
Hoewel Marais ‘n gekwalifiseerde regsgeleerde was en lank as beide advokaat én as prokureur gepraktiseer het, het hy nooit die regte as sy belangrikste nering of roeping beskou nie. Dit was dan ook nie altyd vir hom moontlik om ‘n vaste inkomste uit hierdie professie te verdien nie. In die tydperk tussen 1917 en 1927, toe Marais as advokaat en prokureur gepraktiseer het, was hy nie besonder suksesvol nie en moes hy verskeie kere van praktyk verwissel en selfs op verskillende dorpe gaan woon. Marais se verdediging in 1932 van die vier teer-en-veerders van H.P. Lamont, die skrywer van die destyds opspraakwekkende roman War, wine and women, is as ‘n fiasko beskou (kyk Leon Rousseau, Die groot verlange, 1974, pp. 434-440).
Marais se regsboek, Deeds Office Practice of the Transvaal, dra die subtitel The Deeds Office Proclamations, and Deeds Office Regulations with full Notes and later Amendments, Stamp Act, Authentication Proclamation, etc. Onder Marais se naam word sy titel aangegee as “Of the Inner Temple, Barrister-at-Law, Advocate of the Supreme Court of the Transvaal”. Die boek is in 1903 deur die “‘Land en Volk’ Office” in Pretoria gedruk en gepubliseer.