Ek lees op die oomblik met die uitsluitlike doel om te ontsnap; boeke deur die Italiaanse misdaadskrywer Andrea Camilleri, waaraan ʼn kollega my voorgestel het. Die hoofkarakter is Inspekteur Montalbano, wat moordsake in die fiktiewe Siciliaanse dorpie Vigàta moet oplos. Die inspekteur het ʼn gesonde aptyt en die disse waaraan hy weglê word in detail beskryf. Hy eet middagetes by ʼn plaaslike restaurant, gaan stap dan tot by die kaai, waarna hy op kantoor aan die slaap raak en glad nie skaam voel as kollegas hom moet wakkermaak waar hy agter sy lessenaar indut nie.
Hy werk aan een moordsaak op ʼn slag. Natuurlik los hy elkeen van sy sake op, meestal oor iets wat hy toevallig raaksien. Al is Sicilië die tuiste van die Mafia, word daar klaarblyklik minder mense as in Suid-Afrika vermoor. Miskien sal dit help as misdaad in Suid-Afrika meer georganiseerd raak.
Gister sit ek die Camilleri neer en begin om Martjie Bosman se nuwe digbundel te lees. Lae bloedsuiker? Ek bars in trane uit, veral met die gedigte oor Angola, Mosambiek en Rwanda. Die een wat slegs bestaan uit vroue se name – Portugese Katolieke name, wat van betekenis verander en verdiep met die herhaling van “Maria”. En dat die inhoud van ʼn handsak soveel betekenis kan aanneem!
Ek dink daar is min Afrikaanse digters wat met soveel diepte en insig oor die kontinent duskant en anderkant die Limpopo skryf.
Camilleri se speurverhale laat my ontsnap. Martjie Bosman se gedigte pluk my weer terug realiteit toe. Ek voel skuldig omdat ek nie die woorde kan vind om haar bundel te beskryf nie. Die gedigte tref jou tussen die oë, maar “tref” beskryf dit nie. Ook nie “tussen die oë” nie. Dit roer ʼn mens eerder. Maar dis weer te lomp.
Camilleri beveel ek aan – om te ontsnap. Bosman beveel ek ten sterkste aan – om weer aan te kom.
Ek stem saam Andries, oor Toevallige Tekens: absoluut ‘n wonderlike leeservaring vir my gewees. Dis verse wat ontroer, nadenke stimuleer. Ek het weer meer van die persoonliker verse gehou in die bundel.
Ek skat jou sendingwerk het ‘n dopeling opgelewer.
Probeer hulle in chronologiese orde lees. Begin met Tatoo, met ‘n 30-something Pepe in Amsterdam; en moenie Man of My Life lees voor jy al die ander gelees het nie. Ek sien nou in my woordeboek ‘wistful’ vertaal as “peinsend, droefgeestig; verlangend, weemoedig; smagtend; droefgeestige verlange; weemoed.” Dit alles beskryf hoe ek met die lees van Southern Seas gevoel het; ek is seker jy sal mal wees oor daardie een. En dan is dit verdomp nog eersteklas entertainment ook!!!!! OK my sendingwerk vir die dag is gedoen…
Desmond, dankie! Ek het die skakel met Montalban raakgelees. Uit jou beskrywing klink dit soos my tipe boeke, so dis beslis volgende op my lys.
En weer PS. Jy kan hier lees oor Montalban. http://en.wikipedia.org/wiki/Manuel_V%C3%A1zquez_Montalb%C3%A1n
PS. Die enigste ding wat ek teen Montalban hou, is dat hy so goed is, ek het al sy boeke wat in Engels beskikbaar is laasjaar klaar gelees. Ek wag net 2 jaar, dan lees ek hulle weer. Daar is ongeveer 8, dink ek. Pace yourself…
Hallo Andries. Andrea Camilleri se Inspekteur Montalbano is vernoem na die briljante Spaanse misdaadskrywer, Manuel Vázquez Montalbán. Ken jy hom dalk? Hy was ‘n Spaanse legende en benewens misdaadskrywer ook digter, filosoof, koskenner, joernalis, nie-fiksieskrywer, ens. Ek het sy misdaadromans laasjaar ontdek: dalk die ontdekking van die jaar vir my, en een of twee van sy boeke, met die privaatspeurder Pepe Carvalho in die hoofrol, is nou van my gunsteling romans — ooit. Veral Southern Seas en Man of My Life is gunstelinge. Maar The Buenos Aires Quintet, Murder in the Central Committee en Tatoo ook uitstekend. Montalban kry dit reg om ‘ontspanningsverhale’ te skryf, maar hulle het ook oneindig meer om die lyf; en hulle is ‘drenched’ in melancholie. An Olympic Death is amper ‘n requiem vir sy stad, Barcelona. Pepe is een van die beste literere karakters ooit, regtig, en om dit te lees laat mens ook besef hoe geyk misdaadverhale soms kan raak… Montalban se romans is soos Pepe self: one of a kind, en onmoontlik om te tem! Ek kan Montalban nie sterk genoeg aanbeveel nie.