Watermerke. Deur Lucie Möller. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-312-6.
Lucie Möller is ‘n Suider-Afrikaanse naamkundige met talle vakpublikasies op haar naam.
Sy is kennelik, en waarskynlik vanweë haar wetenskaplike belangstellingsveld, ook ‘n liefhebber van die landskappe en natuurlewe van Suid-Afrika en Namibië.
In die Waterberge (‘n naam wat in die klanke van die bundeltitel eggo) besit sy ‘n stukkie Bosveldplaas. Ook daardie wêreld vorm ‘n belangrike inspirasiebron van die gedigte in hierdie debuutbundel.
‘n Mens lees van Liefdood, Kombersbrand, Khowas, Beenderebaai, die Swartebbehoutvlakte en nog baie ander plekke wat waarskynlik aan min Afrikaanse poësielesers bekend is. En met onmiskenbare genot en gehegtheid word natuurdinge soos sôu-sôu-gras, abiekwabome, graafwatersgate, oumansbaarde, swerwermammoetbome en pylvlekkatlagters genoem en uitgebeeld. Dit behels ‘n natuurliefde wat met taalliefde gepaard gaan, met raaksê en lekkersê, meestal soos dit uit die volksmond kom.
Hierby sluit ‘n simpatieke betragting van tradisionele (en dikwels bedreigde) volksleefwyses aan. In Watermerke is dit veral die leefwêreld van die Boesman wat ter sprake kom (afdeling II), hoewel ook ‘n vlugtige besoek aan die kontrei van ‘n Amerikaanse Indianestam gebring word (“Sequoyah”).
Sodoende voeg Möller toe tot ‘n tematiese terrein wat alreeds ryklik ontgin is in die Afrikaanse poësie, deur voorgangers soos, om maar ‘n paar te noem, Eugène N. Marais, C. Louis Leipoldt, N.P. van Wyk Louw, Boerneef, George Weideman, Johann Lodewyk Marais, T.T. Cloete en Carina Stander.
Möller word aangegryp deur sowel die dorrer streke van ons kontinent (afdeling II, “Aan voetsole”) as die ruier omgewings (afdeling III, “Die oerbos in”). Dis trouens duidelik dat haar fassinasie uitgaan na skaars-bevolkte lands- en wêrelddele, waar relatief min tekens van menslike teenwoordigheid en aktiwiteit te vinde is. Van die treffendste gedigte in Watermerke ontspring aan hierdie gehegtheid.
Ongewone samesyn
Ligene sprei in woude
en woestyne ‘n bont tapyt
van nuwe lewe oop.
Oor takke, rotse en kranse
drapeer hul oumansbaarde,
motgevrete lap
en damesfyngoed, patrone
van filigreinse kant en hang
agter ‘n plantgordyn
slingerblink syerige serpe
waaragter glimlagte skuil
oor die versteekte samesyn.
Hiernaas word die ontwrigtende impak van menslike bedrywighede op die omgewing onder die loep geneem, byvoorbeeld in afdeling I waar vuur tot ‘n opvallende motief van vernietiging uitgebou word – maar ook van loutering en van voorbereiding op nuwe groei.
‘n Kort gedig soos “Verneukpan”, met sy funksionele sintaktiese onvoltooidhede en sy sentrering op die bladspieël om ‘n ‘swewende’ indruk te maak, is vermoedelik sinnebeeldig van meer as net die vervlieting van verskynsels:
waar ‘n blou voël opstyg
en nie weer land nie
waar sy skaduwee grys vlerkstrepe trek
oor Vaderlandspan[.]
Die slotwoord suggereer dat dit ook om spesifiek die verydeling van nasionale drome (byvoorbeeld deur die Afrikaner) kan handel. Is daar weerklanke van Leipoldt se alombekende “Sekretarisvoël” te verneem in die vreemd ongeïdentifiseerde, vertrekkende “blou voël” in dié gedig, waardeur laasgenoemde interpretasie versterk sou kon word?
Hoe dit ookal sy, dis opvallend hoeveel keer in die bundel van ‘n ongespesifiseerde “ons” gewag gemaak word – aanduidend van sowel ‘n kleiner as ‘n groter identifikasiegroep (byvoorbeeld die spreker se naaste geliefdes én die volksgroep waartoe sy behoort).
