Andries Bezuidenhout. As die nuwe Natte breek en bou

ʼn Uittreksel uit ‘n prekerige rubriek van lank gelede. Hierdie keer met ʼn foto van hoe die NG Kerkgebou op Smithfield deesdae lyk.

NG Kerkgebou, Smithfield, 2011

Op die Hoëveld kan ’n mens die koue sien aankom as die blare roes en die lug ’n paar skakerings bleker word. Dis ’n goeie tyd om Sondae rond te ry, op soek na lui middae in teetuine onder bome. Oor ’n maand sal dit te koud hiervoor wees.

Vir outydse teetuine moet ’n mens Pretoria toe ry, want Johannesburg is mos te trendy daarvoor. Daar is die Sammy Marks-museum aan die oostekant van die stad, met sy statige Victoriaanse huis en roostuin. Dis ’n stukkie landelike nostalgie, ten spyte van die plakkerskampe en sekuriteitskomplekse wat al nader kruip. Dan is daar Jan Smuts se ou plaashuis in Irene. Dis hiér waar ons nou sit en kuier.

Ek dink nou aan die dae van die stryd tussen Natte en Sappe. Vir die jonger lesers se onthalwe moet ’n mens seker verduidelik. Sappe was ondersteuners van die destydse Suid-Afrikaanse Party – die liberale, Jan Smuts se mense. Die Natte was Nasionale Party-ondersteuners – die Afrikanernasionaliste, J.B.M. Hertzog en later D.F. Malan se mense.

My broer se skoonpa, oorspronklik van Bethulie, het nou die dag vertel hoe ’n mens Natte en Sappe uitmekaar kon ken. As daar meestal Chevrolets geparkeer was, kon jy maar weet dis ’n groep Natte. As daar meestal Fords was, was dit waarskynlik Sappe. Iemand wat ’n Jaguar gery het, was beslis ’n Sap.

Die stryd was veral erg op die platteland. As ek reg onthou, het genl. Hertzog in 1924 ’n striemende aanval op Smuts se “naturellebeleid” in ’n toespraak in Smithfield geloods. Nou die dag, in ’n restaurant in die einste Smithfield, vertel iemand my van hierdie broedertwis.

Dit was die hoogbloei van die moderniseringsprojek van Afrikaner-nasionalisme. In die naam van vooruitgang was Volkskasbank besig om van die lelikste geboue in ons dorpies te bou. Barclays Bank het egter probeer om ou geboue te bewaar.

Die Natte in Smithfield wou blykbaar ’n nuwe kerk bou. Die Sappe het egter gevoel die pragtige sandsteenkerk moet bewaar word. Die Natte het die argument gewen – omdat hulle gesê het die ou kerk is bouvallig en onveilig.

Maar toe hulle die gebou probeer sloop, wil die sandsteen nie meegee nie. Die Sappe lag in hul mou oor die “bouvallige” gebou wat alle pogings om dit af te breek, weerstaan. Uit pure vasberadenheid, en waarskynlik ’n kruiwavrag hardkoppigheid, is die mure toe met dinamiet opgeblaas.

Hoeveel waarheid daar in hierdie storie steek, weet ek nie. In Trompsburg is die ou kerk darem nie gesloop nie, maar met klinkerstene oorgetrek.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •