’n Mens kan gelukkig wees. Tog. Soms. Oor klein dingetjies, soos die cliché sê. Soos om die goeie stryd te stry en die oorwinning te behaal deur halfses op te staan en te gaan stap. Juis die dag wanneer ’n regte-egte Kaapse motreën winderig stuif en jy na regte nie met ’n gejuig op die lippe moet wakker word nie, maar die dag moet afvat en luigat in die bed moet lê en Plaasmoord klaar moet lees.
Maar die lewe is pervers. Of ek is pervers. Of my siening van die lewe is pervers. Juis op hierdie dag verrys ek om ’n reënbaadjie aan te trek en twintig voor ses die pad te vat. Wanneer laas het ek ’n reënbaadjie gedra? Laas nog met die vloed, ’n paar jaar terug, toe ek gaan foto’s neem het en my Sony CyberShot van skok en verkoue dood is.
Wanneer laas het ek ’n propperse lang reënjas gedra? Een met ’n rubberlagie binne wat jou soos ’n langafstandatleet laat sweet ná tien minute in die reën? Kleintyd laas, toe ’n mens sommer net gelukkig was sonder om te weet dat dinge baie gou verander. Jy’t kaalvoet in daai reënsweetjas in die waterslote langs die pad geloop en die modder deur jou tone laat dril. Die idee dat vuil toonnaels nie sosiaal aanvaarbaar is nie, het net so min bestaan soos die wete dat grootmense eintlik niks weet nie.
Dis geniepsig koud met vlae misreën. Jy’s binne vyftien minute papnat van die knieë af. Maar darem af, nie op nie, sodat jy nie soos ’n cowboy wydsbeen hoef te loop nie.
Vir die eerste keer in hoe lank ruik jy dennebome. Dennebome? Maar jy’t nie eens geweet hier’s dennebome nie, en jy loop al hoe lank hierdie pad.
Wanneer laas het jy gegly-gly op en in modder? Nie in ’n motor nie – in jou eie Hi-Tecs wat die modder teen jou broekspype opspat, sjlurp-sjlurp. Wanneer laas het jy so swaar gedra aan jou skoene oor hulle dubbeldik moddersole het?
Dit raak verstikkend warm onder die rooi kappie en Rooikappie pluk dit af. Wolf lê tien teen een nog knus en uitgevreet langs ouma. Ysige slierte hare hang oor jou voorkop en langs jou wange. Jy weet jou gesig is bloedrooi gepiets van bloed wat reën en wind en koud eerstehands wil beleef.
Waterdig in hul spikkelpakke kletter die tarentale in tarentaaltaal, swenk diékant toe en daaikant toe, besluiteloos soos ’n mens.
In jou gees beleef jy die geluk dat jy, persoonlik, die reën gebring het ná die droogste winter in dekades. Want jy het die vorige dag in lieflike sonskyn vir die eerste keer ’n dubbelbedduvet na ’n wassery gebring en groot twyfel uitgespreek of daardie masjien dieselfde skoonmaakkrag as jou eie trappende voete het. Jy het afgespreek om die (hopelik skoon) gewaste duvet die volgende oggend, hierdie oggend, te kom haal. Nee, hulle moet dit nie in hul masjien droogmaak nie – jy wil dit in die warm, geurige, gesonde son op die wasgoeddraad laat droogword.
Ek is grootmoedig genoeg om toe te gee dat ’n paar ander mense dalk ook ’n effense aandeeltjie in die koms van die reën gehad het, byvoorbeeld iemand wat die vorige dag sy huis se dak laat verf het of iemand wat die eerste keer in jare vensters gewas het wat net met twee geleende wiebelrige lere bygekom kan word.
Geluk is om warm water te hê as jy koud en honger en modderig en moeg by jou huis aankom. Om in die eerste plek ’n huis te hê waarvan die dak nie te veel lek nie, is natuurlik ’n geluk groter as ’n paleis.
