Die lied van die gebreekte riete
1 Die wind uit die Torwana-berge
2 het haar skoot vol mos
3 Sy dra ’n slapende kind
4 sy siteer die sterre
5 met die stem van breë waters
6 teen die wit gebeente van die dag
7 Die wind uit die Torwana-berge
8 oewerloos sonder horison sonder seisoene
9 het die gesig van alle mense
10 het die aalwyn van die wëreld voor haar bors
11 het die lam van alle vreugde oor haar skouer
12 en die laksman van elke dagbreek in haar oë
13 Die wind uit die Torwana-berge
14 met haar skoot vol mos
15 dra ’n slapende kind
16 dra ’n nag van distels
17 dra ’n dood sonder duisterheid
18 en waai deur die gebreekte riete
· Ingrid Jonker
Saam met ’n digter soos Peter Blum is Ingrid Jonker een van die wegbereiders van die vernuwing in die Afrikaanse poësie wat in die negentien-sestigerjare ingetree het.
’n Paar van die opvallendste kenmerke van Jonker se digwerk is die tot liriek omgestileerde spreektaligheid en die liedagtige kwaliteit daarvan. Daarby kom die dikwelse benutting van mitiese en volksliedagtige gegewens, die assosiatiewe eerder as tekenende beeldspraak, “die inkanterende gebruik van die herhaling […] en afwesigheid van interpunksie, wat tot verrassende jukstaposisies en funksionele dubbelsinnighede lei” (Kannemeyer, 1983:286).
In die bundel Rook en oker (1963), waarin “Die lied van die gebreekte riete” verskyn het, is Jonker kennelik deur die Nederlandse Vyftigers en die Franse surrealis Eluard beïnvloed. Hierdie invloede het ’n wegswaai van die “dwang van die bewaakte denke […] die tirannie van ’n logiese, estetiese, sosio-morele bewussyn” behels (Meiring, 1992:513). Haar poësie is daarom ryk aan die assosiatiewe beelde wat nie altyd logies beredeneer is nie; die vryeversvorm en die tipografie word deur haar benut, terwyl die leestekengebruik meestal agterweë bly.
Van bogenoemde is “Die lied van die gebreekte riete” ’n redelik goeie voorbeeld.
Vrae
1. Die wind word in hierdie gedig gepersonifieer, en wel as vrou. Watter aanduidings is daar in die gedig dat die wind vroulik is?
Die voornaamwoorde sy en haar, die verwysing na die “skoot vol mos” (= vrugbaarheid) en die “slapende kind” wat sy dra.
2. Wat word alles aangaande die “wind uit die Torwana-berge” in strofe 1 meegedeel? Is daar dalk ’n gemeenskaplike noemer tussen al die beelde wat haar so kenmerk?
Dat sy ’n skoot vol mos het, ’n slapende kind dra, die sterre “siteer” en ’n stem het wat aan die geluid van “breë waters” herinner. Die gemeenskaplike noemer is waarskynlik vrugbaarheid of lewegewendheid. Die “skoot vol mos” en die kind wat sy dra suggereer dit redelik pertinent. Sterre as die lig- en energiekerne van sonnestelsels en water as lewensnoodsaaklike element is egter ook hiermee in verband te bring, hoewel nie so direk nie.
Die beelde kan egter ook ander betekenisassosiasies hê. Sadie (1978:386-387) skryf byvoorbeeld die volgende: “As draer van die slapende kind word sy (= die wind — BJO) ’n soort troosterfiguur, die versorgende en sorgsame, maar dit is net een van haar eienskappe. Sy is betrokke by die kosmiese sowel as by die aardse kleinighede; sy versoen uiterstes en teenstrydighede. So stel sy — met die stem van breë waters — die sinrykheid van die ewige sterre, simbool van hoop vir die mens in die duisternis, teen die wit gebeente van die dag.”
