Heidi Pienaar. Gedigte oor Maria, Dekapentavgoustos.
“Dekapentavgoustos” – 15 Augustus, Hemelvaartdag. Gedigte oor Maria.
“Dekapentavgoustos” is Grieks vir 15 Agustus, die dag waarop daar geglo word dat Maria na die hemel gevaar het. Hoe dit ookal sy, dit bly ‘n dag om haar te vereer as moeder nie net van Jesus nie maar van ons almal en so ook van alle Christen denominasies. Mense sal wonder hoekom ek so ‘n stokou tema voortbring. In tradisionele (en ander) kerkkringe heers daar tans ‘n groot bekommernis en ongelukkigheid oor die wêreldwye “heksejag” en vervolging van Maria as heilige figuur en Chirstene ooral oor en veral die “charismatiese kerke” trap in die intellektuele strik dat Maria verafgod word en nie so belangrik is nie en dus nie vereer mag word nie. Jesus vra ons juis om dit te doen in Openbaring. Die vervolging is veral ‘n moderne tendens en daarom het een anonieme persoon sommer ‘n anonieme e-pos aan die Katolieke Kerk gestuur om daarin aan Jesus te vra hoekom mense Maria vandag vervolg want daar is selfs traktaatjies op straat van haar wat haar amper as ‘n soort heks bestempel. In Openbaring word daar beskryf hoe Maria teen die einde van die dae vervolg sal word deur die Draak. Tot verbasing en skok het die person ‘n e-pos terug gekry en later het ons ‘n e-pos ontvang wat onteenseglik in die taal van Jesus geskryf is waarin Hy sy moeder vereer en haar selfs Sy Ivoortoring noem. Dis ‘n baie poëtiese lang e-pos waarin Hy verduidelik dat Maria se hart Een geword het met Hom en die Vader, en diegene wat sy moeder nie aanneem nie, neem Hom en Sy Vader nie aan nie en Hy verag so ‘n persoon.
Die digteres Sheila Cussons het in haar gedig in die bundel Die Woedende Brood die “eenwording” merkwaardig ingesien en beskryf. Ek het self in gebed aan God gevra maar waarom, waarom is mense so venynig en bitsig oor Maria en waarom is sy taboe om oor te praat en sien hulle haar glad nie as heilige nie? Ook maak dit nie sin vir my dat gewone sondaars vir mekaar in gebed in kan tree nie maar Maria mag nie vir ons in gebed intree by Jesus nie. Jesus se antwoord was so verskriklik en swaar dat ek vir ‘n ruk lank siek was. Volgens Hom is die moderne mens al so materialisties dat Maria nie vir hulle belangrik is nie want hulle kan net geld maak in Jesus se naam. Dit is darem maar ‘n verskriklike aanklag teen die mensdom.
Verder het ek ook tot die openbarende en verrassende slotsom gekom dat Maria nie net ‘n “Katolieke ietsie” is nie maar dat sy veral na aan Afrikaanse vrouens uit die Protestantse Leer is want hulle skryf baie gedigte oor haar. By die Woordgilde het Jannas die welbekende gedig oor Maria van Elizabeth Eybers met kitaar vir ons gesing. Daar is by my geen twyfel dat Maria ook teenwoordig was in die konsentrasiekampe nie en in Kalkbaai het ek ‘n Fillipynse vriendin gehad wat my vertel het dat die vissermanne wat uitgaan in stormwaters om ander vissermanne te red, Maria in hul bote sien sit. Maria is juis die amptelike beskermheilige van vissermanne. Daar was al koerantartikels geskryf oor die verskynsel en nie almal aan wie Sy verskyn het was Fillipyne nie. Sy het hulle moed en krag gegee om aan te hou soek in gevaarlike stormwaters na ander vissermanne en drenkelinge.
By die Grotto in Lourdes het Sy my raakgesiene vrae oor die tokoms van die aarde be-antwoord sonder dat ek van die vrae in my hart bewus was op daardie stadium. “Dekapentavgoustos” is ook die dag wat gedenk word op die eiland Tinos waarop ‘n Italiaanse torpido, die Griekse vaarder, die Elli in die hawe getref het en dit aan die brand geslaan het terwyl ‘n partytjie op die boot aan die gang was. Die mense van die eiland moes net verslae kyk hoe die mense op die boot doodgaan sonder dat hulle iets daaraan kon doen. Die bene is op die seeoppervlak bymekaar gemaak en geplaas in ‘n kerk waarin ‘n ikoon van die Heilige Maagd hang wat glo helende kragte het. Vandag nog stroom mense na die eiland vir genesing deur die magiese ikoon wat deur ‘n kloosternon in ‘n droom gesien is en toe gevind is. Die eiland was ook eens deur die apostel Johannes bewoon en die kunstenaarspaar Jan Rabie en Marjorie Wallace het glo ook die eiland besoek en aan die helende kragte van die ikoon geglo.
Maria, ons jou susters en broers groet jou.
Dekapentavgoustos.