Die verganklikheidsgegewe word deur die bundeltitel gesinjaleer, hoewel dit in die bundelverband ook toespeel op die ‘sagte’ kragte in die bestaan, waaronder drome en heugenis (ter sprake in die gedig “Wildepeerblom”), maar wat dan ‘n radikale (her-)skeppende uitwerking kan hê. Van laasgenoemde sou gedigte soos “Bivakberg” en “Skeurkloof” aan die begin van afdeling III as metafories gesien kon word.
Tydelikheid, die nietige en vernietigbare van die aardse bestaan soos dit kontrasteer met die kosmiese dimensies, is die motiewekompleks wat in die eerste afdeling (“Met fynhout en sterrestof”) en die laaste (met die ewe sprekende titel “Tot alles vloei”) oorheers. Sodoende vorm hulle as ‘t ware ‘n strukturele vergestalting van die gegewe dat die verganklikheid die raamwerk is waarbinne die liefderyke betragting van die dinge geskied in die drie binne-afdelings van die bundel. Ook die bandontwerp deur Hanli Deysel (‘n voorstelling van ‘n ontbindende herfsblaar) vang iets van dié motief van die ‘raam’ van die bundel op.
Veelal boeiende onderwerpsmateriaal en -ordening dus – maar wat, helaas, ‘n hoofsaaklik onsuiwer poëtiese neerslag vind in Watermerke.
Die hierbo aangehaalde gedigte is van die min in die bundel wat ‘n werklik onthoubare geheelindruk maak (ek sou ook “Woudvaring”, “Pylvlekkatlagters” en “Melkweg” wou byvoeg), hetsy op openbarende, nuutmakende of geslaagd verdiepende wyse. Te veel gedigte reik nie verby beskrywing of indrukskildering of selfs mededeling nie. Let maar net op hoe ‘n gedig soos die volgende in suggestiekrag en betekenisreikwydte afsteek by ander voorbeelde uit die Afrikaanse poësieskat wat soortgelyke materiaal tot onderwerp het (soos C.M. van den Heever se “”Voëls in die skemering” of “Die vertrekkende wildeganse”):
Vertrek van die kolgans
sirkels in die wier
sirkels in die wier
niemand het gesien
die kolgans sit nog hier
staan sy op een been
botstil op die rand
span sy nog haar vlerke
in die najaarsaand
sirkels in die wier
sirkels in die wier
iemand roep die kolgans
dis tyd vir trek van hier[.]
Bowendien is die bundel deurspek van beelding- en steltroebelhede. Die wilde beeldveldspronge in ‘n geval soos die volgende doen myns insiens uiteindelik ietwat komieklik aan:
Vlam
Ek is die vlam
en brand in jou
om vers te word:
Maak my die stroom
waardeur jou woorde
soos ligdrade gloei
dat ek soos Josefskleed
verweef kan raak,
‘n Moses-staf met woorde kerf
en waterdruppels slaan uit rots:
‘n spies wat vlymskerp tref
tot waar die Suiderkruis oopvonk.
Onthou my in jou gebede,
onthou my lig in jou vers
‘n Ander besondiging is aan beskrywende oordaad, byvoorbeeld in “Vuurproef”, “Wandelpaaie” en “Kortstondige kalligrafie” – sodat dit in laasgenoemde gedig ‘n bietjie ironies klink as die digter aan wyle Adolf Jentsch, suinig-beeldende skilder van onder meer die leegtes van Namibië, sê dat sy uit sy werk “skoon [wou] leer skryf”.
Ook wat die afdelingsamestellings betref, kry ek nie altyd die kloutjie by die oor nie. Dit lyk byvoorbeeld vir my of die reeds genoemde gedig oor die Indiaan (“Sequoya”), asook “Wildepeerboom”, wat primêr handel oor ‘n Europese besoek waarvan die spreker se “hartlief” per brief berig, dalk té weinig (of té onoortuigend) aanhaak by die Suider-Afrikaanse “oerbos”-gegewe wat in die res van die gedigte in afdeling III domineer.
En hoe pas die twee slotgedigte van afdeling IV (“Verspoelings” en “As die reën dan kom”) in by die “Diere sonder maskers”-gegewe van die betrokke afdelingtitel?
Dat met Watermerke nie die volle poëtiese potensiaal verwesenlik word wat in die rykdom aan onderwerpmateriaal en in die daarmee samehangende taalskat steek nie, is ‘n jammerte. Ewe jammer vir hierdie debuut is dat die vindingrykheid en vernuf waarmee voorgangers in die Afrikaanse digkunstradisie met soortgelyke sake omgegaan het, die dofhede daarin des te sterker laat uitstaan.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat