Die voortsetting van die Afrikaanse vroulike tradisie:
Marlise Joubert se Passies en passasies (2007)
Dr Amanda Lourens

Die spesifiek vroulike aard van Marlise Joubert se Passies en passasies word deur verskeie resensente vooropgestel in die kritiese diskoers rondom die bundel. So byvoorbeeld bestempel Hambidge (2008) dit as ‘n “intens vroulike bundel” nadat Crous (2007) dit reeds as “‘n bundel oor die vrou” beskryf het. Ook Odendaal (2008) wys uit dat dit “‘n spesifiek vroulike ervaring is wat vooropgestel word”. Uit hierdie uitsprake volg dit as’t ware natuurlik dat die leser Passies en passasies in sy verweefdheid met die hele ervaring en gesteldheid van vrouwees sal benader. Die doel van hierdie artikel is om die bundel aan die teoretiese gesprek oor die sogenaamde vroulike literêre tradisie te knoop, ten einde lesers in staat te stel om die bundel binne ‘n groter literêr-teoretiese raamwerk te ervaar en te waardeer.
In hierdie artikel sal geargumenteer word dat Passies en passasies volledig binne die sogenaamde vroulike literêre tradisie staan en aan die kenmerke daarvan gestalte gee. Die konsep van die vroulike literêre tradisie is ‘n opwindende instrument om die werk van vroulike outeurs binne ‘n spesifiek vroulike konteks te bestudeer, en gee daarmee ook erkenning aan literêre produkte wat “intens-vroulik in aanbod” (Hambidge 2008) is, of waarvan die outeur, soos Marlise Joubert dit verwoord, “verkies om uit ‘n vroulike perspektief te skryf” (Joan Hambidge in gesprek … 2008).
‘n Literêre tradisie word deur Viljoen (2009:1), op grond van haar navorsing oor bestaande definisies daarvan, omskryf as “‘n versamelterm vir al die konvensies, vorme, literêre tegnieke en uitdrukkingswyses wat ‘n skrywer erf van die verlede”. ‘n Tradisie impliseer dat daar diachronies, oftewel oor tyd heen, gekyk word. ‘n Individuele skrywer se interaksie met die verlede en ouer skrywers asook sy/haar reaksie op bestaande skrywes kan dus binne die kader van ‘n tradisie ondersoek word. Hiernaas skep die konstruk van ‘n literêre tradisie die ruimte waarbinne ‘n skrywer se verruiming van die bestaande en die vind van ‘n eie plek binne die tradisie beskou kan word.
Dit is veral in die werk van die Anglo-Amerikaanse feministiese kritici wat die konsep van ‘n vroulike literêre tradisie uitgewerk en verfyn is. Van die grondbeginsels waarop hulle werk gegrond is, sluit in die veronderstelling dat die “groot” Westerse tradisie histories ‘n manlik gedomineerde tradisie was en dat vroulike skrywers na vroulike literêre modelle en voorgangers smag – die sogenaamde “literêre moeders”. Kortliks kom die daarstelling van ‘n vroulike literêre tradisie daarop neer dat vroueskrywers en hulle werk op ‘n kontinuum van opvolging geplaas kan word ten einde dinamiese aspekte soos beïnvloeding, voortsetting, aanpassing en (teen)reaksie te kan bestudeer.
Tydens hulle teoretiese besinning oor die konsep van die vroulike literêre tradisie munt die feministiese kritiek die term gynocritics, wat soos volg deur die grondlegger daarvan, Elaine Showalter, beskryf word:
In contrast to [an] angry or loving fixation on male literature, the program of gynocritics is to construct a female framework for the analysis of women’s literature, to develop new models based on the study of female experience, rather than to adapt male models and theories. Gynocritics begins at the point when we free ourselves from the linear absolutes of male literary history, stop trying to fit women between the lines of the male tradition, and focus instead on the newly visible world of female culture. (Showalter 1986, my kursivering)
Die gynocritics streef dus daarna om ‘n eg vroulike teoretiese raamwerk vir die studie van literatuur deur vroue daar te stel, juis deur erkenning te gee aan die feit dat vroulike literatuur tot stand kom binne die unieke ervaringsfeer wat deur ‘n vroulike perspektief moontlik gemaak word. Aspekte soos die geskiedenis, temas, genres en talige kenmerke van literatuur deur vroue is dus die belangrikste ondersoeksterreine vir navorsers wat die gynocritics as vertrekpunt gebruik. Alhoewel die gynocritics met hierdie gedagtes die deur open vir kritiek dat ‘n beperkte en essensialistiese siening van vroulikheid hierdeur voorgehou word, bied dit egter die baie nodige ruimte vir studies oor spesifiek vroue en hulle gemoeidheid met die produksie en resepsie van literatuur.
