In BY van Beeld (Saterdag, 14 Mei 20011) het ‘n artikel oor die Suid-Afrikaanse Beat-digter Sinclair Beiles verskyn wat hier gelees kan word. As toevoeging word die gedig Terrible Dreams van die digter hierby gevoeg. Die koerant het nie daarvoor plek gehad nie, maar dit sê vir my baie oor die tragedie van sy lewe.*
Terrible Dreams
My condition is lamentable – to me anyway.
I keep a kind of old flying machine stability
On a cupboard full of drugs
And as I fly through the day
I can hear my nerves creaking.
I look over the side of the cockpit
And below I see the horrors of enemy territory
– The mental hospitals.
All I can think of is writing as much as I can
While a semblance of sanity and strength remains for me,
I fear the fate of Artaud
Of Nietzsche
Of Nijinski.
If some small magazine editor happens to drop into your office
Or into your soup in the form of a fly when you eat at
The arts laboratory
Perhaps you can pull out this work for his consideration.
Tell him I have terrible dreams.
- – Sinclair Beiles
Uit: Ashes of Experience (1969)
Uuuggh.
Die selfaangestelde spietkop is ‘n Leeskring-program aangebied (twee keer per maand) op RSG en verskillende skrywers sal uitgenooi word om ‘n gesprek te voer.
Hier is my antwoord wat Saterdag (11/06/2011) in BY was:
Joan Hambidge skryf verlede week (BY-briewe, “Bloom kan nie oorskat word nie”) dis jammer ek het haar kritiek op my mening oor die Beat-digter Allen Ginsberg as “bestraffing” ervaar. Sy is aan gesprek geïnteresseerd en ek moet reaksie verwag as ek omstrede dinge kwytraak.
Nou wonder ek: Het Hambidge nie geweet Ginsberg se werk verdeel kritici al sedert 1956 nie?
Indien nie, is dit goed sy het ’n brief aan die koerant geskryf, want in daardie geval het sy iets geleer.
As sy egter wel bewus was daarvan dat vele gerekende letterkundiges Ginsberg nie ag nie, was dit mos nie nodig om soos die selfaangestelde spietkop van die boekjoernalistiek agter ’n bos uit te spring en hokaai te roep nie. Dan het haar brief met sy implikasie dat my smaak in die poësie op domastrante onkunde berus, niks met literêre polemiek te make gehad nie. Dan ontstaan die vermoede dat sy die man en nie die bal gespeel het nie.
Een van haar gunsteling-literatore, Harold Bloom, misken Ginsberg se digterskap immers met groter stelligheid as ek, maar Hambidge sou sekerlik nie in ’n uit-die-hoogte-brief aan die pers gevra het of dit is omdat die vermaarde professor Bloom kwansuis nie Ginsberg se digkuns verstaan nie.
Kortom, oor die feit dat ons albei geregtig is op ’n mening wat elkeen van ons met verskeie ander deel, hoef ons nie verder ’n pennestryd te voer nie.
(Redaksie: Hiermee word die debat oor Allen Ginsberg en Harold Bloom afgesluit.)
Danie, Dankie vir jou reaksie hier. Ek is tans by ‘n kongres by die Sorbonne en die lesersbriewe is nie op die internet beskikbaar nie. Die feit dat ek Bloom as ‘n letterkundige reus beskou, beteken nie dat ek met alles wat hy geskryf het, saamstem nie. Ek dink The anxiety of influence en Map of misreading is bakens, soos die studies oor Wallace Stevens en Yeats, o.a. Hy kan m.i. nie oorskat word nie – dit bewys die onlangse boeke ook.
Daar is egter ook ‘n groot aantal lesers en digters wat “Howl” as ‘n belangrike gedig ag.
En as jy my reaksie as skoolmeesterlik ervaar het, moet jy dalk in gedagte hou dat ‘n publikasie in ‘n koerant reaksie mag ontlok. ‘n Mens skryf sekerlik vir gesprek. Anders moet ‘n mens maar omstrede uitsprake vir die braaivleisvuur hou of vir die bandopnemer. By die juiste kongres is groot geleerdes ook gekritiseer – sonder dat daar wal gegooi is. Inteendeel.
Hier is my antwoord wat gister, 28 Mei, in BY was:
In ’n lesersbrief spreek Joan Hambidge haar ontsteltenis uit oor my geringskatting van die Amerikaanse Beat-digter Allen Ginsberg en sy lang gedig “Howl”. “Verstaan Marais dié digkuns?” en “ ‘Howl’ oorskat?” vra sy met ’n skoolmeesterlike optrek van die wenkbroue. Die implikasie is dat ek ’n arrogante klein ketter is wat vanweë onkunde “met groot stelligheid” ’n verregaande uitspraak gemaak het.