3. Hoe moet “siteer” in versreël 4 geïnterpreteer word?
Nie as “aanhaal” nie, maar eerder as “suggereer”, “laat dink aan” of “herinner aan”. (Kyk Driesse, 1971:84.)
4. Hoe kontrasteer “die wit gebeente van die dag” met die res van die beelde in strofe 1?
Teenoor die beelde van vrugbaarheid en lewenskrag staan hierdie beeld wat totale gestrooptheid en doodsheid oproep. Die wind word in hierdie strofe dus as ’n positiewe teenvoeter vir die doodse dag geteken.
5. Gaan nou die beelde in strofe 2 na. Skryf neer wat hier aangaande die wind gesê word, en probeer ook ’n gemeenskaplike noemer hier vind.
Dat dit onbegrens is wat ruimte en tyd betref (“oewerloos sonder horison sonder seisoene”), dat dit alle mense verteenwoordig (derde versreël), dat dit die bitterheid (en/of skoonheid — kyk Sadie, 1978:387) van die wêreld inhou (vierde versreël), maar ook “alle vreugde” (versreël 5) en die doodsdreiging “van elke dagbreek” (versreël 6). (Beklemtoning deur my — BJO.) Die gemeenskaphike noemer hier is waarskynlik iets soos onbegrensdheid (Driesse, 1971:82), omvattendheid of algemeen-geldigheid.
6. Die wind hou dus sowel positiewe as negatiewe dinge in. [Dis iets wat nogal kenmerkend van Jonker se poësie is: die “kierang-spel in lewe en liefde” (Nienaber, Roodt en Snyman, 1994:138).] Toon aan hoe hierdie teenstellings ook in die derde, ‘samevattende’ strofe tot uitdrukking kom.
Vrugbaarheids- (reëls 2 en 3) sowel as ondergangsbeelde (reëls 4 en 5) kom in hierdie strofe voor. In versreël 5 van hierdie strofe staan die teenstellings selfs paradoksaal langs mekaar: “’n dood sonder duisterheid”.
7. Watter assosiasies ward na jou mening deur die beeld “n nag van distels” opgeroep?
Waarskynlik dinge soos onheil, teistering en pyn, selfs iets soos ’n doodsworsteling.
8. Toon die semantiese ooreenkomste aan tussen die slotreëls van die eerste drie strofes.
Dood/doodsdreiging word in al drie gesuggereer, maar telkens staan dit paradoksaal in verband met lig/dag.
9. Probeer nou sê waarvan die wind in hierdie gedig ’n beeld af simbool is.
Omdat dit mitiese kwaliteite aanneem en uitgebou word tot simbool, is dit moeilik om met ’n enkele woord te sê. Die surrealistiese beelde, wat die grense van die logiese oorskry en teenstrydighede soos die tussen lewe en dood ophef, dra by daartoe om die presiese betekenis moeilik uitsegbaar te maak. Dit verteenwoordig in elk geval iets soos ’n lewegewende krag wat, ten spyte van beproewings en doodsdreigings, tot ’n oorstyging of sublimering van die immanente dood lei.
Sadie (1978:387) stel dit só: “Met haar ‘gesig van alle mense’ verteenwoordig sy die universele rnenslikheid, maar as draer van jong lewe — die slapende kind — en draer van ’n dood sonder duisterheid styg sy uit bo die bloot menslike. Haar portret, uiteindelik, is die van ’n bonatuurlike wese, ’n soort argetipiese vrouefiguur, wie se invloed onrneetlik wyd uitstrek.” Ook Van Wyk (1999:31) skryf dat die wind “bo die menslike” uitstyg.