Studies het reeds gewys op die toenemend belangrike rol wat vroulike digters in die Afrikaanse literêre sisteem speel nadat ‘n manlike tradisie die ouer poësiesisteem oorheers het (vgl. Lourens 1992, Viljoen 2009). Dit is veral sedert die sewentigerjare van die vorige eeu wat vroulike digters sterk na vore begin tree het – onder andere Krog, Spies, Cussons, Stockenström en Hambidge, om maar enkeles te noem. Dit sal uiteraard waardevol wees om byvoorbeeld die verbande tussen die werk van verskillende vroulike digters te ondersoek, maar dit val buite die bestek van hierdie artikel.
Belangrik wel is dat daar met die verskyning van Passies en passasies reeds ‘n vroulike tradisie in Afrikaans bestaan. Om as betekenisvolle vroulike digter gekanoniseer te word, sal dus vereis dat ‘n digter ‘n daadwerklike en unieke bydrae tot die Afrikaanse vroulike poësiesisteem sal maak. Odendaal (2008) se stelling dat Passies en passasies die bydrae van sy voorganger (Lyfsange, 2001) versterk en verruim “om ook op ander tematiese terreine iets wesenlik toe te voeg tot die Afrikaanse digkunsskat”, laat die leser natuurlik wonder waarop die resensent hierdie kanoniserende stelling baseer. Op hierdie stadium word die hipotese gestel dat Joubert se poëtiese verwoording van eg vroulike ervarings in ‘n eg vroulike taal daarvoor verantwoordelik is dat verskeie resensente haar sterker toekomstige posisie in die Afrikaanse kanon bepleit,[1] met die voortsetting en uitbouing van die Afrikaanse vroulike tradisie as uitvloeisel.
Ten einde die diachroniese struktuur van die vroulike tradisie beter te begryp, is dit nodig om ‘n bondige uiteensetting te gee van die gynocritics se model van die ontwikkeling van die vroulike literêre tradisie. Volgens Showalter (1986) bestaan enige vroulike literêre tradisie uit drie eiesoortige fases, naamlik: 1.) nabootsing en internalisasie (Showalter se “feminine phase”), 2.) protes en verdediging (“feminist phase”) en 3.) die fase van selfontdekking (“female phase”). Teenoor die eerste fase wat hoofsaaklik behels dat vroue mans se literêre modelle navolg en dit ook hulle eie probeer maak, staan die tweede fase waartydens vroue bewus raak van die manlike dominansie in die literêre sisteem en hulle dan ook daarteen verset. Na hierdie fases – waarin die manlike sisteem deurentyd sigbaar is, hetsy as model vir nabootsing of as simbool van patriargale dominansie waarteen die vrou in opstand kom – volg die fase van selfontdekking waartydens vroulike ervaring as die bron van outonome kuns gesien word. Die Amerikaanse digter Adrienne Rich, byvoorbeeld, verwoord haar ontdekking van vroulike ervaring as ‘n bron van kuns soos volg:
In the late fifties I was able to write, for the first time, directly about experiencing myself as a woman … I had been taught that poetry should be ‘universal’, which meant, of course, nonfemale. (Rich 1972)
Dit lyk dus asof vroulike literatuur in die fase van selfontdekking dié literatuur is wat die vroulike perspektief op gebeure sentraal stel. Naas hulle klem op vroulike ervaring as ‘n legitieme bron van kuns, word die moontlikheid van ‘n eg vroulike taal as ‘n verdere kenmerk van vroulike literatuur deur feministiese teoretici ondersoek, synde ‘n medium om gestalte te gee aan ervarings wat vanuit ‘n vroulike perspektief waargeneem word.
