
Hier in Suid Korea is alles skielik weer lowergroen en die lang winter nou net ‘n vae geheue. Die gevoel bly my by dat oornag die bome se blare uitgekom het, in een sarsie, om skielik die grys toneel oor te neem met lowergroen grasie.
Die storms en bedreiginge van die afgelope maande kook ook minder oor in die mense se gemoedere. Die kernstasie in Japan word slegs nou en dan genoem. Noord Korea is weer stil, en in plaas van bomme stuur hulle internet boewe om in te breek by banke aanlyn.
Die hibernasie is vir eers verby, van vries in vrees teen die onvermydelike, en vries van koue~ so kom daar ook weer ‘n dag om iets by te dra op Versindaba. Alhoewel ek nie nou ‘n foto het van die groenigheid nie, sluit ek graag die volgende gedig in as plaasvervanger vir beeldmateriaal.
Lewendige Somer
Skakerings van groen is geil op die land,
hierdie reenseisoen stoom die heuwels
smiddae in die lae son wat kom staan
in die koelte van die middag.
Die meer is blou en die lug is blou,
die blare almal perfek gevorm, geen
gebrekkigheid kan gesien word nie,
selfs al was daar bestralings waarskuwings.
Ons beur weer op met nuwe moed, soos
die kwartaal tot ‘n einde loop en studente
weer kan bekostig om te glimlag
voor die finale eksamen wat nog kom.