Waarskynlik sluit ook die verwysing na die “Torwana-berge” by hierdie mitiese inslag aan. In ’n brief aan Uys Krige gedateer Augustus 1959 (opgeneem in Metelerkamp2003:94-95) skryf Jonker uit Johannesburg dat sy die gedig geskryf het “na ’n toertjie na die fantastiese Torwana-berge”. ’n Mens soek egter tevergeefs na die Torwana-berge in atlasse soos Reader’s Digest Atlas of Southern Africa (1984), The Reader’s Digest Great World Atlas (1981) en Dorling Kindersley se Wêreldatlas (1998), of selfs in ’n Suid-Afrikaanse reisgids soos Erasmus (1995) se Op pad in Suid-Afrika. Is dié berge ’n versinsel van Jonker, of ’n naam wat sy gegee het aan berge wat eintlik onder ’n ander naam bekendstaan?
10. Probeer ook die slotstrofe in die lig van bogenoemde verklaar. Sê m.a.w. wie/wat die “gebreekte riete” kan wees, en verduidelik ook of “waai” iets positiefs soos heling, of iets negatiefs soos vernietiging impliseer.
In die lig van die bogenoernde interpretasie moet die riete in die slotstrofe as die ontvanger(s) van die lewegewende krag (soos versimboliseer deur die wind) gesien word. Die riete is “gebreek”, dus beskadig of verwond, en kan sowel die natuur as die mens, of selfs ’n of die mens se innerlike verbeeld. Die personifiëring van die wind in die res van die gedig regverdig die interpretasie dat die riete ook iets mensliks kan verteenwoordig.
Die “waai” van die wind impliseer dus waarskynlik iets soos heling of onderskraging.
Dit moet egter weer gesê word dat die simboliek nie eenduidig hoef te wees nie, om dieselfde redes as in antwoord 9 genoem. Sadie (1978:388-389) wys byvoorbeeld daarop dat die “gebreekte riete” verband kan hou met die uitdrukking “’n geknakte riet”, waarmee verwys word na ’n persoon waarop ’n mens nie kan staatmaak nie. Sy haal in dié verband tekste uit 2 Konings 18:21 en Jesaja 36:6 aan. Sy noem ook dat die Engelssprekende Suid-Afrikaanse skrywer Jack Cope verklaar het dat Jonker die gedig geskryf het na aanleiding van ’n uitdrukking wat hy gebruik het. Hy het naamlik gesê dat hy sukkel om sy twee kinders groot te maak en op te voed, dat “I’m just like an old broken reed”. (In die reeds vermelde brief van Jonker aan Uys Krige skryf sy egter: “Jack het ’n maand gelede aan my geskryf ‘ Uys thinks you’re a broken reed,’ wat ’n baie groot indruk op my gelaat het, en ek het ’n gedig geskryf van die gebreekte riete[.]”)
In die lig hiervan verklaar Sadie dan: “Daar is niks in die gedig wat aantoon dat die wind die oorsaak is van die breek van die riete nie, dit waai net deur die riete. Miskien is dit juis die gesuis van die wind deur die riete wat die ‘lied’ in die titel van die gedig verskaf. In elk geval is daar kontak tussen wind en riete, waardeur die riete as’t ware bewus gemaak moet word van die onbegrensde, veel omvattende vroulike persoonlikheid, ongebonde deur tyd of ruimte: die versorgende en versoenende teenwoordigheid.”
11. Toon aan dat die gedig basies uit sesreëlige strofes opgebou is.
Die eerste twee strofes is sesreëlig, en as die enkelreëlige slotstrofe as deel van die derde gesien word, kan eintlik gesê word dat die gedig uit drie sesreëlige strofes bestaan. Sadie (1978:388) toon aan dat die gedig inderdaad eers só in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer was. Die uitplasing van die slotreël om ’n selfstandige strofe te vorm, het ’n sterk beklemtonende en ook klimaktiserende funksie.
12. Driesse (1971:79-81) het onder andere ernstige bedenkinge oor die gepastheid en funksionaliteit van die gedigtitel. Volgens hom gaan dit in die gedig eintlik nie oor die riete nie, maar is die wind die hooffiguur.