Die konsep van ‘n vroulike taal as uitdrukkingsmedium is veral binne die Franse feministiese tradisie ondersoek. Julie Kristeva onderskei byvoorbeeld tussen die sogenaamde semiotiese en simboliese taal, waar laasgenoemde die diskoers van die patriargie is. Die semiotiese taal – alhoewel nie noodwendig gekoppel aan die vroulike nie – maak die ondermyning van bestaande taalpatrone moontlik en is dus by uitstek ‘n medium wat in die skryf van (vroulike) poësie aangewend kan word (Moi 1985). Hélène Cixous (1989) weer, munt die term écriture féminine, wat inhou dat vroulike skryfwerk uit die vroulike liggaam spruit, nadat die vroulike skrywer die patriargale vervreemding van haar eie liggaam oorbrug het. Later kwalifiseer Cixous egter haar eie standpunt en stel dat vroulike skryfwerk nie noodwendig verbonde is aan die biologiese geslag van die skrywer nie. Veel eerder is dit ‘n kreatiewe proses wat erkenning gee aan die “ander” (hier die teenoorgestelde geslag) wat in die individu se psige teenwoordig is. In essensie is vroulike skryfwerk volgens Cixous dié soort skryfwerk wat gestalte gee aan veelvuldigheid op verskillende vlakke. Ten slotte kan verwys word na Luce Irigaray se term womanspeak. Veelvuldigheid is ook in hierdie geval die onderskeidende eienskap, maar Irigaray slaag daarin om dit konkreet te omskryf as ‘n skryfstyl wat gekenmerk word deur vloeibaarheid, sintuiglikheid en ‘n weerstand teen alle vasgestelde vorme en idees (Irigaray in Ruthven 1984 en Moi 1985).
Na aanleiding van die hipotese, word daar vervolgens aan die hand van die bundelstruktuur asook enkele geselekteerde tekste gekyk na Joubert se omdigting van vroulike ervarings, en ook hoe sy ‘n spesifiek vroulike taal inspan om hierdie doel te dien.
Die digter gebruik die vier afdelings van die bundel as ‘n raamwerk om verskillende perspektiewe op vrouwees aan die leser te bied. So byvoorbeeld bied die eerste afdeling met die veelseggende titel “die omsingelde huis” ‘n blik op verskillende vroulike ruimtes wat deur ‘n verskeidenheid van magte bedreig word, terwyl sy ook ‘n reeks uiteenlopende vrouefigure in hulle gemeenskaplike kwesbaarheid tot ‘n eenheid bind. Joubert stel die leser voor aan die kwesbare vrou in al haar gedaantes: die vrou as slagoffer van die patriargale orde, hetsy binne die private of openbare domein (“Eva” en “vrou in Afganistan”); die vrou wie se lewensmaat haar ontval (“gesprek tussen twee vroue”); die vrou wat rou na ‘n lewensmaat se ontrouheid (“Grietjie”); die vrou in haar liggaamlike kwesbaarheid (“loslating”); die vrou wat vrugteloos soek na vervulling in die liefde (“meisie met die lyf”); maar ook die vrou wat aan vloeibaarheid, ontwapening en eenwording met die geliefde gekoppel word (“waskom”).
