Andries Bezuidenhout. Die klokke by Goedverwacht en Wittewater

Koloniale boere en predikante. Plase en sendingstasies. Slawerny en sending. Die twee instellings loop hand-aan-hand in Suid-Afrika, meestal ʼn ongemaklike wandeling. Ons vat die pad van Jacobsbaai af Velddrif toe, ry van daar af Piketberg toe. Kom naby Piketberg op twee dorpies af: Goedverwacht en Wittewater. Goedverwacht en Wittewater. Wittewater en Goedverwacht. Dit klink soos die begin van ʼn gedig.

Goedverwacht het ʼn klipkerk. Dis teen ʼn valleihang gebou. Daar is ook ʼn skool, ʼn ou sendingwinkel en huise uit verskillende eras al met die vallei langs, massiewe bloekombome vir skaduwee.

Goedverwacht se vallei. Die kerk is heel regs op die foto.

Ons hou by die kerk stil. Daar is steeds kersversierings bokant die deur.

Goedverwacht se kerk se hoofingang.

Die kerk is in 1895 deur die gemeenskap self gebou.

Kerkvenster, "hoeksteen".

Omdat dit teen ʼn hang gebou is, lyk die kerk nogal imposant as jy van die straatvlak af daarna kyk.

Goedverwacht se kerk, trappe van die straat af kerk toe.

Goedverwacht se kerk, kerkklok.

Sondae lui die klok deur die vallei. Die meeste slaweklokke op plase het aan soortgelyke torings gehang.

Goedverwacht se kerkklok.

Die storie van die gemeenskap van Goedverwacht begin juis by ʼn slavin genaamd Maniesa, oorspronklik van Bengale. Sy was die eiendom van ʼn ene Hendrik Schalk Burger, wat in een van die valleie naby Piketberg geboer het. Burger was ʼn wewenaar. Kort voor die vrystelling van slawe in 1838 het hy Maniesa, haar vyf kinders en haar skoonseun gevra om op die plaas aan te bly om na hom om te sien tot sy dood. In sy testament het hy die plaas aan haar en haar kinders bemaak, met ʼn klousule wat bepaal het dat die plaas deur hul afstammelinge verkoop moes word ná die afsterwe van al die kinders. Die opbrengs van die verkoop van die plaas sou dan gelykop deur die afstammelinge gedeel word.

Met Burger se dood was sy eie kinders woedend oor die testament. Hulle het ʼn hofsaak begin om dit ongeldig te verklaar. Hulle was egter onsuksesvol, selfs nadat die saak by die Queen’s Council in Groot Brittanje gaan draai het. Die plaas het dus in die besit gekom van Maniesa en haar kinders.

In 1888 het Maniesa se laaste kind gesterf. Haar naam was Hester, maar is deur die Morawiese Sendinggenootskap gedoop as Christiana Louise. Hierdie sendinggenootskap het reeds sedert 1859 ʼn sendingstasie by die nabygeleë Wittewater bedryf, volgens een bron omdat hulle nie op Goedverwacht kon woon nie. Eerder as om die plaas op die oop mark te verkoop, het Hester se kinders besluit om dit vir £750 aan die Morawiërs te verkoop. Van toe af het hulle Wittewater en Goedverwacht as een sendingstasie bedryf.

Wittewater is vernoem na ʼn waterval wat na die winterreëns hier vloei. Die kerkgebou is eenvoudiger as die klipkerk van Goedverwacht, maar ook mooi, met witgekalkte mure.

Wittewater se kerk.

Dis in 1911 gebou en ʼn inskripsie bo die deur verwys na mense wat hier ʼn heenkome gevind het, “geholpenenz”.

Inskripsie bo Wittewater se kerkdeur.

Die kerkklok lyk ook soos die een by Goedverwacht. Hoe klink hierdie klokke vir die afstammelinge van slawe? Klink dit soos die slaweklokke wat op plase gelui het? Het die sendelinge ‘n wrang sin vir ironie gehad?

Wittewater se kerkklok.

Wittewater is die ouer sendingstasie, maar die geboue lyk deesdae meer vervalle en armoediger as by Goedverwacht.

Uitsig oor Wittewater van die kerk af.

Wittewater sit teen die hang van die berg en die somerson lyk meer onverbiddelik hier as by Goedverwacht. Minder bome. Daar is egter pogings om van die ouer geboue te restoureer.

Die gemeenskap van Goedverwacht, of “Klowers”, soos hulle bekendstaan, het ʼn bestaan gemaak deur hul varsprodukte in Piketberg te verkoop. Tot in die 1960s, toe ʼn pad gebou is, het hulle oor die berg gestap om by Piketberg se markte uit te kom. Daar is ook ʼn staproete tussen Goedverwacht en Wittewater, wat deesdae aan voetslaners as ʼn toeristeaantreklikheid bemark word, saam met ʼn besoek aan wyle Hester se graf.

Ek wonder oor die twee plekke, Goedverwacht en Wittewater. Die name klink mooi, vol hoop en vog in hierdie dorre, barre deel van die land. Baie van die sendingstasies het ʼn heenkome aan slawe en hul afstammelinge gebied. Die kerk se eienaarskap van die grond, vermoed ek, het die gemeenskap ook beskerm teen die negatiewe gevolge vir swart grondbesit van Suid Afrika na die Anglo-Boereoorlog en later apartheid.

Deesdae word daar jaarliks, in die winter, ʼn Snoek en Patat Fees op Goedverwacht gehou. Organiese boerdery is ook besig om ʼn opgang te maak. Ons koop ʼn potjie boegoemarmelade. Ons wil graag sien hoe die kerk van binne lyk, maar pogings om die sleutels in die hande te kry is onsuksesvol. Ons sal maar weer moet kom kuier.

Uit informele gesprekke in Goedverwacht blyk dit dat sommige Klowers, veral direkte afstammelinge van Maniesa, ongelukkig is oor die kerk se eienaarskap en beheer van gemeenskapsaktiwiteite. Dit was immers hulle grond. Tog wonder ek of die kerk nie dalk ook ʼn tipe beskerming bied teen die aanslag van die mark in tye van neoliberale globalisering nie. Of dalk is ek net outyds en nostalgies oor ʼn gemeenskaplikheid wat lank gelede reeds verby is, of nooit bestaan het nie.

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Andries Bezuidenhout. Die klokke by Goedverwacht en Wittewater”

  1. Nico :

    Klipkerk vasgevlees teen ‘n hang,
    ‘n heenkome vir die gees

  •