Daar is selde warm water in my geyser. ’n Kombinasie van suinig en spaar en groen. As dit goed genoeg vir Ma-hulle was om uit ’n emmer te was (ek darem uit ’n wasbak), sal ek nie van ontbering sterf nie.
Ek kan die eenvoudige, half armoedige lewe aanbeveel. Jy raak terug-op-die-brug en niks gewoond nie. Dan’s alles dubbel so lekker. ’n Warm stort. Om in ’n vriend se Mercedes te ry. Om in ’n restaurant koffie te drink. Om ’n toneelstuk te gaan kyk. Om in ’n boekwinkel te kom. Om in ’n hotelkamer te bly waarvoor jy nie betaal nie.
Geluk is ’n bottel Jacobs Krönung-koffie met die donkergroen deksel wat ’n vriendin bring – want ’n “skrywer” (my aanhalingstekens) behoort nie ’n flou koffie-en-sigoreimengsel te drink nie. Ek het afgeskaal van sterk en suiwer na kômmin, die soort koffie wat ek nie eens by ander mense sal drink nie. (Lelike gewoonte, maar ek vra altyd “Watter soort?” as mense my koffie aanbied. Nee dankie vir dié wat ek self drink.) Die gesondheid vind baat daarby. My kômmin koffie is so sleg dat ek nie meer as twee bekers op ’n dag drink nie.
Wat is geluk nog? As ’n vriend skryf om te vra of jy Watermeyer se “Oestyd” êrens in ’n bundel kan opspoor en vir hom die laaste reëls sal aanstuur. “Oestyd” is te outyds vir André P. Brink se geblikte Groot Verseboek. My dik Groot Verseboek, die een voor die driedelige een, is uitgeleen. Verdomp, waar is my geliefde maerderige ou Groot Verseboek van universiteitsdae? Weg. “Oestyd” is ook nie in Senior Verseboek van D.J. Opperman (1979) nie. My oog val op Treknet – bloemlesing uit die Afrikaanse poësie saamgestel deur N.P. van Wyk Louw en E. Lindenberg (vir R5 gekoop). En dáár is G.A. Watermeyer se “Oestyd”, een van net twee van sy gedigte. Dis ’n geluk om die volgende strofe te lees wat die woorde gee vir die oestyd waarmee jy besig is:
O God! Sal hierdie trae son
dan nooit die rante raak,
en hierdie vlamgetongde wind
dan nooit sy branding staak …?
Geluk is ’n kinderstorie wat iemand vir jou voorlees terwyl jy die prentjies kyk:
“Pinkenolsie lag: ‘Ék, spesiaal? Hoekom? Ek kan nie vinnig loop nie. Ek kan nie spring nie. My verf dop af. Hoekom gee jy vir my om?’
“Eli kyk na Pinkenolsie, sit sy hande op die klein houtskouertjies en sê baie stadig: ‘Want jy is myne. Dit is hoekom ek vir jou omgee.’ ”
Geluk is om die vretende angs van uitgestelde en opstapelende werk vir ’n rukkie af te skud en op jou verslete ou leerbank in die sitkamer te sit en na die 1930’s-tjellomusiek van die ou meester Pablo Casals te luister. En wierook te brand waarvan jy al vergeet het.
Geluk is om groot, oop, half verwelkte rose te sien en te ruik. Dit moet gesteelde rose wees om werklik mooi en geurig te wees. Verkieslik van ’n buurman wat in jou nederige opinie ’n ou vrou met ’n nat broek is. Buitendien betree sy eiendom jou eiendom onwettig deur effens oor die draad te hang.
Geluk is maar sulke kleinerige goed. Soos vreemde wesens wat op vreemde maniere in jou lewe beland en vreemde dinge laat gebeur. Soos om jou te laat glo dat daar wel geluk is. Tog.
Louis, dit klink soos ‘n epiloog vir Candide.
Marlise, ek glo vas mens weet as jou nommer getel word. Sien bv. Martin Luther King se laaste toespraak. http://www.youtube.com/watch?v=o0FiCxZKuv8
Om dan ook nie te vergeet van Milosz se aangrypende gedig nie:
Gift
A day so happy.