Interessant genoeg neem Joubert sommige van haar beelde uit die spesifiek vroulike domein, byvoorbeeld die beeld van ‘n porseleinkoppie (“in die slaap”) wat aan die helende krag van die onderbewuste geskakel word. Die beeld van die huis in die algemeen, soos reeds deur die subtitel aangedui word, speel dan ook ʼn eenheidskeppende rol in die eerste afdeling. Desondanks die gedagte van bedreiging wat deur die subtitel aangedui word, slaag die digter daarin om hierdie bedreigende magte te besweer, onder meer deur die werking van die kuns, sodat die vrou die huis as haar outentieke ruimte kan aanvaar. Alhoewel die huis in baie gevalle inderdaad ‘n “omsingelde” ruimte is, is die suggestie van bevryding deurgaans tussen die reëls te vinde (vergelyk in hierdie verband “as winter brand”, waar uitkoms vir die vroulike hoofkarakter letterlik in die tipografies uitgesonderde reëls voorgehou word). Die huis word egter nie – soos dikwels in die feministiese fase – uitgebeeld as ‘n beklemmende ruimte van eindelose en slopende take nie, maar eerder as ‘n uiteindelik kreatiewe ruimte wat deur ‘n rykdom van positiewe sintuiglike ervarings en introspeksie getipeer word. Dink in hierdie verband byvoorbeeld aan “snitte uit ‘n oggend”, waar die huislike ruimte ontwikkel en ingeklee word deur verskillende musieksnitte en die digter se assosiasies daarmee.
In die tweede afdeling ondersoek die digter ‘n spektrum van die vroulike ervaring van liefde. Daar is gedigte oor geliefde mans in haar lewe, waaronder ‘n oupa (“Tuinplaas”), pa (“ek het vergeet”), jeug- en studenteliefde (“jou een oog was blind”, “poukos”, “kampusliefde”). Naas hierdie liriese en soms nostalgiese verse en die meer eroties-volwasse inslag van ‘n gedig soos “intermezzo”, is daar ‘n sterk vers soos “droogvoets” wat die vrou se ervaring van inperking deur haar huwelik ondersoek. Die narratief van ‘n vrou se keuse om haarself te bevry uit ‘n beklemmende situasie word besonder behendig in digvorm aangebied, onder meer deur die digter se ongewone woordvorming en ‑aanwending in veral die “huis”-metafore (“kil blokkiesvloerbed“, “hulle vir ewig katedraal en dig te hou”, “die allure van ‘n huwelik slegs teen mure uitgeklok” – my kursivering). Ook die struktuurwending na strofe 7, wat saamval met die inhoudelike wending wanneer die vrou kies om beheer oor haar eie lewe te neem (“totdat sy alles herskommel”), ondersteun die verhalende opbou van die gedig.
Die huis-metafoor word veel meer volledig uitgewerk in die twee “hawehuis”-gedigte. In “hawehuis 2” word die verskillende vertrekke in die huis die ruimtes van spesifieke ervarings van die vroulike spreker. So byvoorbeeld is die sitkamer die ruimte van intieme en betekenisvolle gesprekke met ander vroue waartydens hulle besonderhede van hulle lewens met haar deel (“leer ken ek haar dae se seer verloop”). Die eetkamer weer, is die ruimte van vertroostende samesyn met die geliefde waartydens hulle hoop op ‘n durende geluk bevestig word.
Aan die einde van hierdie afdeling is daar aangrypende liefdesgedigte soos die beeld- en klankryke “vyftig is nie oud nie” en “fragmente”. In laasgenoemde vers demonstreer Joubert haar vermoë om die vroulike ervaring van intieme samesyn met die geliefde in digte en oorspronklike beelde, gesteun deur sterk klankmatige bindings, om te sit – vergelyk byvoorbeeld die reëls: “die wind vee ons dae / duskant die ruite weg. / patryse verveer in ‘n wingerd”.
