bewys van betaling
‘n kontantstrokie kom
tussen HAT bladsye:
‘Mohammedaan’
en ‘mooiprater’, uit
op 3 Maart 2004
het ek skynbaar
iets by Zoot gekoop
iewers in ‘n mall
dit was vóór
my hare lank was
maar ná my man
dood is in die nag
mooi behoue,
nog leesbaar met
een totaalbedrag
asook kleingeld
vir honderd rand
waar kan mens
nog iets iets
wat héél
vir soveel koop?
laas, nikkerballs of
‘kiss me’ lekkers
by uncle Rogat
of ‘n grenadella-ysie
by Dappat se Gat
soggens in die spieël
en saans
van my knieë af
sien en hoor ek
hoe ek knars
en ek verwys
na die strokie
onderaan:
‘we regret, no refunds’
© Anne-Marie Bartie, 2025
