Spieëlkamer
‘n Kamer vol spieëls wys
laag op laag, legio weerkaatsings,
van wat voor dit is: in kleur of in grys,
swart of helderwit: onderling
repeterend, een na die ander,
die toekoms in, sonder om te verander
oorvleuelend en tog afgesonder
waaroor jý nou peins en wonder.
Maar, Wyk, jy sien in die nagalms
‘n arend, sfinks en ‘n bul
in die hele mensdom
en is dit wat jóu diepste self vul:
die menseras se wrede spel,
in ‘n selfgemaakte pynvolle hel
wat brand en vlam en gloei
en bleek in al sy dieptes bloei ?
Hoor hier in ons geslote weerklank
die brul van die bul se magshonger
‘n brute tirannieke mag, hier ingebank
bloeddorstig in die blinkdonker
trots en wellustig bevlek en ontbloot
met halfmaan horings en hoewe van die dood.
Uit die grenslose kunsmatige ruim
is daar geen ontsnapping nie? Die vuil-vaal
eeu-oue skadu van die tiran wat kleim
afsteek, woel en leef: dis oor en oor bewys
in die menslike geskied-verhaal
se betreurenswaardige lys.
Beskou die arrogante sfinks: ‘n sand-geel
kolossale magstruktuur in die woestyn
onmenslik koud wat in geheel
in absolute afsydigheid heers
onbetrokke verhewe bo die mens se pyn.
Die arend: Imperialisties en hoogmoedig
met nek gestrek en vorentoe geboë
‘n mag wat ongevoelig toeslaan uit die lug
wreed soos die donderende blits
skraal smal kop met koue goudgeel oë
sy klou en snawel slaan toe in ‘n kits.
Hy wat deur eeue sonder rus
trek, oor ryke en oor grense
sirkel, soek en sweef
sy skadu val telkens oor die mens
en hy verorber als wat leef.
Dié gestaltes waarteen jy ons hier wil waarsku
oor die lyding wat hul bring is permanent
jy vrees dié dier-instinkte het alreeds kru
hul koms gemaak: argeloos in hul raffinement
Kan jy dan met jou beiteltjie se krag
‘n bars slaan soos Germanicus
jou verset uitkap om te vermag
dat die mensdom in vrede sal kan rus?
want liewer om te sterwe in ‘n stryd
as om in ‘n slawe staat te lewe
so nie bly ’n stewel in die ewigheid
op menslike gesigte gestamp en bewe
nasies en rasse in nood en nyd
Ons het jou spieëls gesien en herken hulle nou:
hierdie magsbeelde wat in ons hou
gekamoefleer na aan die lig
van die blink daeraad wat die nag oorbrug.
Laat ons refleksies splinter, kraak en breek
want hierdie wrede arend, sfinks en bees
is juis Raka wat hom só versteek
teen wie Koki veg om voluit mens te kan wees.
© Meyer van Rensburg, 2026