Aangesien Hambidge so sterk oor die saak voel, stel ek voor dat sy vir prof. Harold Bloom ook voor stok kry. Want dié groot Amerikaanse kritikus, wat sy in Die Burger van 23 Mei 2011 as “literêre reus” bestempel, is dit roerend met my eens oor die gehalte van Ginsberg se digkuns. In sy magistrale The Western Canon verwys Bloom net twee keer na Ginsberg om te beklemtoon dat laasgenoemde geen opvolger van Walt Whitman is nie, maar eerder familie van Henry Miller (nog ’n skrywer vir wie Bloom geen ooghare het nie). Hy neem ook nie vir Ginsberg op in die lys van kanonieke skrywers/digters agter in die boek nie. In ’n onlangse onderhoud met die Boston Review (http://bostonreview.net/NPM/adam_fitzgerald_harold_bloom.php) laat Bloom hom as volg uit: “Poor Allen [Ginsberg], I liked him immensely as a person. I still don’t believe he ever wrote a poem, or could write a poem.”
Die ironie is, toe Charl-Pierre Naudé onlangs op die Versindaba-webwerf beweer het Bloom word soms as kritikus oorskat, het Hambidge met dieselfde verbystering gevra: “Bloom oorskat?”
Om my te oortuig haal Hambidge ten slotte uit “Howl” aan: I saw the best minds of my generation destroyed by madness, starving hysterical naked […]who passed through universities with radiant eyes hallucinating Arkansas and Blake-light tragedy among the scholars of war, / who were expelled from the academies for crazy & publishing obscene odes on the windows of the skull
Nou wil ek vra: Hoor sy nie die mengsel van verromantisering en selfbejammering wat my (en ander) irriteer nie? Soos die digter-kritikus Al Alvarez in The Writer’s Voice oor Ginsberg opmerk: “ ‘The best minds of his generation?’ someone remarked to me at the time. ‘It makes you wonder whom he met.’ ”
Maar indien hierdie reëls vir Hambidge groot poësie is, fyn. Smaak verskil. Ek stem ook nie oor alles met Bloom saam nie.
Beste Joan, ek het jou bostaande brief in Saterdag se BY gelees. Ek stuur vandag ‘n reaksie na die koerant. As hulle dit plaas, sal ek dit ook Saterdag hier as kommentaar los. Indien hulle dit nie plaas, plak ek dit in elk geval hier.
In BY van 14 deser skryf Danie Marais (“’n Roerende chaos”) onder andere oor die Beat-skrywers en hy meen met groot stelligheid dat Allen Ginsberg se “Howl” lyk na ‘n oorskatte, mistifiserende voetnoot tot Walt Whitman en ‘n idealiserende beskrywing van pretensieuse daggarokers wat vrot verse skryf, terwyl hulle op ander se nekke lê.
‘n Mens wonder of hy die skitterende vertaling van Johann de Lange ken én of hy Ginsberg se digkuns verstaan? Die onlangse verskyning van Letter to South Africa: Poets calling the state to order (uitgegee deur Umuzi) word daar antwoorde geskryf op Ginsberg se “America”, wat bewys hoe tersaaklik Ginsberg bly. Hierdie gedig, soos “Howl”, bly bakens in die digkuns en min van die antwoorde in die onlangs verskene bloemlesing kan kers vashou by Ginsberg.
“Howl” oorskat? ‘n Onverkwiklike mengsel van selfverheerliking en selfbejammering in Ginsberg in “Howl”? ‘n Mens moet altyd ‘n skrywer binne sy konteks evalueer en begryp. Behalwe dat “Howl” nog steeds, na soveel jare, bly imponeer met die slim toespelings op William Blake en die Boeddhisme. Dit is nie net ‘n gedig oor seks en waansin nie. Daar is steeds gedugte navorsers wat werk publiseer oor Ginsberg en referate oor sy werk lewer by internasionale kongresse, soos nou onlangs in Seoul by die Internasionale Komparatisme.
‘n Slotwoord uit Ginsberg:
“I saw the best minds of my generation destroyed by madness, starving hysterical naked”.
Of
”who passed through universities with radiant eyes hallucinating Arkansas and Blake-light tragedy among the scholars of war,
who were expelled from the academies for crazy & publishing obscene odes on the windows of the skull”
Hoeveel digters kon en kan soiets onthoubaar presteer?