Verlede maand het Nuuswekker berig dat Katie Price (Jordan) se meerdelige outobiografie, Pushed to the limit, die boek is wat die meeste agtergelaat word in die hotelgroep Travelodge se 7,200 kamers. Pas het sy egter wéér die koerante gehaal toe die vrypostige skrywer Martin Amis (De Papieren Man verwys na hom as ‘n “woelwater”) bekend gemaak het dat hy dié rondborstige model as karakter by sy nuutste roman, State of England, ingeskryf het. Tydens die pasafgelope Hay Festival in London het hy sy voorneme ten gunste van Price as roman-karakter soos volg gemotiveer: “She has no waist, no arse … an interesting face … but all we are really worshipping is two bags of silicone.”
Hierdie aankondiging deur Amis volg kort op die hakke van die misdaadskrywer Lynda La Plante se onverbloemde aanval op Price tydens die oorhandiging van die Specsavers Crime Thriller Awards toe sy uitgevaar het teen die buitensporige bedrae geld wat deur uitgewers aan glanspersoonlikhede soos Price voorgeskiet word om hul knoeisels, waarna sy as “trite tripe” verwys het, te skryf. “Katie Price’s book outsold the Booker Prize list. She’s a terrible thing for young girls who just want pink welly boots,” het sy volgens The Telegraph se beriggewer gesê. Hiermee het La Plante glo verwys na die feit dat Price se tweede roman, Crystal, meer kopieë in 2007 verkoop het as die res van die boeke op Booker-prys se kortlys tesame. Verdermeer is sy verlede jaar in Desember genooi, nogals as genomineerde “Reading Hero”, om die premier te Downing Street 10 te ontmoet. En vroeër vanjaar was sy boonop deur The Bookseller Magazine aangewys as een van die 100 mees invloedryke persoonlikhede in die Britse boekbedryf.
In sý reaksie het Martin Amis na die plakker “Number One bestseller” op Price se boekomslae verwys en gesê dat hy dáárdie betiteling meer skrikwekkend vind as enigiets wat jy in haar boeke te lese kan kry … Nogtans is hy blykbaar vas van voorneme om die geykte klassifikasie van “ronde” en “plat” karakters heeltemal op sy kop te draai deur ‘n plat karakter met beduidende borsmaat te skep … (Of is dit “bruikleen”?)
Nou ja, toe. Maar watter toepaslike vers sal ek ten gunste van jou leesplesier vanoggend kan meegee? Aaa-a-a, natuurlik Koos Kombuis se “Dronk liefdesvers”. Hoe dan anders?! Dit is immers sy verjaarsdag vandag. Veels geluk, Koos. Mag daar sommer baie vreugde wees in jou huis vandag.
***
Ter afsluiting vestig ek graag jou aandag op Bernard Odendaal se resensie van Cas Vos se bundel “Intieme afwesige” wat gister geplaas is, en ook Andries Bezuidenhout wat met sy nuutste blog-aflewering nostalgies raak oor Afrikaanse musiek en die weermag na aanleiding van die End Conscription Campaign se makietie verlede naweek.
Lekker lees en hou tog die dinge bymekaar.
Mooi bly.
LE
Dronk liefdesvers
my begeerte is
‘n vrou wat l&m rook
en alles verstaan
met lang slanke bene
‘n maklike bankrekening
vriende oorsee
en twee ouers
(skatryk en feitlik gedaan)
ek sal haar dag en nag spring
ek sal vir haar gedigte bring
sy sal klein van postuur wees
sy moet iets nuuts in die afrikaanse kultuur wees
ek sal vakansies met haar gaan hou
haar in die riviera gaan afshow
‘n studeerkamer vol boeke om haar bou
soos ‘n huisie by die see
met prints van chagall
en originals van christo coetzee
ons sal dae deursit op nieblanke strandoorde
tot sy moeg raak vir my woorde
eendag
kry ek haar nog
(watch my tog)
brigitte brigitte
gee my jou tiete
dan leen ek jou my hande
© Koos Kombuis (Uit: Die geel kafee, 2003: Protea Boekhuis)
Dat ek nou op versindaba van Katie Price moet leer!!! Ek dink al geruime tyd dit is ‘n baie leersame webwerf – maar tot hierdie/daardie vlak het ek nie gedink ek gaan leer nie – ^^ (Oosterse glimlaggie!) – niks soos verskeidenheid om mens op-en-wakker te hou nie. Ook iets waarna mens nogal begin verlang na amper twee jaar in ‘n homogene kultuur soos Suid-Korea waarin ek myself tans bevind. Onlangs nogal met skok verneem dat die Noord-Koreane gemiddeld 10cm korter is as Suid-Koreane wat begin sukkel met oorgewigsprobleme – en dit toe ek vertel van ‘n verskil wat ek my verbeel ek waarneem tussen RSA en ROK – mense, veral vroue neig na kleiner in Suid-Afrika, en hier na groter – na ek ‘n Juluka video gewys het met nog groter swart Afrika mamas wat so lekker boogie en daar kommentaar daaroor was – ons mieliepap laat hulle kimchi na kinderspeletjies lyk – ^^ – waar Katie Price, waar ek laas was, inpas, weet ek nou nie meer nie! Dalk het Koos Kombuis se gedig my dronk gemaak – ^^