Ná ʼn besoek aan die plaas Springbokoog, iewers tussen Van Wyksvlei en Verneukpan. Baie dankie aan Rina van Wyk, wat ons toegelaat het om die graverings op haar plaas te besoek.
ROTSGRAVERINGS BY SPRINGBOKOOG
Tussen moddersteen en skalie het lawa deurgebeur,
hompe rots sferies tot horingklip gebak
en toe gestol in doleriet.
Nou redekawel dié ysterklip met die wind
en soms, net sóms, beneukte donderstorms,
om weerbarstig hul uitsig oor soutpanne te behou –
ʼn brinkkop, in die woorde van //Kabbo
van Bitterpits, hier anderkant,
soos aangeteken deur Rucy Rroyd
lank gelede in Mowbray, ver hiervandaan.
Druppels kasty die roesbruin rotse,
sodat kalsium en titanium
hul kaal koppe swarter as dassiepis patineer –
die woestyn se gitvernis,
vir graveerders om te kap en skraap,
eland en olifant uit klip te raap.
Die oudste diere word reeds deur reën
verweer en swart gesmeer,
onbenoemde kunstenaars se transige spirale
bly soos lugspieëlings in lawa vibreer,
so anders as die merk van ʼn ene Cilliers,
metalig gedateer: 7 November 1880,
so anders as die klanke, iewers op ʼn band,
van Dora Fock wat ʼn rotsghong bespeel.
Kyk mooi, soek versigtig,
onder sand lê dalk nog ʼn graafstok se steen,
die skerwe van ʼn pyl se punt,
basalt dra dalk letsels van sjamane se klippe
wat geheime uit hul hol harte moes dryf.
Eintlik niks besonders nie –
huishoudelike toestelle uit ʼn ander land,
letsels van ʼn vroeër verblyf.
Eendag sal lawa nogmaals boontoe beur
en alles wéér metamorfeer.