Op De Papieren Man se webblad lees ek dat Hilary Clinton, die Amerikaanse Minister van Buitelandse sake, onlangs ‘n standbeeld van Walt Whitman in Moskou – van alle plekke! – ingehuldig het. Die burgermeester van Moskou, Yuri Luzhkov, was ook teenwoordig by dié geleentheid. Die ironie is natuurlik dat Walt Whitman as eg Amerikaanse digter ook ‘n ikoon is in gay geledere vanweë sy uitgesproke homoseksualiteit. Daarteenoor is Luzhkov bekend vir sy haatspraak jeens gays. So het hy al na homoseksuele verwys as “satanisties” en alle “gay pride” parades in Moskou verbied.
Nikolaï Baïev, bekende Russsiese gay-aktivis, het Luzhkov se deelname as “grotesk” beskryf.
In haar toespraak het Clinton Walt Whitman aangehaal wat glo by geleentheid die volgende aan ‘n Rus gesê het: “You Russians, and we, Americans!… so far apart from each other, so seemingly different, and yet… in ways that are most important, our countries are so alike.”
Die standbeeld, wat deur die Moskouse beeldhouer Aleksandr Burganov gemaak is, staan by die Staatsuniversiteit van Moskou. Nog ‘n beeld deur Burganov, van die Russiese skrywer Aleksandr Poesjkin, is reeds in 2000 voor die George Washington Universiteit staangemaak.
Nou ja toe. Wie het ooit kon dink dat ‘n koue oorlog uiteindelik tot sóveel warmte sal kan lei? Nietemin, die volledige berig kan op Rianovosti se webblad gelees word. As toegif plaas ek Johann de Lange se gedig, Kommunie 1 hieronder.
***
Die enigste nuwe toevoeging tot die blad vanoggend is Ilse van Staden se blog-inskrywing waarin sy opgewonde raak oor ‘n bokser in ‘n boks. Kostelik. Dan het ons gister by monde van ‘n Spesiale Nuuswekker bekend gemaak dat Loftus Marais die Ingrid Jonker-prys gewen het. Die volledige persverklaring kan ook in die Brieweboks gelees word. Die prys sal gedurende Sessie 3 op 28 November tydens vanjaar se Versindaba aan hom oorhandig word. Die prys behels die beroemde medalje, plus ‘n nominale kontantbedrag. ‘n Omvattende berig deur Willem de Vries kan hier gelees word.
Lekker rondkliek vandag; die naweek staan immers reeds voor die deur.
Mooi bly.
LE
Kommunie I
Sondagaand, die promenade:
in kortbroeke en t-hemde
daag ons op: die gemeente
van die vlees
en Walt Whitman
was met ons,
hoogpriester,
met sy lang wit baard
en sy hande op ons almal
‘n benediksie op sweetblink lywe,
op ons tonge die kosbare wit
sakrament van die fallus.Ons ken hom ook daar
alleen in ‘n bieghokkie
waar ons kniel
voor die klein gode
wat deur ‘n loergat seën
en wywaters van die doop
op ons tonge laat reën.(c) Johann de Lange (Uit: Vleiswond, 1993: Human & Rousseau)