Ek werk by ‘n skool vir kinders wat meestal nie kan lees nie. Om te kan lees het ek uitgevind, is blykbaar nie so voor die hand liggend soos missed calls van jou ma en ‘n opvolg Noot vir ‘n Noot-reeks nie. Onbelesenheid sê die slimmes, is ook nie een van die gevolge van kurrikulum 2005 of die TV – generasie nie, want sommige van hierdie kinders se ma’s en pa’s vul skoolvorms in onder protes en in die vier lyne onder die opskrif wat vra: VERHOUDINGS BINNE DIE GESIN, antwoord hulle botweg, JA.
‘n Samelewing is so sterk soos sy middelklas het ‘n prof my geleer. ‘n Middelklas wat nog nooit hoendervleis gekry het by die hardop lees van Breyten se My hart is ‘n toring nie. In Sonnet 65 wens Shakespeare vir die ewigdurendheid van sy woorde: “that in black ink, my love may still shine bright.” Hierdie subkultuur se “liggeel dae” word gekenmerk deur oombliklikheid – die brul van ‘n enjin, ‘n brood se rys en die vibe tydens ‘n rugbywedstryd op Ellispark.
Archibald McFleish maak die gewaagde stelling: “A poem should be wordless
as the flight of birds.”
Dit laat my wonder oor woorde – die eksklusiwiteit daarvan.
Party gedigte weet ek, ontstaan nie in stil kamers voor vensters wat straat toe front of in weggesteekte Melville koffieplekkies nie. Party gedigte hang so onverwags soos ‘n winterreënbui in Gauteng, vlugtig en papierloos in die lug soos die kneusreuk van suurlemoene wat jy uitpak van heel onder uit jou inkopiesak. Om dit digterlik te rekonstrueer op ‘n Word-bladsy sal nooit reg laat geskied aan die real-heid daarvan nie. Party gedigte laat huil in jou oë blink sonder die luukse van weer-‘n-keer-lees.
Dit laat my dink aan Hendrik in graad 1. Hy kleur “uit die lyne” in, sê resitasies in off-beat, voor die res van die klas en vertel die mees onwaarskynlikste stories op die mees ongeleë tye. Alles, sonder om ooit die behoefte te ervaar om te sit. Hy sou ‘n stoel waarskynlik as ‘n totaal oorbodige meubelstuk beskou.
In die week voor die skole sluit, kry Hendrik na baie soebat uiteindelik ‘n bril, wat meer na ‘n swembril of ‘n vliegbril of ‘n ons-moet-vlug-in-die-middel-van-die-nag-want-dis-oorlog-bril lyk. Die regrondom bril is meer dik swart rubberrek vir stewig sit as glase. G’n wonder dat hy dié Maandag die deur oopgooi soos ‘n toneel uit Terminator II, ‘n oomblik botstil staan totdat die mollige meisietjie in die agterste ry ophou om in haar Bratz-kosblik te grawe en in sy rigting kyk. En dan, om enige misverstand uit die weg te ruim in sy hardste stem uitroep:“Dis ek, Hendrik!
Inderdaad, Bernard. Synde self oud-onderwyser is daar nogal heelwat insidente wat ‘n mens met enorme binnepret onthou.
Soos die volgende: Dit was middel 70s en ek ‘n groentjie-onderwyser by Dr. Blok Kleurlinghoërskool buite Bloemfontein. ‘n Algemene uitdrukking van verontwaardiging daardie tye was “Ma’ kan ‘n man dan nou nie?!”. Nietemin, die een dag loop ek op die skoolstoep agter ‘n opgeskote seun en dogter (sommige van die leerlinge was nie veel jonger as ek op daardie stadium nie …) en die seun kyk die meisie op en af en laat waai met ‘n ietwat ongepasde “Ma’ kan ‘n man dan nou nie!” In volle verontwaardiging het die meisie vasgesteek en hom hande-op-die-heup toegesnou met: “Mits’ie tools nie te geroes is nie!”
Glo my, ek het gekrepeer van die lag; tot hul verleentheid, helaas.
Ek en Hanli (my vrou) het lekker gelag by die lees van hierdie blogbydrae. Ons het altwee vroeer onderwys gegee. ‘n Skool is ‘n plek waar amper die hele wereld binne vier mure kan gebeur. Mens moet net jou oe en ore oophou daarvoor, en jou humorsin fiks.