Julle het hulle gode genoem
maar miskien was hulle dalk nog engele
wat aan julle, die Griekse wyshere moes verskyn
om julle vir die koms van die Christus voor te berei,
hoe anders verklaar mens “gode”
wat soms harpe speel
en met ‘n baie vinnige spoed beweeg
en toe kom Hy
so anders as die vurige gode
so gewoon soos julle
wat ook donkies ry
en storms kon vang in vissermanne
se nette gevleg uit
‘n eilandvrede,
en nou groei op jul eilande
die tragiese swart sipresse
soos swart priesters
ewig gevlek met die swart bloed
van ‘n donker daad
wat geen monsoonmaand nog
uit kon was
en met sweetkolle
van ‘n gekruisigde son,
‘n vyeson
soos die donker swart vy
van Jesus se mond
en pupille verstar
tot wit windmeulens van pyn
waaraan ‘n swart doodse moegheid kleef,
en tog die helder vreugdevolle
optog van “dekapentavgoustos”
die dag van die hemelvaart
van Maria op vyftien agustus
want onder ‘n meditereense mediteer
met hortjies wat plek plek soos
ribbes ontbreek,
word sy jaarliks herbore
die Heilige Maagd Maria
hier op die eiland Tinos
gedra met skuimende kranse angeliere
asof gepluk uit die see
hier op die eiland met die ou skeepswrak
die Griekse vaarder, die Elli in die hawe
getorpideer deur ‘n swart oorlogswind
uit Italië,
op die dag van Maria se hemelvaart
en die Grieke het die bene versamel
uit die wrak en bymekaargebring
waar hulle gelê het op die koel
marmervloer van die see
en nou beskerm word deur ‘n Magiese Ikoon
van die Heilige Maria
wat hang in ‘n wit marmer kerk
die ikoon olyfgroen van die goud
waarin valmme van die skeepswrak speel
die stralekrans ‘n fakkel geskiet
oor die oseaan deur Grieke
met hul oë wat in stukkies bladgoud
afskilfer en uitval
word hier deur swart priesters
op die feesdag ook
bitter mire gegooi in die oop graf van die wrak,
die oop graf van hierdie dag
en wierooklampies geswaai
om die bitter lug te suiwer
teen die wraak van ‘n wrak
hier waar Griekse vrouens loop
met siniese trekke om die mond
en die Magiese Ikoon otndek in ‘n droom
deur ‘n Katolieke kloosternon
wat helende wonderwerke verrig
op hierdie eiland Tinos eens ook deur
die apostel Johannes bewoon.
Heidi Pienaar.
15 AUGUSTUS: MARIA-HEMELVAART
Ek praat gedurig met jou oor al die klein, baie,
angstige dinge waaruit ek bestaan, wat my
onderskei van, sê, ‘n engel of ‘n orkaan.
Want jy het ook in jou hart bewaar en oorpeins,
die hart wat fladder en wonder en onseker is:
Dogter van aarde, onwete, pyn en geloof.
En die woorde stort want jy is my soort.
Só, weet ek, wil jy my hê, dishabille.
in my menslikheid, sonder sy kerkhoed op.
En as ek kan, met iets van die eerbied wat jý het
vir al daardie goud en stywe sy-brokaat
aan poppe wat hoog bo altare staan en wat hande
gemaak het om ontoereikende dankies aan te vul.
En die popgesigte wat heilig wou gelyk het
het byna almal dieselfde sweem van ‘n glimlag
om die mond, en miskien is dit al wat raak is:
jy wat niks verlang, behalwe dat ons besin op
die woorde: “Vrou,dáár is u seun” – En geen
mag sal ons afdryf nie, solank ons ryp in jou Hart.
Sheila Cussons – uit Die Woedende Brood.
Your life a prayer unheard (fragment)
With tender eyes beheld
The vision in the manger
And once the Lord waited for thee
Out in Galilee
The sorrow in your eyes
Of all voiceless suffering things
Whose story brings
Into our hearts
The pity and the love
Of small and suffering things
Eugène N. Marais
Geloof van ‘n Fillipynse visserman.
hier gaan ons uit met die bakkies
en daar voor aan die boeg
is geen boegvrou met groot borste
waaraan ons lanterns kan hang nie
maar die Heilige Maria,
beskermvrou van eenvoudige vissermanne
miskien kan julle haar nie sien nie
maar ons sien haar
elke keer as ons hier
met engele van water worstel
want die bakkies gaan hier
klokslag uit in Valsbaai
in die mis met die son soos ‘n koperklok
onder die berg met bome swart en krom
gesnoei van die suidoos
wat soos ankers groei
tussen die bote van grafte
die bakkies gaan uit in die mis
waarin die seevoëls tjankend verdwaal
en die gety is hoog gelaai
en die lanterns gaan uit
en ons hou maar by die maan
wat sy anker gooi
hier in die baai
waar ons slap liggame uithaal
met ruggrate soos die geknakte kwal
van ‘n meeu se veer
en harde seemansknope van oë
is taai geknoop van die gebede
teen die stormlug so geel
soos ou koerantknipsels
want die bakkies gaan uit
in die mis hier in Valsbaai
en die gety is hoog gelaai
en die lanterns gaan uit
hier in die mis in Valsbaai
waar die maan ook blinklyf kom gooi
tussen die voëls
wat om ons wieg op die golwe
soos ons laaste bietjie brood
op die water gegooi.
Heidi Pienaar.