Fog lifted early. I worked in the garden.
Hummingbirds were stopping over the honeysuckle flowers.
There was no thing on earth I wanted to possess.
I knew no one worth my envying him.
Whatever evil I had suffered, I forgot.
To think that once I was the same man did not embarrass me.
In my body I felt no pain.
When straightening up, I saw blue sea and sails.
(c) Czeslaw Milosz
Vir my is die mooiste gedig oor geluk Raymond Carver se “Happiness”:
So early it’s still almost dark out.
I’m near the window with coffee,
and the usual early morning stuff
that passes for thought.
When I see the boy and his friend
walking up the road
to deliver the newspaper.
They wear caps and sweaters,
and one boy has a bag over his shoulder.
They are so happy
they aren’t saying anything, these boys.
I think if they could, they would take
each other’s arm.
It’s early in the morning,
and they are doing this thing together.
They come on, slowly.
The sky is taking on light,
though the moon still hangs pale over the water.
Such beauty that for a minute
death and ambition, even love,
doesn’t enter into this.
Happiness. It comes on
unexpectedly. And goes beyond, really,
any early morning talk about it.
Wat ‘n lekkerte om vroeg vanoggend julle twee woordskilders se gesprekke met mekaar te lees. Om op julle woordpaadjies van herinneringe en “raaksien” te loop. En die eggo’s wat dit in my eie lewe oproep. Breyten se gedig oor ‘n ou vrou wat van die ouderdom net nog die pure mens is. Daar was ‘n tyd toe “elke haan se kraai was ‘n tevrede sug”. Ek wil iets bysê maar die woorde glip lomp tussen my vingers deur. Hoe wonderlik evokatief verwoord digters die alledaagse lewe nie.
Vir my is die mooiste vers oor geluk Antjie Krog se “Klein vrede”:
Vanmiddag wag sy vir hom in ‘n klein hoëmuurhuisie
half toe-oog ingekruip agter ‘n straatstoepie
5.12 hang hy sy hoed aan die haak
trek sy baadjie uit en sy gooi kookwater deur die koffiesak
vee haar hande aan die geblomde voorskoot en wag darem
dat hy haar eers teen hom vasdruk, so skuinserig met die een arm
voor sy hom die dag se nusies vertel
die gat in die heining, die hond, Anna-jannie het gebel
Na ete haal sy die Bybel uit die boonste laai
en hy lees vir hulle van Israel se afgode teen die berg Sinaï
haar hande vou ‘n stopskulp in syne as sy bid:
Onse Vader wat hoog bo die aarde in die hemel sit …
Die maan rys soos ‘n koringmeelbrood bokant die dak
sy was skottelgoed met lifebuoy en ‘n omgesoomde meelsak
hy luister nuus op die treetjie by die agterdeur
oor dinge wat met ander mense in die wêreld gebeur
Later as die luggie begint trek
die windpomp klap-klap in die dam in lek
sit hy die sproeier af, maak die hoenderhokke toe
sit die kat uit en kom langsaam kamer toe.
In die na-nag as die wind uit die noorde begin
skuif die maan oor hul bed dieper die kamer in
tot op die woorde geraam in krulle:
My vrede gee Ek julle.
Dankie vir jou mooi kommentaar, Marlise. So goed om herinner te word: “Ek is die pad”. Soms loop en kyk jy so na ander se pad of te stip na jou eie pad dat jy vergeet. Ja, en hoe dikwels voel ’n mens nie jy is “by the way” nie, sommer net terloops.
Ek glo vas ons weet vooruit alles wat gaan gebeur – soms laat ons die onderbewussyn toe om dit na die bewussyn te lek. Gedigte is – nes drome – dikwels boodskappers van die onderbewussyn. Dit vertel ons wat ons weet wat ons dink ons nie weet nie. Ek ondervind dit met my eie gedigte.