Waar die derde afdeling (“winterbriewe e.a.) deur ‘n elegiese klank gekenmerk word, is dit nietemin ‘n viering van ‘n rykdom teksture, geure, smake en klank – kortom, ‘n volkome sintuiglike ervaring wat op ‘n haas intuïtiewe wyse in die taalmedium opgevang word. Joubert se verbluffende vermoë om sintuiglike waarnemings en interpretasies daarvan in taal aan te bied sodat die leser die nuanses van die oorspronklike waarneming aan eie lyf kan ervaar, word raakgelees in reëls soos die volgende uit “metamorfose”:
[…] ek proe die ys van elke spriet
uit die waterlig ontsyfer ek alles weer:
skelet van die doringbos
vlerke van ‘n broodboom gesuspendeer
die kruipslag van ‘n varing wat onder
struike se groen vermomming groei
my hand is die klank van ‘n mossie […]
Die huis-metafoor word weer eens in hierdie afdeling gevind, maar dan met ‘n elegiese nuanse. In “huis 1” word die huis aangebied as ‘n intens vroulike ruimte, maar nou een van leegheid na die vertrek van die spreker se dogter. Die spreker verwoord haar hartseer oor die dogter wat haar, as deel van haar eie volwassewording, van die moeder losmaak. Die verlies word konkreet as beelde van aftakeling van die huis self voorgestel: “[…] die mure kaal / letsels ingepleister waar eens die vingerverf / van tekeninge was […]”. Teen die einde van die gedig trek die spreker dan ook ‘n verband tussen taal en die verlies van die kind wanneer sy skryf:
[…] en wat is die huis nou
so sonder kind
miskien ‘n wond wat heling soek
teen al die mure van ontbloting
asof hier nooit taal en teken
selfs geen tyding was[.]
Hierdie reëls kan geïnterpreteer word as dat selfs taal (en betekenis) aangetas word wanneer die moeder-kind-band verbreek word. Implisiet word moederskap dus sentraal in die vrou se lewe geplaas, en word dit gesien as intiem en noodwendig vervleg met betekenisgewing. Joubert steek egter nie vas in die negatiewe aspekte van die “verlies” van moederskap nie, en wys op die hoop op herstel wat reeds in die trauma self te vinde is (“wond wat heling soek”). Ook deurdat sy haar rol in die dogter se groeiproses beskryf, gee sy erkenning aan die vrou as mediator van groei en selfontdekking:
[…] ek help haar vlerke span
en geruisloos vlam om die horison te haal
verder te gaan as net die donker
poel van slik en waterval […]
Die vierde en laaste afdeling met die titel “sleursange” se gedigte is intens vroulik van aard. In al die gedigte is daar onmiskenbaar ‘n vrou aan die woord wat die diepste gewaarwordinge van die vroulike psige verwoord. Daar is onder meer ontroerende liefdesgedigte en intieme gesprekke met die geliefde (waaronder “waarskuwings”, “soos al die oggende” en “‘n pryslied vir die bruidegom”), maar daarmee saam ook gedigte wat die vrou in haar uiterste kwesbaarheid in die liefde voorstel, byvoorbeeld “inventaris van goeie en slegte drome om vroue te genees wat verlang na afwesige bemindes”. Deur die herhalings met hulle inkanterende effek, die intuïtiewe assosiasies en bewussyn van kontinuïteit is hierdie gedig by uitstek ‘n voorbeeld van Irigaray se womanspeak. Vergelyk byvoorbeeld die volgende strofe waarin veelvuldigheid en kontinuïteit by wyse van herhaling, assosiasies en ‘n spel met betekenis uitgedruk word:
[…] om te droom dat jy na die maan kyk
dat jy na die eerste dag van die nuwe maan kyk
dat jy na die eerste dag van die sterwende maan kyk
om te droom dat jy na die rook van sterre kyk
dat jy na die maan wat verdwyn agter wolke kyk […]
In ‘n gedig soos “perde” gee Joubert by uitstek gestalte aan die konsepte van vloeibaarheid, vervormbaarheid en diversiteit, beide op inhoudelike en talige vlak. Parallelle strukture en afwykings, tesame met ryk sintuiglike beskrywings en assosiatiewe klankpatrone, dra by om die veelvuldige interpretasie van die objek (“perde”) deur die waarnemende vroulike subjek weer te gee.
