Louis Esterhuizen. Ons bloedband met grond

No Master's Voice

No Master's Voice

Vanoggend ontvang ek die kostelike foto hiernaas van een van ons gewaardeerde krygers en meteens plaas dit sy mees onlangse bundel, die beginsel van stof, in ‘n totaal ánder perspektief. Die rede daarvoor is waarskynlik omrede die kwessie van grond nog altyd ‘n hoogs kontensieuse en emotiewe aangeleentheid is; in hoofsaak vanweë die feit dat ‘grond’ deur al die eeue heen ten nouste verweef lê met ‘magsbasis’ en ‘identiteit’. Trouens, ek wonder of daar enige Afrikaanssprekende in hierdie land is wat nie iewers in sy of haar verlede met ‘plaas’ en ‘grond’ te make gehad het nie …

En so is dit ook gesteld met ons digkuns. Van ons vroegste digters al. So het ek in my soeke na toepaslike gedigte op ‘n hele klomp afgekom; gedigte deur Jan FE Celliers, Totius, Leipoldt, JJ Oosthuizen, JRL Van Bruggen, Eitemal. Ook by latere geslagte soos CM & Toon van den Heever, Watermeyer en natuurlik DJ Opperman:

 

BOER

 

Hy stap van soggens vroeg
    agter vier osse
          en die ploeg,

om aarde, son en wind
    en reëen in mielies
          te verbind;

in ryke saad waaruit
    fabriek en stad en
          nasie spruit.

 

(D.J. Opperman)

 

Bogenoemde vers vind dan ook ‘n treffende weerklank met die volgende reëls uit die beginsel van stof (p.85):

 

die doolvolk dans

met ligte tred

in die donker:

o, bewussyn is

‘n stippellyn herinneringe

aan die ondergrondse baarmoeder

 

(Breyten Breytenbach)

 

Die aangenaamste ontdekking was egter die artikel oor André P. Brink se deelname aan en publikasies in die  ikoniese jeugblad Jongspan wat deur Adinda Vermaak geskryf is en volledig op Storiewerf gelees kan word. Inderdaad ‘n ongelooflike stuk navorsing en boeiend geskryf. Wat my egter getref het, is die jeugverse van etlike bekende digters en skrywers vandag wat deur Adinda Vermaak by haar artikel betrek word; nie net vanweë die vroeë aanduiding van talent wat daaruit blyk nie, maar ook vanweë die tematiese verweefdheid met júís die kwessies van grond.

In die uitgawe van 1 Maart 1946 is daar byvoorbeeld die volgende sonnet uit die pen van die elfjarige Hennie Aucamp:

 

Boereplaas

 

As die son agter die bergtop verdwyn
En die lug gekleur is in ‘n bad van karmosyn,
Dink ek aan ons ou boereplaas
Nou geheel in ‘n skemer waas.

En ek verlang, O! ek verlang om te hoor
Die beeste-geloei wat my so bekoor:
‘n Treurige liedjie van ou aia Raal
As sy by die put gaan water haal.

E sien my ou moedertjie, al roepend na my:
Kom in nou, my kindjie, die windjie sny.
So mooi is sy as die windjie speel
met haar gryse haartjies van ferweel.
Ek hoor die paddas kwaak en raas

En ek verlang dan na ons ou boereplaas.

 

Met in die daaropvolgende uitgawe van 15 Maart 1946, die volgende gedig deur einste André P. Brink; eweneens 11 jaar oud:

 

In die vlei

 

Daar onder in die vlei
Zoem, zoem ‘n by –
En skoenlappers bont
Die vlieg daar rond
Om sap uit die blomme te suig.

Die voëltjies is daar
In klompies bymekaar,
Hulle vlieg en sing,
Bou nessies in ‘n kring
Van stokkies, grassies en strooi.

Twiet, twiet, twieretwiet!
Fluit ‘n vink in die riet.
O, kom saam met my
Na die voëls in die vlei,
Want dis vrolik, so vrolik daar!

