Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
2 September 201030 March 2016

Digstring: Ilse van Staden. Fluistering

Digstring

Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig

 

 

 

Fluistering

 

Dis juis die ding van fluister –

dat mens nie maklik hoor nie,

dat jy jou voete skeef kan sit en struikel

oor iets ooglopend soos ’n klip

wat skynbaar niks anders is as dit nie.

 

Dis juis die ding.

 

’n Fluisterklip laat niks deurglip

harder as die hartklop van ’n klip,

niks luider as die spin uit kwartsietkele

of soms ’n gles uit diamant nie.

 

Fluister is die sluimering vóór woorde begin

soos berge beweging is,

diép binne-in.

 

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Ilse? Hoe het dit ontstaan?

 

Die gedig is geskryf in 2007, n.a.v.  kritiek dat die begrip “fluisterklip” onrealisties en geforseerd is.

 

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

 

Die gedig het deur verskeie weergawes ontwikkel, hoewel die begin en einde min of meer dieselfde gebly het.

 

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

 

Soos gewoonlik gebeur, is die meeste van die vers aan my “gegee”. Die afronding is maar altyd wroeg en sweet.

 

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

 

Weet nie of ek die vraag mooi verstaan nie. Wat is “ordeningsbeginsel”? Onderdelingsbeginsel? Ordeningsbeginsel? In ieder geval.) Ek bedink nie juis die vorm wanneer ek skryf nie. Meestal timmer die keurders en/of uitgewer dit in plek indien nodig.

 

 

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

 

Nee. Ongelukkig het ek nie meer ’n klankbord nie. Ek dig maar in die duister.

 

 

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

 

Dit is in 2008 gepubliseer in Fluisterklip.

 

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

 

Vir my is dit alles “feit”, of dit nou realiteit is of metafoor. Daar is geen fiksie in dié vers nie.

 

 

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

 

Dit gaan oor die sluimerende poësie in die wêreld om ons, dié dinge wat mens mis as jy raserig verbyjaag. Al struikel jy daaroor, gaan jy dit steeds nie raaksien of raakhoor nie. Om dit te “ontvang”, verg vir my baie ure se stilsit, stilbly en fyn luister.

 

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die totstandkoming van dié betrokke vers gehad het?

 

Die oorspronklike begrip van ’n fluisterklip kom van ’n sg. “whispering stone” wat my ma in die veld opgetel het en wat ons met gepaste seremonie in die fondasie van my huis ingebou het in 2004.

 

Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

 

Nee, ek skryf maar neer wat na my kant kom. Wie lees, moet lees.

 

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

 

Dis ’n terugantwoord, wat ek nog net in een ander gedig probeer het, nl. “Belydenis” in dieselfde bundel. Dit is ook selde dat ek ’n gedig begin met ’n vooraf konsep oor wat ek wil sê, gewoonlik beur ek maar die donker in totdat iets vorm aanneem.

 

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

 

Nee.

 

Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

 

Die middelste strofe is steeds vir my nie bevredigend nie.

 

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

 

Ek weet selde wat lesers se reaksie is op my werk.

 

’n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan.

 

My eerste gediggie het ek in Mei 1979 geskryf, toe ek in graad een was. Dit gaan oor ’n eend wat ’n vis vang. Ek het dit gebruik as subopskrif (?) in die gedig “Variasie op ’n tema” in Watervlerk.

 

Ilse van Staden
Ilse van Staden

Ilse van Staden is in 1972 in Pretoria gebore, maar het grootgeword in die Waterberge in die Limpopoprovinsie. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Pro Arte (Pretoria) en studeer veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria. Van 1997 tot 2005 praktiseer sy voltyds as veearts. Sedertdien is sy deeltyds veearts en deeltyds skrywer. Haar debuutbundel Watervlerk (2003) ontvang die Eugène Marais- en Ingrid Jonke-pryse. Sy is tans besig met ’n B.A.-graad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Suid-Afrika. Haar tweede digbundel, Fluisterklip, het in 2008 by Lapa verskyn.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

1e kommentaar op “Digstring: Ilse van Staden. Fluistering”

  1. Joan Hambidge says:
    4 September 2010 at 12:22

    ‘n Baie insigryke onderhoud.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Koos de Wet. vóór die smelting
  • Digtersprofiel: Gert Vlok Nel
  • Meyer van Rensburg. Spieëlkamer
  • Margaret Cordier-Biermann. Verlossing
  • Wynand J Booysen. koue afgrond

Nuutste kommentaar

  1. Miel Vanstreels on Miel Vanstreels. Voorlopig1 August 2026

    Dankie, Marieta

  2. Conrad on Hans du Plessis. Psalm 121 (Stemgreep)30 July 2026

    Goeie middag ek is n koorleier van die VGK Kerk Kraaifontein en is op soek na die SATB Blad musiek…

  3. Marieta McGrath on Miel Vanstreels. Voorlopig30 July 2026

    Stout gedig! Baie snaaks!

  4. Bernie on Rainer Maria Rilke. Almal wat Jou soek, beproef Jou (vert.)29 July 2026

    Kan die vertaler dalk verduidelik waarom hy hoofletters gebruik in sy vertaling terwyl Rilke kleinletters gebruik.

  5. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Plaagbeheer28 July 2026

    Ja, hoe beheer ‘n mens die plaag waarvan in die slotreël gewag gemaak word …?

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d