Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
7 February 20106 April 2011

Johann Lodewyk Marais. Stegies van die geskiedenis

Mombasa
Mombasa

Wanneer Air Kenya se Boeing 737-300 naby Mombasa deur die wolke breek, sien ek lappies lande en groepies huise tussen palmbome in die plooie van die heuwelagtige landskap. “Eindelik – die hawe van Mombassa in gesig!” onthou ek Sangiro se woorde. In Op safari (1924) beskryf hy hoe hy en sy reisgenote destyds per skip hier aangekom het. Ek is gretig om die stad te sien wat reeds op Middeleeuse Arabiese kaarte voorgekom het en waar Ibn Battúta, die grootste reisiger van die ou tyd, in die veertiende eeu ‘n nag vertoef het.

Mombasa was ook die beginpunt van ontdekkingstogte soos dié van die Victoriaanse reisiger Joseph Thomson, wat deur die vyandige Maasai se gebied tot by die Victoriameer gestap het. Die Boere wat tussen 1902 en 1914, ná die Anglo-Boereoorlog, na Oos-Afrika verhuis het, het hier per skip aangekom op weg na hulle nuwe tuistes. ‘n Halfeeu later sou hulle en hulle afstammelinge helaas weer hiervandaan teruggaan.

Bykans tweeduisend jaar reeds val die Arabiese invloed langs dié kus op. Die noordelike moesonwinde van vroeg-Desember het Arabiese koopmanne met hulle dhows na hawedorpe soos Lamu, Malindi en Mombasa gebring. Teen middel-Mei het hulle weer met die suidelike moesonwinde vertrek. Vir die suiker, gedroogde koningsvis, tapyte en tradisionele kiste wat hulle gebring het, het hulle palmolie, manglietpale en koraalstene vir bouwerk saamgeneem. Vroeёr het slawe en ivoor die grootste deel van die vrag uitgemaak.

In 1498 het Vasco da Gama eers Mombasa besoek en daarna ook Malindi, hoёr op teen die kus. Die sigbaarste oorblyfsel van die Portugese teenwoordigheid is die imposante ruïne van Fort Jesus in Mombasa. Hierdie strategiese fort het lank as bastion gedien, met kanonne deur die geskutpoorte op die see gerig, en is ‘n hanetreetjie van die ou Swahili- en Arabiese buurt. Deur die smal strate stap heelparty van die vorige reisigers se afstammelinge.

Ou deure in Mombasa
Ou deure in Mombasa

Vandag is Mombasa die naasgrootste stad in Kenia, en belangrik vir in- en uitvoerhandel. In die ou deel van die stad, met sy sterk Moslemkarakter, het die tyd feitlik stilgestaan. Hier pryk talle swaar, versierde houtdeure en moskees. Hoewel die dhows van vroeёr nou selde in die dhowhawe besoek aflê, bly Mombasa ‘n toegangsroete tot die binneland en ‘n mikrokosmos van Oos-Afrika.

Noord van Malindi is Lamu, ‘n eiland waar jy jou maklik in ‘n ander tyd kan indink. Die hoё Swahilihuise langs die stegies, die donkies, dhows en rustiger lewe neem ‘n mens na eeue gelede en word jaloers gekoester. Dhows word nog hier gebou en daagliks as vervoermiddels gebruik. Vissersbote vaar so ver uit as die kus van Somaliё. In sommige huise gebruik mense selfs nog van die Chinese porselein wat hierheen gebring of uit skeepswrakke herwin is.

Joy Adamson van Born free-faam het unieke skilderye van die verskillende groepe in Kenia gemaak. Langs die kus het ek meermale onwillekeurig gedink dat party mense wat deur die strate stap net sowel uit haar skilderye kon gekom het. Daar is iets tydloos in die leefwyse langs die kus van Kenia, waar mense oor eeue heen daarin geslaag het om stryd en tweedrag te oorkom.

Uit Pomp 08.

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Johann Lodewyk Marais. Oor die Keniase kus
Die Karen Blixen-museum, Nairobi →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • ND Cronjé. wiskunde
  • Driekie Grobler. skoffeer
  • Digtersprofiel: Pieter Odendaal
  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d