Uit die bespreking is dit duidelik dat vroulike ervarings die temas van die meerderheid van die gedigte in Passies en passasies is. Joubert slaag daarin om telkens die “normale” ervarings van vrouwees om te dig en daarvan poësie te maak wat ook op die vlak van die taalgebruik status bó die alledaagse verkry. Haar werk kan dus beskou word as volledig gesitueer in Showalter se “female phase”, oftewel die fase van outentieke vroulikheid. Alhoewel daar hier en daar spore van verset teen die patriargie sigbaar word, ontaard Joubert verse nooit in ‘n eensydige galbrakery teen enige stelsel nie. Inteendeel, wanneer patriargale onderdrukking ook al ter sprake kom, verskuif die fokus na die vrou se potensiaal om haar situasie te transendeer (vergelyk “droogvoets”). Op hierdie wyse vervul haar poësie (bes moontlik sonder dat die digter juis dié doel voor oë gehad het) ‘n baie spesifieke psigologiese funksie, naamlik om konstruktiewe en outentieke modelle van vroulikheid aan vroue (en mans) voor te hou.
Op die vlak van taalgebruik slaag Joubert daarin om die taal te gebruik as ‘n instrument om vroulike ervarings te verwoord op ‘n wyse wat herkenbaar vroulik is. Ryk sintuiglike beelde, asook die voorkoms van intuïtiewe assosiasies en ‘n deurdagte klankstruktuur is maar enkele van die eienskappe van haar poësie wat dit onderskei van die “gewone” gebruik van taal (die simboliese taal) ten einde die domein van die sogenaamde semiotiese taal te betree.
Passies en passasies behoort vir Joubert ‘n veel sterker posisie in die tradisie van die Afrikaanse vroulike poësie te verseker en kan met reg ‘n rol vervul as “moederteks” vir daaropvolgende vroulike digters.
Bronnelys
Cixous, H. 1989. Sorties: Out and Out: Attacks/Ways out/Forays. In: Belsey, C. & Moore, J. (reds.). The feminist reader: Essays in gender and the politics of literary criticism. Londen: MacMillan. 101-116.
Crous, M. 2007. Twee suksesse uit een aromatiese huis [Intyds]. Marlise Joubert. Resensie 1. Beskikbaar: http://ateljee.co.za/gedigte/resensie1. [2009, 4 Desember].
Foster, L. 2008. Passies en passasies neig om die leser te oorweldig [Intyds]. LitNet Boeke.
Beskikbaar: http://www.litnet.co.za/cgibin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=
41842&cat_id=722. [2009, 13 Julie].
Joan Hambidge in gesprek met Marlise Joubert oor haar jongste bundel Passies en passasies [Intyds]. 2008. LitNet Onderhoude.
Beskikbaar: http://www.litnet.co.za/cgibin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=
45574&cat_id=178. [2009, 13 Julie].
Hambidge, Joan. 2008. Psige se reis tot individuasie [Intyds]. Marlise Joubert. Resensie 3. Beskikbaar: http://ateljee.co.za/gedigte/resensie3. [2009, 4 Desember].
Lourens, A. 1992. ‘n Kritiese ondersoek van die feministiese literatuurbenadering met verwysing na enkele Afrikaanse digteresse. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Universiteit van Pretoria: Pretoria.
Moi, T. 1985. Sexual/textual politics: feminist literary theory. Londen & New York: Routledge.
Odendaal, B.J. 2008. Passies en passasies [Intyds]. Marlise Joubert. Resensie 2. Beskikbaar: http://ateljee.co.za/gedigte/resensie2. [2009, 4 Desember].
Rich, A. 1972. When we dead awaken: Writing as re-vision [Intyds]. Beskikbaar: http://www.jstor.org/pss/375215. [2009, 4 Desember].
Ruthven, K.K. 1984. Feminist literary studies: An introduction. Cambridge: Cambridge University Press.
Showalter, E. 1986. Towards a feminist poetics. In: Showalter, E. (red.). The new feminist criticism. Londen: Virago. 125-143.
Viljoen, L. 2009. Ons ongehoorde soort. Stellenbosch: SUN PReSS.
[1] Hambidge (2008) noem dat Joubert “nie na waarde geskat word nie” en Crous (2007) stel onomwonde: “Ná die lees hiervan besef ek opnuut sy’s beslis ‘n onderskatte digter.”