Dis vir my vreemd dat mense nie wil doodgaan nie of bang is vir die dood. Dis seker maar die ingeteelte geen van lewe ten alle koste, anders het die hele mensdom en masse padgegee en is die doel van lewe op hierdie vreemde planeet daarmee heen. Van kleins af voel ek baie ontuis en ongemaklik in hierdie wêreld:
“en ’k sien dit dan aan alle ding
wat in die skemer my omring,
die wêreld is ons woning nie.”
Selfs op my “gelukkigste” sien ek daarna uit om huis toe te gaan, na my ware tuiste. Want ek is gelukkig onmodieus genoeg om te glo aan God, aan Jesus Christus, aan my onsterflikheid, en aan die Hiernamaals.
Die ironie is dat ek, vir wie dit ook ’n “plesier” sal wees om te sterf, so sober en gesond leef dat ek honderd-plus sal haal as ek nie in ’n ongeluk omkom of my keel afgesny word nie. Maar my vriende wat die dood afgryslik vind, lewe so selfvernietigend!
Jelleke, soms gryp ek sommer een van my ou vergeelde slaplyf digbundels uit die rak om ʼn paar verse te herlees. So haal ek toe ʼn bundel uit [2dehands iewers uit die vergetelheid aangeskaf] Lovers and Comrades, women’s resistance poetry from Central America [1989]. Nie minder nie as 46 vrouedigters in Engelse vertalings is hierin opgeneem! Ek slaan in die middel oop en lees die volgende eenvoudige versie geskryf deur Delfy Góchez Fernández:
I am Happy
Today I have discovered happiness.
Today I learnt
It’s not that I’m on the way
or by the way
or with the way
I am the way!
Dit resoneer toe so met jou mooi blog oor ‘geluk’ en die staptog, maar dink ek toe, daar is darem sekerlik beter gedigte oor “Geluk” as hierdie ou gediggie. Miskien is daar ander meer bevredigende gedigte deur hierdie vrou en ek lees toe ook nog ʼn vers van haar met die titel van It will be my Pleasure to Die. ‘n Veel beter gedig toe. Maar ek wonder opeens: Die een oomblik besing sy ‘happiness’ & met die volgende gedig wil sy dan sommer sterf. Hoe oud is hierdie digter dan, wonder ek. Seker digby tagtig. Ek lees hierdie reëls onder andere:
“what is undeniable
is that they will kill me.
and my blood will water our land
and flowers of liberty will blossom.”
En toe word ek tot stilstand geruk deur ʼn voetnota by die gedigte in allerkleinste skrif:
” * This poem was written days before she was murdered on 22 March 1979 by security forces while taking refuge in the Venezuelan Embassy.”
Ek slaan dadelik die biografiese besonderhede na agter in die boek van al die digters en lees toe dat Fernández onder andere ʼn nasionale poësieprys gewen het, ongepubliseerd is, dat sy ʼn student was in El Salvador wat polities betrokke geraak het by ʼn ‘student uprising’ en terwyl sy skuiling gesoek het in die ambassade is sy geskiet.
Haar gedigte is deur haar ouers [die pa ʼn bekende digter, die ma ʼn lektrise] ingestuur vir hierdie bundel vrouedigters.
Alles so hartseer. So afgryslik noodlottig. Sou die jong meisie ʼn voorgevoel gehad het? Sou dit wees dat gedigte jou lewe vooruit loop, bepalend kan wees? Ek wonder maar net.
Ek hoop nie so nie?
Kom ons hou maar by die staptogte. Ek stap elke dag vir 15-20 minute lank hier in die buurt. Dan geniet ek al die oordadige blomkleure in die tuine, ʼn boom se tak vol blare wat teen my skuur, die bekende gesigte wat my verbydraf, ʼn rooiwangkind op sy fiets, die berge bokant die dakke.
En dis ook ‘geluk’. Om jou eie ‘weg’ te wees, of te vind, te midde van die problematiek in die land.