 

Ai, watter leesplesier is dié artikel nie! Daar is nog sommer heelwat interessante verwysings en vertellings oor veral die jonge André Brink se soeke na marmotjies en sywurms en enkele maande later weer wanneer hy marmotjies en sywurms te koop aanbied; en ook die handel wat hy met tweedehandse boeke via Jongspan bedryf het: “Op 26 Januarie 1951 het hy (APB) boeke om te verkoop, boeke ‘wat nog almal sonder ‘n merkie of kolletjie is’, onder andere, Geluksvoël van Allah, Jakkals en Wolf (Dele 4 & 5), Oom Kaspaas, Stories van toeka se dae en Avonture van Pinokkio. Tant Ans voeg by:’By elke drie wat bestel word, sal André nog een geadverteerde boek gratis gee. As julle ontevrede is met die kopie, kan julle dit weer terugstuur’.”

 

Gaan lees gerus die volledige artikel op Storiewerf se webtuiste.

 

Maar – terug na ons tema van grond. By wyse van groet en kopknik na ons gestileerde kryger op die foto hierbo, nog twee toepaslike gedigte:

 

DIE BOEREVROU

 

Haar wese is erns: sy gaan haar weg in swye,
gehoorsaam op die lange weg van lye-
Suid-Afrika, u moeder in haar wee-
Wat aan die wêreld ‘n nasie gee.

 

Jan F.E. Celliers (Uit: Die Vlakte; Nas. Pers. )

 

***

 

O, BOEREPLAAS

Woorde: C.F. VISSER
Musiek: “Der Tannenbaum”, gewysig; verwerk: DIRKIE DE VILLIERS

O boereplaas, geboortegrond!
Jou het ek lief bo alles.
Al dwaal ek heel die wêreld rond,
waar so gelukkig, so gesond?
O boereplaas, geboortegrond!
Jou het ek lief bo alles.

O moederhuis, waar ooit so tuis?
Jou het ek lief bo alles.
Die wêreld, rykdom, prag en praal
kan jou verlies my nooit betaal.
O moederhuis, waar ooit so tuis?
Jou het ek lief bo alles.

O moedertaal, o soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.
Van al die tale wat ek hoor,
niks wat my siel ooit so bekoor.
O moedertaal, o soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.

 

 

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Louis Esterhuizen. Ons bloedband met grond”

  1. Breyten Breytenbach :

    Maar Louis – jy sê dan niks van die kuif nie! Wat sou ‘n boereplaas ooit wees sonder sy potjie Brylcreem?
    Wonderlike materiaal oor André. Wys jou net daar is nou ‘n man wat weet hoe om met talente te woeker. En knap! Keer dat die marmotjies nie op die boeke kolletjies maak nie sit nie in enige ou se broek nie!

    Bliknot

  2. Louis :

    Mmmm … Het gedog die kuif is oëverblindery. 🙂

  3. Desmond Painter :

    Kuifie in Afrika.

  4. Desmond Painter :

    PS. Wat die 11-jarige Brink se gediggie betref: ongelooflik dat die man op so ‘n jong ouderdom al oor seks geskryf het!!

  5. Marlise :

    Potjie Brylcream? Daar is sommer ‘n hele buis vol swart haarkleursel ook by, want die man se grys baardjie verraai hom! Maar hy kan darem mooi sing…

  6. Charl-Pierre :

    My ouma had te vertelle daai was nou ‘n pierewaaier wat die meisies se harte gesteel het. Tydens konserte het Die Silwer Troebadoer so teen die kap staan en sing, van plaas tot plaas; terwyl hy glo so aan ‘n kassie se slingertjie draai. Sy foksterrier het sommer dadelik onder die wa gaan le om aan die slaap te raak as sy baas sing. Wanneer die mense encore gee, kom hy weer blaffend te voorskyn. Miskien was hy net met die maan gepla.

  7. Joey :

    Louis, dankie vir Wederkoms. Dit was die einste een wat ek gesoek het. Pragtig!
    Groetnis,
    Joey

  •