoof
elke keer as hy die deur toemaak.
Vir dae lank sit hy met sy neus
styf teen rubber en magneet –
oop en toe, oop en toe, oop en toe.
Oor die bevindings van dié eksperiment,
kan ons maar net spekuleer.
Die man, so verneem ek, is lankal weggesluit,
vir die res van sy lewe gepreserveer,
verkluim hy in ʼn kamer waar buisligte
dag en nag aanhou dreun.
Dalk kan ons tog één beginsel
uit hierdie storie distilleer:
ʼn Skrefie lig maak blykbaar dat jy
die donker nóg beter kan sien.