
Die enigste Rus wat ek so bietjie leer ken het was ‘n historikus met die naam van Leonid Zhmud. Ons was saam in die eetkamer van die Nederlandse Instituut vir Gevorderde Studies (NIAS) naby Den Haag en die ete was ‘n Indonesiese rystafel. Toe hy hoor ek is ‘n skrywer, vra Leonid of hy ‘n karakter in een van my volgende romans mag wees. Eers het ek gedink hy trek my been, maar by die volgende middagete, Poolse zürek, suursop met rogbrood, het hy aangehou oor die karakter-in-my-boek ding.
Ek kan niks belowe nie. Hy moet sorg dat hy iets buite die nis doen anders kan ek hom nie as ‘n karakter oorweeg nie. Oor sy blas gesig het daar stadigaan ‘n glimlag verskyn, so bietjie Reinhard de Vos-agtig en bepaald niks met die rede uit te waaie nie. Verduidelik sou hy nie. Ek het gedink Leonid se ondeurdringbaarheid het iets met sy Russiese geaardheid te make.
‘n Jaar na my verblyf by NIAS het ek steeds oor Leonid gewonder. Ek was nou aangewys op poësie en prosa om iets van sy Russiese aard te probeer verstaan. ‘n Aanname natuurlik, die ding oor sy geheimsinnige Russiese mentaliteit. Maar hoe anders moes ek vorder?
Ek het op ‘n strofe van die vroeg-negentiende eeuse Russiese digter, Fyodor Ivanovich Tyutchev, afgekom:
Russia cannot be understood with the mind.
She cannot be measured by ordinary measure.
She has her own particular stance –
All you can do is believe in her.
Die strekking van Tyutchev se gedig het ek dadelik verbind met Prins Lev Niolaevich Myshkin, die protagonis in Dostoyevky se groot roman, Die Idioot. Die prins kon jy ook nie met die rede snap nie. ‘n Suiwer soort, knap, maar kinderlik, onaangetas deur gedragskodes en ietwat wêreldvreemd.
Die niggie van Tolstoy, Tatyana Tolstaya, ‘n belangrike, hedendaagse Russiese kortverhaalskrywer, het die volgende te sê oor haar mense: “die Russiese mentaliteit is nie gebaseer op common sense nie, dit het niks te make met common sense nie. In die Westerse kultuur of Europa miskien, word die emosie beskou as ‘n laer uiting van die rede. Maar in Rusland, nee. Dis sleg om rasioneel te wees, om flink en slim te wees, intelligent en so aan. En om emosioneel te wees, warm, lieftallig, miskien spiritueel in die volle sin van die woord … dis goed.”
Ek het na Leonid Zhmud se foto op Facebook gaan kyk, gewens dat ek weer die geleentheid kon kry om teenoor hom te sit en hom uit te kyk. Hom te vra of hy dink dis die soort karakter, die een wat Russiese digters en skrywers beskryf, wat hy my aangebied het om in my boek te plaas. Net: toe kon ek dit nie sien nie. Weet nie of ek nou kan nie.
*