Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
19 November 200916 June 2024

Emily Dickinson – vertaling in Afrikaans

Emily Dickinson – vertaal deur Lina Spies & D.J. Opperman

 

 

‘n Ruiker vir Emily

Emily Dickinson

I

Voorneme

Sê nou ek sê: ek sal nie wag?

sê nou ek sê: ek breek vandag

nog uit dié liggaam wat my hou

ontvlug, my lief, bevry na jou?

O, ek sal als vergeet van leed

wat somers was aan my en sweet

en winters was en kou.

II

Verlangliedjie

As jy weer in die herfs sal kom

dan word die somer vaal

en kan ek uit my hart se klop

net dié verwagting haal:

geen vreugde oor die groen en blou

want als wat bloei en als wat sing

word in dié jubeltyd gering

voor daardie koms van jou.

En as jy dan nog talm

word ek die een wat sweef

om oor seisoene in die son

so ligweg by jou uit te kom:

Ek sal ’n flikkerstoffie

jou oë dol rinkink

dan word jy van die liefde

soos ek uiteindelik blind.

Maar ek bly tog van vlees en bloed

en tel met kinderryme

my vingers dat hul pyn –

“Eina Deina Dana Das” –

wanneer hou jy my vas?

III

Versoek

Vang in ’n bokaal

die son as hy in die Weste daal.

Klink op die môre ’n heildronk

dat oor die kranse amber en rooi

die dagbreek ontdooi.

Sê my: wie weef die blou

soms so skugter, so sag

dat in my arms die sfere oornag?

Tel noot vir noot die tremolo

as in verbaasde takke

Piet-my-vrou weer wysie hou.

En die lighoofdige by,

hoeveel snapsies drink hy

van die môre se dou?

Wie het my Boland-huis gebou,

die gewels so hoog, die luike so dig,

net die berge my sig?

Wie laat my watter feesdag

uit hierdie skoonheid, uit hierdie sel?

Wie ryg die krale van die stalagmiet,

wie tel die drup-drup van my verdriet?

Skryf, sê, vertel –

stuur jou woorde, jou liefde

in die koker van die lugtige libel.

IV

In die skaduwees

 Ek het die Piet-my-vrou gevrees,

gehoop my ore suis

maar dig-te-by hoor ek hom aan

nou byna al bedees.

Sy vreugderoep het ek gedink

sal soos ’n mes kan sny:

daarna sou nooit ’n jubelnoot

my weer kon hartseer kry.

Die affodille is ’n gloed,

’n kleed so vreemd aan my:

ek wou dat hulle knoppies

vir altyd toe kon bly.

Ek het gewens die gras groei ruig

oornag tot bo my hoof

dat met sagte halms

hul laag oor my sou buig.

Maar ek die wegkruipmeisie

is oog nog oor gespaar:

nie een wat hierdie voorjaar

om my ontwil versuim –

voorwaar, hul’t almal opgedaag

om met hul dom luidrugtigheid

ook my te kom behaag.

V

Straal daar weer oor my ’n môre,

breek ooit weer vir my die dag?

As ek hoog was soos die berge,

sou ek rustig daarop wag?

Gaan dit op ’n vreemde vywer

soos ’n waterlelie oop?

Kan ek oor die donker kolke

veilig na die rooidag loop?

Ek is ’n verdwaalde pelgrim,

gryp my, Here, as ek sink!

Wys met ’n bedaarde vinger

waar die môre na my wink.

VI

Daag die voorjaarsangers op

en ek leef nie meer,

sal jy jou vergewis

dat op die grasperk

daar vir die lyster

iets te ete is?

Breek tot my gedagtenis

krummels vir die outjie van olyf

en weet hoe deur bevrore lippe

ek my dankie wryf.

VII

Hart, ons sal hom vergeet,

jy en ek vannag!

Sy warmte sal ek vergeet,

vergeet jy sy lig en lag.

Vermaan my as jy klaar is

voor blink gedagtes kom:

Haas jou, hart, wat draal jy?

Netnou onthou ek hom!

VIII

Die antwoord

In die hemel se klaskamer

sal ek eendag als verstaan

as ek voor die Meester staan.

Met salwing vir die seerste plek

 – soos Hy in sy Woord beloof –

sal Hy die angel uit my trek,

elke pyn vir goed verdoof.

Ek sal elke smart vergeet

waarvoor ek geen rede weet,

met my aarselende hand

eindelik vasgryp aan sy kleed.

IX

Diens

Ek hou die sabbat deur tuis te bly;

ander woon ’n kerkdiens by.

Dis ’n boomgaard wat my koepel bou,

een koorlid is ’n Piet-my-vrou.

Geen predikant wat my verveel:

ek hoor alleen dié soet gekweel.

Geen koster lui sy somber klok:

ek’s ’n pelgrim sonder Sondagrok.

God – die Meesterdominee –

voer in my kerk die woord

en ek – hemelsgelukkig –

luister ongestoord.

X

Vliegvermoë

Vaagweg bevoeg om te kan vlieg,

versmaai ek my kledy:

uit knel en knyp van my kokon

kan vlerke my bevry.

’n Swiep van silwer, sweem van blou –

ek snak na wolk en lug!

Die hemel is bedag op my

wat fronsende sy skitter lees.

Om te kan sweef, is vlinderkrag

maar ek bly onbeholpe haak

en stotter as die seine doof

vir digterlike spraak.

  *

Om ‘n Karoo te skep het jy
‘n vygie nodig en een by,
een vygie en ‘n by
en mymery;
is bye skaars
dan net die mymery.

(Vertaal deur D.J. Opperman, & opgeneem in: Lina Spies, Die Enkel Taak, HAUM-Literêr).

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Philip Larkin – vertaling in Afrikaans
Stephen Spender – vertaling in Afrikaans →

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Koos de Wet. vóór die smelting
  • Digtersprofiel: Gert Vlok Nel
  • Meyer van Rensburg. Spieëlkamer
  • Margaret Cordier-Biermann. Verlossing
  • Wynand J Booysen. koue afgrond

Nuutste kommentaar

  1. Miel Vanstreels on Miel Vanstreels. Voorlopig1 August 2026

    Dankie, Marieta

  2. Conrad on Hans du Plessis. Psalm 121 (Stemgreep)30 July 2026

    Goeie middag ek is n koorleier van die VGK Kerk Kraaifontein en is op soek na die SATB Blad musiek…

  3. Marieta McGrath on Miel Vanstreels. Voorlopig30 July 2026

    Stout gedig! Baie snaaks!

  4. Bernie on Rainer Maria Rilke. Almal wat Jou soek, beproef Jou (vert.)29 July 2026

    Kan die vertaler dalk verduidelik waarom hy hoofletters gebruik in sy vertaling terwyl Rilke kleinletters gebruik.

  5. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Plaagbeheer28 July 2026

    Ja, hoe beheer ‘n mens die plaag waarvan in die slotreël gewag gemaak word …?

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d