Die roete wat ons uit Pretoria na Pelindaba neem, gaan min of meer dieselfde roete wees wat Eugène N. Marais waarskynlik self ‘n hele aantal kere na Pelindaba geneem het. Die ou pad tussen Pretora en Pelindaba wat verby heelparty kleinhoewes loop, is sedertdien geteer en het na alle waarskynlikheid hier en daar ‘n ander koers as in Marais se tyd ingeslaan. Ons ry met die snelweg om tyd te bespaar en omdat ons in elk geval van die snelweg af die ou pad sal kan sien wat parallel met die snelweg loop.
Die feit dat die pad destyds nie geteer was nie en Pelindaba dus vir alle praktiese doeleindes relatief gesproke “verder” was as vandag, is wel van belang indien ons die gebeure daardie laaste klompie ure in Marais se lewe in oёnskou neem. Dit het in Maart 1936 buitengewoon baie gereёn, sodat dit glad nie maklik sou wees om daardie laaste naweek van Maart 1936 met die grondpad tussen Pretoria en Pelindaba te reis nie.
Marais het op die laaste Saterdag van Maart 1936 teësinnig die Prellers uit die stad na Pelindaba gevolg nadat sy besittings reeds meer as ‘n week vantevore per ossewa saam met die Prellers se trek na Pelindaba geneem is.