Andries Bezuidenhout. Die Martinskirche in Kassel

Op die trein tussen Witzenhausen en Kassel sit en kyk ek na die versadigde Duitse landskap. Elke keer as ons deur ʼn tonnel ry, sien ek die ander passasiers in die vensters. Ek verkyk my aan hulle monde. Kry Duitsers sulke afgeremde plooie om hulle mondhoeke omdat hulle die klinkers so moet afbyt en dan insluk? Rasper die medeklinkers hulle verhemeltes soos growwe brood vir ontbyt? Die ou vrou met die flenniejas sit met moeë kake, die spiere om haar mond hang slap.

Kassel is deur bomme in die Tweede Wêreldoorlog plategevee, deels omdat daar ʼn wapenfabriek was. Hier is ʼn foto van die Martinskirche in 1910:

 

Die volgende een kom uit 1930:

En toe, ná die oorlog:

Dis hoe die Martinskirche vandag lyk, veel nederiger:

 

Ek het vir ʼn uur lank in Wilhelmshöhe Allee afgestap. Van die middedorp af, verby die stasie, tot in die voorstede. Daar is nie honde wat vir jou blaf as jy hier stap nie. Vroue stap alleen op straat. Maar tog kan jy die verlede se trauma sien. Sommige geboue het klipfondamente, maar mure is bo-op herbou. Baie geboue kom uit die 1950s. Soms kom jy onverwags op ʼn massiewe boom af. Langsaan staan ʼn ou gebou, rooi bakstene, seker middel-1800s. Die bomme het nie hier geval nie.

In die vorige eeu is 40 miljoen mense in Europa in oorloë dood. Ek dink aan iets wat Johannes Kerkorrel gesing het: “En miljoene jong soldate het gebloei in hierdie klei…”

Ek dink weer aan die vrou op die trein. ‘n Mens wonder wat sy alles saam met haar dra.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •