met toekomsvoorstelle, gesien binne maatskaplike konteks
Die Versindaba 2009, onder die beskerming en reëling van Marlise Joubert en Louis Esterhuizen, het ten einde geloop.
Dit was ’n groot voorreg om deel te kon wees daarvan, al het ek nou ook vir ‘n bespreking totaal onvoorbereid opgedaag en nuwe betekenis gegee aan die frase “’n mond vol tande”. Vir elke openbare bespreking wat in die wêreld plaasvind, is daar ‘n tandarts wat wag om te gebeur. Maar die vorige aand se wyn was lekker.
In vele opsigte was Versindaba ’n sege. Versindaba het in die afgelope vyf jaar wat dit bestaan ‘n toenemend belangrike rol gespeel, veral ook omdat dit die genot wat daar uit die poësie te verkry is, so sterk beklemtoon. Dis ’n lieflike, kleurryke basaar van beeld en skaduwee en ook, belangrik, besinning (in die lesings wat aangebied word).
Die sukses daarvan is nie te betwyfel nie. Louis Esterhuizen, die mede-organiseerder, het beslis in sy doel geslaag: om die “diversiteit” (sy woord) wat bestaan in die Afrikaanse poësie, ten toon te stel.
Versindaba die fees staan nou voor ’n waterskeiding. Die organisasie daarvan gaan deur andere oorgeneem word (dis steeds nie seker deur wie nie). Louis is besig met die politiek daarvan. Elke verhoog het maar sy katakombes.
Daar was vir my veral drie hoogtepunte vanjaar. My gunsteling voorlesing was Cas Vos. Dit was kort, maar daarom miskien die impak: élke gedig skitterend. Met iets Oud-Grieks in die waardigheid: die Stoïsynse klipgekaptheid daarvan onder die verlate skemer-uitspansel. Hoe dit dreig om die digter soos papier toe te vou, maar die geluidmaker stáán by sy podiumpie. Hoe seg die Italiaanse digter nou weer? “Ek staan op die rand van die aarde, deur ’n enkele straal deurboor, en dan is dit aand.”
Ai, nou voel ek sommer jammer vir ons almal. Sommer vir al die digters wat daar gelees het.
Gisteraand toe ek by my eensame hideout terugkom, waar my lessenaar staan en waar ek my geld moet verdien met vryskutwerk, wie bel my? Gert Vlok Nel. Die Burgemeester van Ver, soos hy homself noem. Nee, hy wil net sê dat hy lief is vir my. Hy is bietjie dronk, sien, en dis ’n goeie tyd vir sulke woorde. Ek kon sommer sien hoe loer daai opgestopte bokkoppe teen die mure van die gemeenskapsaal/ slash/ kroeg vir Gert. Die goed slaap nooit nie. Dis ’n kroeg met ’n vloer so wyd soos die Heer se genade, slash. Gewoonlik met net een customer op. Ek het maar erg melankolies gevoel voor die oproep. Toe voel ek sommer weer lus vir aangaan. Ironies: Want dit was Gert self wat die onderskraging op daardie oomblik dalk meer nodig gehad het. Mens gee mos gewoonlik wat jy self die meeste nodig het. Veral as jy ou Gert is.
Êniewááys. Waar was ek?
Tweede hoogtepunt. Die erkenning wat aan Vincent Oliphant gegaan het in ‘n lesing deur Dianne Ferrus. Oliphant is ’n sogenaamde “bruin” digter (soos wat ek ‘n sogenaamde “wit” een is) en hy beliggaam die in skadu gehulde gedeelte van dit wat die Afrikaanse maan genoem kan word.
Hoogtepunt nommer drie. Die vertalings in Afrikaans van enkele gedigte van Paul Celan, gedoen deur Antjie Krog. Sy het dit ook voorgelees in die konteks van ‘n uitstekende lesing getiteld “My ontnugtering tot die poësie”. My onmiddelike indruk was: Ek het nog nooit sulke treffende vertalings van Celan gehoor nie, en ek het omtrent alles van Celan wat in Engels beskikbaar is gelees, ook sommige van wat in Nederlands beskikbaar is.
Die sinergie wat Krog blootlê tussen Duits en Afrikaans is tot op die naatsteek, steek vir steek, pynlik in die kol. Hier het ons vertalings van een van die grooste na-oorlogse Europese digters, en ’n moelik vertaalbare digter, wat meeste ander vertalings daarvan laat verdof op die papier – en dit in Afrikaans! Sy het dit ook asembenewend goed voorgedra.
Celan was ’n Roemeen wat in Roemeens sowel as Duits geskryf het, maar sy grootste gedigte is ongetwyfeld in Duits. As synde ’n Jood, was hy outsider-“Duitser”. Hy het dan ook meestal in Parys gewoon. Hy het die Jode-uitdelging oorleef nadat sy hele familie daarin uitgewis is.
Om verskeie redes dink ek dis gebiedend noodsaaklik dat hierdie vertalings so gou dienlik op die mark kom. ’n Hele letterkunde bewe liggies, van die bodem van sy verlede tot in die verste punte van sy toekomsgeprojeksies, wanneer sulke werk, van hierdie kaliber, daarin beskikbaar word en dan boonop (op eerste hoorslag) só suksesvol.
Skrywers van ’n bepaalde letterkunde besef nie altyd hoe gegewe die manier is waarop hulle te werk gaan nie, of lees nie. Dit is nodig om op die vlak van impulse herinner te word aan ander strukture van verbeelding ten einde by moontlikhede uit te kom waarmee jou eie plek en ervaring weer vars kan verbeel. Ons praat nie van nabootsing nie. Juis nie. Ons praat van ander horisonne.
Ek het Antjie Krog sommer haar politieke leviete wat sy aan die gehoor die vorige aand voorgelees het, sienings waarmee ek hartstogtelik verskil, vergewe. In die naam van Celan. In die naam van poësie wat groter is as enige ondergang of uitdelging.
En daarvan is daar in Suid-Afrika vandag oorgenoeg. En dit word gedoen in die naam van geregtigheid, in die reklamenaam van geregtigheid. JUSTICE can make your skin feel beautiful and soft. And you LOOK so good. Buy JUSTICE. For a lovely, soapy wash. And you’ll never look better ….
Nee, die toekoms lê nie in meer “begrip” vir wat die regering van Suid-Afrika probeer doen nie, Antjie. Dis ’n soort regering wat hom al male sonder tal in Afrika gedupliseer het. As gevolg van te veel begrip, nie te min nie.
Dit lê in ‘n kultuur van deurtastende kritiese bevraagtekening, van die ontmaskering van manipulasie, en in die noodsaak vir pluralisme. Dit lê in die omarming van verskille, in die daadwerklike uitbouing daarvan, selfs in die skep van nuwe verskille waar dit nog nie bestaan nie, nee, meer nog: die opstel van omringende spieëls sodat elk van die nuwe en ou verskille sommer duisendmaal groter sal vertoon; dit lê in ’n nasiebou wat vasstaan op die bodem van veelvoud. Nie in EEN partytjie nie, maar in VELE. In die ontelbare, en in die onkontroleerbare. In die sterre.
Trouens, dit lê myns insiens nié in ’n nasie nie, maar in mense.
PLURALISME. Dis die bestaan van plurale identiteit, van ’n plurale benadering tot die werklikheid, wat die verbeeldingsgebeurtenis van ’n Celan kon oplewer. Die toekoms van verbeelding lê in die oopwringing van die kiere, en die toekoms van moraliteit lê ook daarin. Daar, ver agter die kiere, so smal soos verbygaan self, dáár wag die sarkofae in hul rye, met hul toegemesselde deksels soos eiers in die skemer. Dit wag daar vir die heropstanding. En dis ONS wat binne lê!
Die dag toe die Toring van Babel in duie gestort het was die dag toe die tirannie van die enkelvoud begin het, en tot vandag toe sukkel ons daarmee. Ons skiet ons onself nog elke oggend met enkelvoudigheid in die voet, van die moment wat ons opstaan tot ons gaan slaap.
Die bestaan van verskillende groepe is nié ’n nagmerrie waarin ons as ’n land weer afgetrek gaan word nie (soos Antjie beweer het), nee, dis die toekoms wat ons besig is om te droom. Die enigste toekoms wat die droom werd is. En dis die enigste toekoms wat besig is om ons te bedroom.
Hierdie plurale ideaal word NIE deur die ANC bevorder nie, maar daadwerklik, elke dag, deur hulle afgebreek. Dit behoort geopponeer word. Ter wille van die “ander”. Ter wille van dit wat anders is.
Celan. En dit op sy beurt, bring ons by die tekortkominge van Versindaba. En van die omringende Afrikaanse poësieruimte. Én van haar groter sussie, die Suid-Afrikaanse poetry-geheel. En ook by die rede waarom ek hoop Antjie se vertalings kom so gou moontlik op die rakke. Sonder om dinge te haas, natuurlik. Dis noodsaaklik. Gebiedend noodsaaklik.
Ondanks die verskeidenheid in die Afrikaanse poësie waarvan Louis Esterhuizen praat, bespeur ek min van ’n meer soepele verwagtingshorison by die poësiebelangstellende publiek. Trouens, daar is iets van ’n vasval in ’n eenvoudige en sussende romantiek. Daar is te min van die breër asemhalingsruimte wat byvoorbeeld die na-oorlogse Europese poësie gekenmerk het, en iets wat nou nodig is. Kom ons nie ook uit ‘n oorlog nie?
(Hoewel my goeie kollega Rian Malan sal sê jy kan nie apartheid met ander groot uitdelgings vergelyk nie: Die mense wat onder apartheid gesneuwel het tel glo maar 60 of 105 of so iets. Maar hy praat nonsens wanneer hy so sê. In terme van attrition, oftewel uitmergeling, het duisende, nee, miljoene, gesneuwel onder apartheid. Hoe meet jy die dood van mense? Een mens wat omval, of ontelbares wat verskraal word tot minder as niks?)
Ons kom uit verbrande aarde. Is die maniere waarop ons dit verwoord het tot dusver al moontlikhede, al maniere waarop ons die nuwer gras kan sing tot groei?
Ek dwaal weer af. Die Suid-Afrikaanse poësie as ’n geheel swymel tussen twee punte: ‘n Berggans se veer wat tydens die eerste helfte van die vorige eeu geval het naby Wuppertal, en “Africa, here we are we who people you (…) out in your vast space (…) so all of us black and white, can be a gift of life” (Mongane Wally Serote, Poetry Africa 2009).
Word daar nie dalk te min gedoen om die verwagtingshorisonne uit te brei nie? Die fout lê nie soseer by die troebadoers, soos Laurinda Hofmeyr, wat met sang en lied digters bekendstel nie, maar by ‘n gebrek aan aanvulling daarby, ‘n gebrek aan bewusmaking van dit wat buite-om die bestaande verwagtingshorison lê.
Hiervoor bestaan verskeie redes. Ek voel natuurlik die situasie aan eie bas, want my eie poësie vra toenemend om ’n verstelling van horison. Hierdie jaar toe ek by Versindaba lees, het ek ‘n bietjie die gevoel gekry van ’n muur tussen my en die gehoor se begrip, al is hulle ook HOE waarderend. As ek by Poetry International 2009 tydens ’n retrospektiewe voorlesingsaand voorlees, soos nou onlangs, kry ek meer ‘n gevoel van absorpsie by die gehoor van wat ek lees. En daar word onomwonde gesê: ‘There is not much modern poetry coming out of Africa these days”.
Dieselfde gedig wat ek voorgelees het , en wat luidkeels begroet is, is toevallig in presies dieselfde formaat in 1994 vir publikasie afgekeur deur die destydse redakteur van die Afrikaanse afdeling van New Contrast. Sê dit iets oor wat ek wil sê oor verwagtingshorisonne?
Maar weg van “ek”. Dis bloot maar my beste voorbeeld. Die reaksie van die Versindaba-gehoor op die nuwe werk van Gilbert Gibson, wat in enige leser se boek ‘n “moderne digter” behoort te wees, en wat blyk op die peil te wees van die beste in eksperimentering wat elders gebeur, was verblydend. Miskien is dit ‘n kontrapunt op my besorgdheid hierbo?
Maar, hoe ook al: Versindaba sal dalk minder “Slegs Afrikaans” moet word. Dis as dit enige durende belang gaan hê vir Afrikaans binne ’n globale ruimte, daar waar alle kulture deesdae, aan die einde van die dag, afspeel.
Wie ook al die nuwe organiseerders gaan wees: Bring ’n Nederlandse of Europese of Wes-Afrika-digter elke jaar uit na Stellenbosch. Maak die deure op. En nie vir die soort driwwel wat dikwels by Poetry Africa te hore is nie. Ek praat van die beste, nie die bemarkbaarste of toeganklikste nie. Hou klasse in vertaalde Tjeggiese poësie. Soos in “Versindaba 2010: Fokus op Tjeggiese poësie”.
Hou ‘n reeks lesings oor “Die gesproke gedig in Afrika”: van griot tot Jitsvinger”.
(Die naaste wat ons aan hierdie soort broodnodige hergeboorte gekom het, was UWK se onlangse Roots-fees. )
Met watter geld Versindaba dit sal doen, weet ek nie. Maar die afsyferingseffek wat poësie het, en die onmisbare nut van daardie afsyferingseffek vir die leefmoontlikhede van ’n samelewing, vir daardie samelewing se vermoë om die kiere van oorlewing te identifiseer en dit verder oop te druk, dit kan NIE onderskat word nie.
Poësie is nie soseer ’n viering van die is nie, maar van die nog-nie-is.
Asemhalingsruimte. Verbeelding. Nuwe denkvorme. Die gedenking van nie slegs dit wat ons geword het nie, maar VERAL van dit wat ons nog MOET en KAN word.
Nou wat kry ek hier? STOP PRESS, soos Gert Vlok Nel destyds geskryf het. STOP PRESS. Laat ek gou kyk. Wie onderbreek my blog nou weer? ‘n Boodskap oor Skype: “Chris Louw het selfmoord gepleeg.” Ekskuus? Dis seker ‘n grap!
Afsyfering/ geen afsyfering. Asemhalingsruimte/ geen asem meer nie.
Kom in, Ralph Rabie. Can you hear me, Ralph Rabie? This is ground control …
Verdrukking/ slash/ wegdrukking/ slash.
Louw was een van die mees krities geloofwaardigste stemme in die Suid-Afrikaanse joernalistiek. Hy het gewaag. Ter wille van die oopgaan. In dieselfde tyd wat almal se ore toeslaan onder die skril selfliefde van ’n Julius Malema.
Wat betref daardie mening dat apartheid nie vergelyk kan word met die Jode-uitdelging nie: Nee, EN ja. Is ’n bepaalde uitdelging meer of sterker net omdat dit sulke sigbare letsels gelaat het? Net omdat daar soveel lyke was?
Kan lyke nie ook lewend wees nie? (Sien my argument hierbo contra Rian Malan.) In die tagtigerjare het die filosoof Johan Degenaar apartheid akuraat beskryf as strukturele geweld.
Nou maar wat dan van die strukturele dood?
En kom ons besin dan behoorlik oor die dood van iemand soos Chris Louw. Kom ons besin oor die nadele van sosiale ingenieurswese soos wat dit op hierdie oomblik in Suid-Afrika plaasvind, met boonop geen meetbare voordele vir die gros histories benadeeldes nie.
En dan, as dit nie te ligsinnig van my sal klink nie: Kom ons dink daarna ook sommer weer ’n keer na oor die man wat homself in die Seine verdrink het, die digter wat oor die verskrikking van die Holocaust geskryf het, Paul Celan. Oor die verskrikking van die ingekerkerde blik.
Ja, laat ons NOOIT ophou om dit wat ons uit die geskiedenis kan leer van toepassing te maak op dit wat onmiddellik besig is om rondom ons af te speel nie.
Dis vandag wat so moeilik is om raak te sien, nie gister nie.
Calling poetry.Calling morality. Dit wat, soos Nietszche tereg beskryf het, niks anders is nie as ’n vorm van estetika.
This is ground control.
Hallo Johannes,
Myns insiens probeer die ANC die aandag aftrek van apartheid as ‘n strukturele program van onderdrukking en probeer hulle dit eerder onthou as ‘n soort gewelddadige burgeroorlog wat hulle toe gewen het. Die wanvoorstelling is myns insiens bewustelik sowel as onbewustelik. Die redes daaragter is meer interessant: As jy erken dat apartheid strukturele geweld was en dat strukturele geweld geweldig skendend was, dan sal jy moet erken dat post-apartheid strukturele regstelling EWENEENS dieselfde gevaar sal loop, want dis OOK ‘n strukturele program. As jy die deur oopmaak vir hierdie erkenning, dan werp jy ‘n skaduwee op die ANC se program van sosiale ingenieurswese, en dit wil hulle nie hê nie. DAAROM word apartheid eerder voorgestel as die een of ander tromp-op burgeroorlog, wat dit in wese glad nie was nie.
C-P, reken jy dit is ‘n bewuste wanvoorstelling? Vir my is die tragedie van die ANC dat hulle diversiteit verskraal het tot oppervlak-verskille (ras, historiese voordeel, edm) en gevolglik uitmis op die dinamiese potensiaal van diep diversiteit (ontwikkelende wêreldbeeld, morele ontwikkeling, en so aan). Die vlak perspektief dissosieer en die diep perspektief differensieer. Ek onthou ‘n wonderlike artikel van Achille Mbembe wat ek seker 20 jaar gelede gelees het, getiteld “Postcolonial banality”, en die frase bly steek; met die opkoms van Julius en sy poli-prez dink ek ons glip in die sfeer van die banale in, waar die retoriek gewoon nie gesofistikeerd genoeg is vir struktureel vs fisiek nie. “Empires”, veelwywery, pre-sosialistiese onteienings edm korreleer met ‘n mitiese en selfs argaïese wêreldbeeld, nie met ‘n rasionele wêreldbeeld nie. (Tweede vraag: sou jy sê die alliansie-vennote dryf dieselfde wanvoorstelling?)
My stelling oor vasgevalde beperkte horisonne is een wat ek al herhaaldelik gemaak het. Dit beteken nie dat daar nie mense is nie wat teen dit in funksioneer, en wat hul beste doen om daardie horisonne te verbreed. Ons het mense soos, om maar een te noem, Francis Galloway. Die plaaslike Engelse konteks is myns insiens meer ingeperk, met minder rede om so te wees weens die “internasionale” taalband. Hieroor het ek al gepraat met digters soos Gabeba Baderoon, en dis ook haar standpunt ook. Dis asof globale gebeurlikhede in die letterkunde hier altyd deur die kleinste beskikbare voëlholletjie verwerk moet word vir konsumpsie. Dis eintlik heel snaaks.
Ten slotte moet ek ‘n erratum aanbring by my skrywe hierbo: Rian Malan ontken nie die verwoesting van aparttheid nie. As ek hom reg verstaan is sy standpunt JUIS dat dit struktureel was, en nie in uit-en-uit moordterme nie, soos byvoorbeeld in Rwanda. Hoe interessant dat die ANC dit anders wil voorstel: dat die uitdelging minder struktureel was, en meer suiwer gewelddadig. Wat sou agter so ‘n wanvoorstelling skuil? Daar is ALTYD ‘n goeie rede vir ENIGE wanvoorstelling in die politiek, gewoonlik is dit opportunisties. Ek sal graag hierdie vraag wil uitgooi in die kuberruim vir enige raaiskote. Ek het my eie vermoedens.
Louis, daar is myns insiens net een manier om die verwagtingshorison soepelder te maak, en dis om lesers voor te stel aan ‘n breër seleksie. Dit hoef uiteraard nie te wees in vertaling in Afrikaans nie. Maar met verwysings in gesprekke, byvoorbeeld. Ons leef in die tyd van die internet.
So pas het Louise Viljoen ‘n artikel oor Breyten en ander wêrelddigters gepubliseer. So ‘n artikel moet die grootste hoeveelheid potensieele poësielesers kan bereik, sonder verwyl. Is die artikel (wat ek nog nie gelees het nie) miskien te akademies? Dan is dit belangrik dat dit in herskrewe, joernalistiese vorm op Versindaba-webblad verskyn. Hier is maar een voorbeeld.
Al wat ‘n mens jouself afvra is: As daar verwagtingshorisonne is wat te ingeperk is, hoe lyk verwagtingshorisonne dan wat NIE ingeperk is nie? Daar sal ‘n paar antwoorde wees op daardie vraag. Ek dink die kreatiewe skryfskole (wat eintlik niks anders is as kreatiewe LEESSKOLE in die eerste plek) het al reeds baie gedoen en doen baie om die saak aan te help.
Een van die interessantste oefeninge wat lesers aangehaak kan kry by die idee van groer uitsigte, is om die eie erfenis voortdurend binne internasionale verband te situeer. Mens neem die bekende en “vermeng” DIT met die onbekende. (Maar dan moet die eie erfenis ook goed genoeg bekend wees.)
Met ander woorde, in ‘n neutedop, wat ek bepleit is ‘n meer deurlopend vergelykende houding by alle segspersone van letterkunde, ‘n diakroniese blik wat die plek inneem van ‘n sinchroniese. Laasgenoemde oorheers verreweg nog by ons. Dis ‘n feit.
Ek sal weer na jou “leespatrone’-artikel gaan kyk.
Dankie hiervoor, Charl-Pierre. Ek verstaan nou beter. Ook jou gebruik van die “New Contrast”-insident as voorbeeld. Maar dit is die “soepeler verwagtingshorisonne” by lesers wat my interesseer, aangesien hier sommer baie slikgrond vir misverstande bestaan. So sal ons tov lesers moet onderskei tussen ingeligte (of kundige) lesers en gewone plesierlesers. Ten opsigte van eersgenoemde dink ek nie dat daar ‘n probleem is nie; ook die lys van topverkopers ondersteun dié punt. (Gaan kyk weer na my stuk oor “Statistiek tov koop- en leespatrone”.) Dit is immers opwindende en innoverende bundels wat telkens die topposisies beklee, is dit nie? Met enkele uitsonderings, natuurlik, maar dan is dit vanweë spesifieke faktore … Nietemin, die vraag is: Hoe verbreed ons daardie basis? Hoe kom ons uit by die “poësie-van-die-nog-nie-is-nie”? Die behoefte daaraan sal immers gevestig moet word alvorens uitgewers (of keurders) daarmee sal waag. Myns insiens is hier twee kragte ter sprake. Enersyds ‘n “trekaksie” en andersyds ‘n “stu-aksie”. Ons moet die liefhebbers van poësie toenemend blootstelling gee aan (goeie) oorsese modelle as “trekpleister” ten einde groter verdraagsaamheid en ontvanklikheid jeens opwindende, stuwende plaaslike produksie te wek. Om terug te keer na my vroeëre kommentaar: Die fees is nie geskik daartoe nie, want dit is ‘n handeklap-geleentheid. Maar die webblad is ideaal daarvoor. Kom ons gebruik dit dus as sulks. Soos jy self sê – “goeie intensies” gaan ons nêrens bring nie.
Louis, laat ek Daniel se vraag eers beantwoord. Daniel, ek weet nie of jy opgemerk het dat ek jou naam uit die bloginskrywing verwyder het, gaan lees weer daardie stukkie soos hy nou daar staan, asseblief tog. Met goeie rede het ek dit verander. Want ek was bang dat dit jou sal stereotipeer, wat nie my bedoeling was nie. Pleks dat dit by ‘n voorbeeld bly waarmee ek ‘n punt wou belig.
Die gedig se naam is “Alles draaglik”, en dis in “Die nomadiese oomblik” opgeneem. Oor die agter-die-skerms getoutrekkery en getjie-tjie wat die publikasie van daardie bundel voorafgegaan het, weet ek niks nie. Ek weet dus glad nie van jou en Petra se voorbrand vir die publikasie nie of van Charles Fryer se wat – misnoee? – daarmee. Interessant, in elk geval, wat jy sê.
Maar gaan lees die blog hierbo eerder vir wat NOU daar staan. Want dis waarby ek nou staan.
Met “verwagtingshorisonne”, Louis, bedoel ek die literere verwagtingshorisonne. ‘n Leser se begrip van wat hy/sy lees word omskryf onder meer deur wat hulle verwag om te lees. Ek bepleit ‘n toenemend soepelder verwagtingshorison. Ek weet van baie mense in Afrikaans wat goeie werk in daardie rigting doen, miskien moet jy hulle gaan vra wat dit is wat hulle doen. Maar wat betref die letterkunde se gesig na die breë leespubliek, word te min gedoen om die verwagtingshorisonne uit te brei. Dis my mening. Daar is goeie voornemens ja, daarvan weet ek, maar min nog gedoen. Trouens veel word gedoen om dit te hou wat dit is, en selfs te vernou. Ek sal verkies as ons op die hoof-strekking van die blog konsentreer.
Ek weet nie of Poetry International hoegenaamd ‘n kodewoord moet wees vir enige ideale nie, Louis. Ek sal graag meer begrip wil sien vir die kunsvorme van Mundobabelaas.
Charl-Pierre, die 80s was die bloeityd van die “little magazines”. Toe was daar sommer báie. In die tyd waarvan jy praat, herinner ek my net aan die drie wat jy noem. Ek praat onder korreksie, maar “New Contrast” het net 2 maal per jaar verskyn, met ongeveer een derde publikasieruimte aan Afrikaans afgestaan? Tydskrif vir Letterkunde vier maal per jaar met meer publikasieruimte vir gedigte? Ensovoort het in hierdie tye reeds net by geleentheid verskyn en dan met ‘n spesifieke fokus op ‘n bepaalde digter. Ander tydskrifte, (“New Coin” & “Upstream”) het uitsluitlik Engelse poësie gepubliseer. Dit terwyl die redakteurs van “little magazines” in hierdie tye toegegooi was deur gedigte van digters wat nie by die uitgewers kon inkom nie. Daarom dat dit ‘n “bykans onmoontlike taak” was, soos ek dit gestel het. Jy was waarskynlik een van die min gelukkiges – vir goeie rede – wat “gereeld” in dié tydskrifte kon publiseer.
Maar – myns insiens is dié punt van bespreking van minder belang. Die gróót waarde van jou inskrywing is die pleidooi vir pluralisme met gepaardgaande verbreding van verwagtinshorisonne. Veral jou opmerking “Poësie is nie soseer ’n viering van die is nie, maar van die nog-nie-is.” Ook teen die einde: “Dis vandag wat so moeilik is om raak te sien, nie gister nie.”
Hierdie is gróót en dwingende stellings wat verdien om bepraat te word, want op die spoor hiervan kan ons dalk by ‘n beter begrip van ons situasie tans uitkom, met ‘n mate van strategiese besinning oor hoe om by ons ideaal van “Poetry International” uit te kom.
Daarom, om mee te begin. Wat bedoel jy met dié vraag: “Word daar nie dalk te min gedoen om die verwagtingshorisonne uit te brei nie?”
Na watter “verwagtingshorisonne” verwys jy hier?
Beste Charl-Pierre,
Na watter gedig verwys jy – die een wat ek glo by “New Contrast” afgekeur het? As jy dit hier plaas, sal ek met die grootste graagte probeer onthou wat my destyds gemotiveer het.
Vriendelik,
Daniel
Ns. Het jy vergeet dat ek en Petra Muller in dieselfde jaar (1994) ernstig by ‘n onwillige Charles Fryer aangedring het dat jou debuut gepubliseer moet word?
Ek weet nie wat jy bedoel met “om ‘n vers in enige publikasie daai tyd gepubliseer te rky, was onmoontlik”, Louis. Ek het gereeld daardie tyd in New Contrast en Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer, en so ook baie ander digters, om maar twee tydskrifte te noem. Daar was nog Ensovoort, en verskeie ander publikasies ook.
Ja-nee, jou kontrapunt op die voorbeeld van New Contrast wat ek genoem het, kleur die prentjie verder in. Natuurlik is ontvanklikheid in ‘n bepaalde letterkundige konteks dinamies, verander dit met die tyd. Wat jy sê, as ek jou reg verstaan, is dit: Moenie die ontvanklikheid waartoe die Afrikaanse kultuurkonteks in 1994 in staat was, vergelyk met die ontvanklikheid van Poetry International in 2009. Dit is histories gesproke onregverdig. Dalk het die ontvanklikheid van die Afrikaanse konteks ook sedertdien verander. Ek sou kon byvoeg: Dalk is die ontvanklikheid van een tydskrif ook nie gelykstelbaar met die ontvanklikheid van die Afrikaanse literere wêreld as geheel.
Korrek. Ek gee jou gelyk. Maar die realiteit wat ek wou skets, bly staan: Dat literere gehore aan horisonne en omskrywings onderhewig is, en dikwels nie kan absorbeer wat daar buite val nie. Die feit dat ons binne ‘n horison funksioneer, dis ‘n bewustheid wat sanerend kan wees vir ons. Sodra jy besef jy sien en ervaar BINNE grense, per definisie binne omskrywing, dis dan wat die moontlikheid van grensverskuiwing vir ‘n bepaalde kultuurkonteks kan plaasvind. En ek het die voorbeeld van die tydskrif gegee om die feit van omgrensing, hoe dit soms in die praktyk voorkom, te illustreer. Ongelukkig kan mens slegs sulke omskrywings, sulke perkgebonde funksies soos absorpsie/resepsie op ‘n bepaalde plek en tyd, illustreer aan diie hand van vergelyking! x
Charl-Pierre, ek vind dit nogal jammer dat dit alweer ek is wat op jou stuk reageer, maar jy sny myns insiens ‘n hele aantal belangrike punte aan wat vrá om reaksie. Graag wil ek op drie aspekte daarvan reageer:
1> Toe ek en Marlise in 2005 met die Versindaba as fees begin het, was die Afrikaanse digkuns totaal gemarginaliseer in die media. Selde indien ooit het daar berigte oor die digkuns verskyn met net enkele resensies hier en daar. Grootliks omrede daar nie digbundels was om te resenseer nie. (Jy weet tog self dat, tot Protea Boekhuis met hul publikasieprogram begin het, daar vir etlike jare minder as 5 bundels per jaar verskyn het.) Maar vanweë bepaalde faktore, soos die feit dat Protea nie deel vorm van Media24 nie, was hul publikasies vir ‘n geruime tyd in Media24-beheerde publikasies “gesystap”. Nog ‘n bepalende faktor was die feit dat Afrikaanse digters by die meeste (anderstalige) feeste geïgnoreer was en stééds geïgnoreer word. In ‘n groot mate is die Versindaba dus geïnisieer om die media iets te gee om oor te berig. Daarom dat daar koelbloedig gefokus is op dit wat NOU verskyn en bepraat word. Slegs digters van wie daar bundels in ‘n bepaalde jaar verskyn het, is betrek. Dit weet jy immers? Met nuwe, “ontluikende” stemme kon ons inderdaad meer avontuurlik te werk gaan. Die afwesigheid van “grensverskuiwende” digters is dus nié ‘n historiese gegewe nie; hulle – met uitsondering van Gilbert Gibson – het gewoon nie vanjaar ‘n bundel gepubliseer nie. Verdermeer, diegene wat wél by die program betrek was, het meestal verkies om meer toeganklike verse ter wille van die geleentheid voor te lees. Etlike van hulle het immers ook al “grensverskuiwende” verse geproduseer, is dit nie? Nietemin, indien jy na die doelstellings onder die skakel “Oor Versinaba” op die hoofbanier kyk, sal jy sien dat daar (hopelik) reeds aan al die doelstellings wat ek en Marlise met dié fees beoog het, voldoen is. Daarom dat dit nou tyd geword het om aan te beweeg, en daarom dat daar reeds vroeër vanjaar met hierdie webblad begin is, want dít is ons insiens die pad vorentoe en nié ‘n fees wat per definisie “terugskouend” is nie.
2> Ek stem met jou heelhartig saam dat die Afrikaanse digkuns se horisonne verbreed moet word. Groter blootstelling aan die internasionale digkuns is van kardinale belang. Nie net die Internasionale digkuns aan die Afrikaanse poësie-gemeenskap nie, maar óók die Afrikaanse digkuns aan die Internasionale gemeenskap. Die internet is by uitstek geskik hiervoor. Of ‘n fokus op Tjeggiese poësie (of watter “fokus” ook al), binne konteks van die Versindaba sal werk, is te betwyfel; mits jy natuurlik tevrede is met ‘n gehoor wat net uit deelnemers bestaan? Ons is gewoon nog nie daar nie, maar beslis op pad daarheen. Daarom die webblad. Verdermeer, om oorsese digters te betrek het enorme kostes daaraan verbonde. Die Engelse poësiefeeste (soos bv. Poetry Africa en Badilisha Poetry) ontvang almal enorme staatsubsidies terwyl ‘n Afrikaanse (of selfs meertalige fees waarby Afrikaans primêr teenwoordig is) fees géén subsidie sal ontvang nie. Inteendeel, hoekom dink jy is Badilisha, wat tradisioneel in Februarie plaasvind, meteens en onverwags – sónder die gee van redes – na presies dieselfde datums as die Versindaba verskuif?! En dan met ‘n program waarby amper uitsluitlik buitelandse digters betrokke is? Dink jy werklik dit was toevallig?(Onthou, dié fees volg enkele weke op die hakke van Poetry Africa …) Ons kan NIE na ander instansies kyk om na die stand van die Afrikaanse digkuns om te sien nie, dit is ‘n gegewe. Ons sal dit SELF moet doen en derhalwe planne moet beraam oor hoe om dié “verbreding van horisonne” waarvan jy praat, te bewerkstellig. Nietemin, miskien sal die nuwe organiseerders aan die fees ‘n breër horison kan verskaf; ek en Marlise kon nie. Trouens, dit was nie ons oogmerk nie, vanweë die heersende dinamika van daardie tyd.
3> In jou betoog verwys jy ook na die redakteur van “New Contrast” as voorbeeld van iemand wat “verwagtingshorisonne” beperk met die noem van ‘n insident wat in 1994 plaasgevind het. Liewe hemel, Charl-Pierre, die digkuns (en individue se oordeel) het tog die afgelope 15 jaar drasties verander, het dit nie? Hoe kan jy ‘n argument dáárop bou?! Om ‘n vers in enige publikasie van daardie tyd gepubliseer te kon kry, was ‘n bykans onmoontlike taak. Of het jy vergeet? Nietemin, ook jóú poësie het drasties verander sedertdien. Net so kan jy nié Poetry International en die gehoor se reaksie aldaar met die situasie plaaslik vergelyk nie. Dis soos om die plaaslike koshuis se “fish & chips”-rugbyspan te kritiseer omdat hulle nie soos die All Blacks kan speel nie. (Verwysende na die kontras in feeste hier, nié die gehalte van die onderskeie digkunste nie, hoor.) Ons is op pad, ja, maar, helaas, ons is nog nie daar nie. Ironies genoeg sou jy ses jaar gelede nie eens so ‘n stelling kon maak nie, want toe was daar gewoon nog nie ‘n verhoog vir jou beskikbaar om op te staan ten einde jou verse met jou leserspubliek te kon deel nie.
Ten slotte – met die volgende uitspraak van jou is ek dit roerend eens: “Poësie is nie soseer ’n viering van die is nie, maar van die nog-nie-is.” Iets wat my laat my dink aan ‘n ander uitspraak, iets wat Zbigniew Herbert gesê het: “‘n Volk verdien die digters wat hy kry.”
Nietemin, dankie vir jou meelewing en jou steun. Ons opponent in dié stryd is en bly myns insiens APATIE, en daarvan kan niemand jou (óf Daniel Hugo) en ander betrokkenes by hierdie webblad beskuldig nie.
Met waarderende groete,
Louis