Twee mombakkiesliedjies
1.
ons sandkasteel
dun gewaai deur die seewind
trotseer die gety
met my wat binne skuil
agter ’n skulpiesdeur
ek hoor nie jou stem
bo die golwe en sandgewaai
die wind stop my ore toe
met klonte nat sand
sweepslae teen my kaal bene
as ek droom van jou
is jy net ‘n bek vol sand
toegewaai op ’n vergete stuk kus
met die krappe
wat aan jou oë knaag
ek smag na die stormslag
wat ons kasteel se ringmure
gaan insuig in sy vaart en veeg
2.
dié stad het genoeg verblyf
vir altwee se eensaamheid
teenoor mekaar
in twee woonstelle
die slaap inwag
met wange teen die klokradio
in aparte woonstelle
dieselfde rituele volg
altwee kan hoop
vir die buitelyne van ’n lyf
teen die plafon
altwee kan porn kyk in eie bed
en alleen kom
in dieselfde straat
by dieselfde winkel
kan altwee koop en koffie drink
sonder om ooit
met mekaar
te praat
of nommers uit te ruil
© Marius Crous, 2025
