Emily Dickinson – vertaling in Afrikaans
Emily Dickinson – vertaal deur Lina Spies & D.J. Opperman
‘n Ruiker vir Emily
Emily Dickinson
I
Voorneme
Sê nou ek sê: ek sal nie wag?
sê nou ek sê: ek breek vandag
nog uit dié liggaam wat my hou
ontvlug, my lief, bevry na jou?
O, ek sal als vergeet van leed
wat somers was aan my en sweet
en winters was en kou.
II
Verlangliedjie
As jy weer in die herfs sal kom
dan word die somer vaal
en kan ek uit my hart se klop
net dié verwagting haal:
geen vreugde oor die groen en blou
want als wat bloei en als wat sing
word in dié jubeltyd gering
voor daardie koms van jou.
En as jy dan nog talm
word ek die een wat sweef
om oor seisoene in die son
so ligweg by jou uit te kom:
Ek sal ’n flikkerstoffie
jou oë dol rinkink
dan word jy van die liefde
soos ek uiteindelik blind.
Maar ek bly tog van vlees en bloed
en tel met kinderryme
my vingers dat hul pyn –
“Eina Deina Dana Das” –
wanneer hou jy my vas?
III
Versoek
Vang in ’n bokaal
die son as hy in die Weste daal.
Klink op die môre ’n heildronk
dat oor die kranse amber en rooi
die dagbreek ontdooi.
Sê my: wie weef die blou
soms so skugter, so sag
dat in my arms die sfere oornag?
Tel noot vir noot die tremolo
as in verbaasde takke
Piet-my-vrou weer wysie hou.
En die lighoofdige by,
hoeveel snapsies drink hy
van die môre se dou?
Wie het my Boland-huis gebou,
die gewels so hoog, die luike so dig,
net die berge my sig?
Wie laat my watter feesdag
uit hierdie skoonheid, uit hierdie sel?
Wie ryg die krale van die stalagmiet,
wie tel die drup-drup van my verdriet?
Skryf, sê, vertel –
stuur jou woorde, jou liefde
in die koker van die lugtige libel.
IV
In die skaduwees
Ek het die Piet-my-vrou gevrees,
gehoop my ore suis
maar dig-te-by hoor ek hom aan
nou byna al bedees.
Sy vreugderoep het ek gedink
sal soos ’n mes kan sny:
daarna sou nooit ’n jubelnoot
my weer kon hartseer kry.
Die affodille is ’n gloed,
’n kleed so vreemd aan my:
ek wou dat hulle knoppies
vir altyd toe kon bly.
Ek het gewens die gras groei ruig
oornag tot bo my hoof
dat met sagte halms
hul laag oor my sou buig.
Maar ek die wegkruipmeisie
is oog nog oor gespaar:
nie een wat hierdie voorjaar
om my ontwil versuim –
voorwaar, hul’t almal opgedaag
om met hul dom luidrugtigheid
ook my te kom behaag.
V
Straal daar weer oor my ’n môre,
breek ooit weer vir my die dag?
As ek hoog was soos die berge,
sou ek rustig daarop wag?
Gaan dit op ’n vreemde vywer
soos ’n waterlelie oop?
Kan ek oor die donker kolke
veilig na die rooidag loop?
Ek is ’n verdwaalde pelgrim,
gryp my, Here, as ek sink!
Wys met ’n bedaarde vinger
waar die môre na my wink.
VI
Daag die voorjaarsangers op
en ek leef nie meer,
sal jy jou vergewis
dat op die grasperk
daar vir die lyster
iets te ete is?
Breek tot my gedagtenis
krummels vir die outjie van olyf
en weet hoe deur bevrore lippe
ek my dankie wryf.
VII
Hart, ons sal hom vergeet,
jy en ek vannag!
Sy warmte sal ek vergeet,
vergeet jy sy lig en lag.
Vermaan my as jy klaar is
voor blink gedagtes kom:
Haas jou, hart, wat draal jy?
Netnou onthou ek hom!
VIII
Die antwoord
In die hemel se klaskamer
sal ek eendag als verstaan
as ek voor die Meester staan.
Met salwing vir die seerste plek
– soos Hy in sy Woord beloof –
sal Hy die angel uit my trek,
elke pyn vir goed verdoof.
Ek sal elke smart vergeet
waarvoor ek geen rede weet,
met my aarselende hand
eindelik vasgryp aan sy kleed.
IX
Diens
Ek hou die sabbat deur tuis te bly;
ander woon ’n kerkdiens by.
Dis ’n boomgaard wat my koepel bou,
een koorlid is ’n Piet-my-vrou.
Geen predikant wat my verveel:
ek hoor alleen dié soet gekweel.
Geen koster lui sy somber klok:
ek’s ’n pelgrim sonder Sondagrok.
God – die Meesterdominee –
voer in my kerk die woord
en ek – hemelsgelukkig –
luister ongestoord.
X
Vliegvermoë
Vaagweg bevoeg om te kan vlieg,
versmaai ek my kledy:
uit knel en knyp van my kokon
kan vlerke my bevry.
’n Swiep van silwer, sweem van blou –
ek snak na wolk en lug!
Die hemel is bedag op my
wat fronsende sy skitter lees.
Om te kan sweef, is vlinderkrag
maar ek bly onbeholpe haak
en stotter as die seine doof
vir digterlike spraak.
*
Om ‘n Karoo te skep het jy
‘n vygie nodig en een by,
een vygie en ‘n by
en mymery;
is bye skaars
dan net die mymery.
(Vertaal deur D.J. Opperman, & opgeneem in: Lina Spies, Die Enkel Taak, HAUM-Literêr).