Om iets van die wind in die titel te gehad het, sou dus meer gepas gewees het. Bowendien wonder hy wie dan nou eintlik die “lied” sing waarvan daar in die titel sprake is. Die riete, of iemand anders? Ook is die woordjie “van” hier vir horn dubbelsinnig. Beteken dit “oor”, “in verband met” of selfs “deur”? En waarom is die riete “gebreek”? Wat/wie het dit veroorsaak? Daar is volgens hom nie aanduidings in die gedig wat hierdie vrae beantwoord nie.
Neem nou alles wat tot dusver oor die gedig gesê is in ag, en gee dan jou opinie oor die funksionaliteit, al dan nie, van die titel wat Jonker gekies het.
Op eerste sig lyk dit of Driesse wel ’n punt of twee beet het. Miskien het Jonker self iets van Driesse se eerste beswaar aangevoel en deur die uitplasing van die slotreël gepoog om groter prominensie aan die riete te verleen. Dit is wel so dat die wind eintlik die gedig oorheers.
Maar wie sing inderdaad die “lied”? Dit kan net dui op die geluid wat die wind maak as dit deur die riete waai. Só gesien, moet die “van” in die titel geïnterpreteer word as “deur”. Dit is ’n lied deur die riete oor die “wind uit die Torwana-berge”. Omdat dit ’n wind is met ’n oorwegend positiewe uitwerking, moet dit dus as ’n soort loflied gesien word, ’n getuienis deur die verwondes en versukkeldes van ’n helende, onderskragende krag.
In die lig hiervan is die titel dus nie onvanpas nie. Die wind is die oorheersende faktor, maar die bestaan en uitwerking daarvan word eintlik slegs rugbaar in “die lied van die gebreekte riete”.
Die parallelistiese sinskonstruksies en ander herhalings (beelde, woorde) dra die “lied”-karakter van die gedig. Saam met die sesreëlige strofebou bewerkstellig dit ’n patroonmatigheid en reëlmaat wat liedagtig aandoen. Dit verbaas dus nie dat “Die lied van die gebreekte riete” een van die Jonker-gedigte is wat op treffende wyse getoonset kon word deur Chris Chameleon vir sy gewilde CD Ek herhaal jou (2005) nie.
Bernard Odendaal, Universiteit van die Vrystaat
Bronnelys
Chameleon, Chris. 2005. Ek herhaal jou. Suid-Afrika: Rhythm Records.
Driesse, O.E. 1971. Die poësie van Ingrid Jonker. M.A.-verhandeling. Universiteit van Kaapstad.
Erasmus, B.P.J. 1995. Op pad in Suid-Afrika. Johannesburg: Jonathan Ball Uitgewers.
Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur, Band 2. Kaapstad en Pretoria: Academica.
Kindersley, Dorling. 1998. Wêreldatlas. Londen: Dorling Kindersley Limited.
Meiring, E. 1992. Surrealisme. In: Cloete, T.T. (red.). Literére terme en teorieë. Pretoria: HAUM-Literêr. Pp. 512-514.
Metelerkamp, Petrovna. 2003. Ingrid Jonker: Beeld van ’n digterslewe. Hermanus: Hemel & See Vermont.
Nienaber, P.J.; Roodt, P.H.; en Snyman, N.J. (samestellers). 1994. Digters en Digkuns. Vyfde uitgawe, eerste druk. Midrand: Perskor-uitgewers Beperk.
Reader’s Digest. 1981. Great World Atlas. Kaapstad: The Reader’s Digest Association South Africa.
Reader’s Digest. 1984. Atlas of Southern Africa. Londen, New York, ensovoorts: The Reader’s Digest Association.
Sadie, E. 1978. Ingrid Jonker— ’n monografie. D.Phil-proefskrif, Universiteit van Natal, Pietermaritzburg.
Van Wyk, Johan. 1999. Gesig van die liefde: Ingrid Jonker. Durban: Selfuitgawe.