Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
6 June 201120 July 2024

Egonne Roth.Van Israel na Londen

 Londen bly vir my ‘n magiese stad, ‘n stad vol verwondering en verrassings. Dalk is dit waar van baie groot stede: New York is opwindend, indrukwekkend, groot en hoog; Berlyn is vol verrassings, ‘n stad wat haarself herontdek; Parys met haar boulevards ‘en chic’; Rome, Madrid, Tel Aviv en Johannesburg.

Maar Londen is anders – dis ‘n stad met ‘n hart. En as u nie saam stem nie, dan nooi ek u saam met Roger Whittaker uit:

Let me take you by the hand

And lead you through the streets of London

I’ll show you something

To make you change your mind.

My skoondogter Google gou die aand om te kyk wat ons die volgende dag kan sien – so bietjie kuns en kultuur en dan soek ons êrens om te eet. “Southbank, Ma, klink goed – luister bietjie,” en sy lees van een uitstalling en aktiwiteit na die ander. Dit klink interessant, lig en prettig vir ‘n lentedag langs die Teems.

Die volgende oggend is ons op pad  – op die trein na Waterloo-stasie. Elke keer as ek daar deurjaag, belowe ek myself dat ek eendag ‘n volle dag op daai stasie gaan rondstaan, foto’s en notas neem, ‘n bier koop en langs die kroegtoonbank staan en skryf. Volgende keer…

Die son skyn, die lug is blou soos die vere van ‘n Malachite-visvanger. Donsige wolke lyk soos  die eendkuikens wat agter hul ma met ‘n gekiep aan swem. Lente in Londen is vars, soos die nuwe groen blare aan die bome waaronder ons loop. Die lug hang swaar van die geur van bloeisels wat langs die paadjies groei.

Vanaf  die Waterloo-brug na die ooste toe is daar stalletjies net gebou vir ‘Summer on the Southbank’ – dit herinner my aan Muizenberg en ons dwaal lui-lui by hulle verby. Bo ons koppe fladder die langste ‘bunting’ ( nie een van die woorde in my tweetalige woordeboek klink reg nie – ons bly maar by ‘bunting’) in die wêreld:

Bunting
Bunting

‘Bunting’ is dus ‘n kilometer van klein driehoekige vlaggies wat aanmekaar met ‘n tou verbind is. Dit maak die atmosfeer so feestelik. By die huis, dink ek, fladder die klein blou en wit vlaggies van Israel oor strate en langs die geboue af om Onafhanklikheidsdag te vier en ek bekyk ‘bunting’ in Londen!

Onder die beton loopgang van die Southbank-sentrum is die mure met graffiti bedek en ons verwonder ons aan die beelde – haai, Ma, kyk die goue tande!

Smile graffiti
Smile graffiti

– terwyl tieners op skaatsplanke en rolskoene oor klein muurtjies en teen spesiaal geboude walletjies jaag. Teen twee lang grof afgewerkte mure hang ‘n uitstalling van foto’s van die oorlog in Afganistan –

Afghanistan soldate
Afghanistan soldate

Mens sien net die gesigte van soldate met oë wat so stip na jou kyk dat jy moet wegkyk. Ons staar terug. Ons is stil. Dis skokkend. Daar’s een vrou tussen al die mans.

Op ‘n ander reeks mure kyk die verwarde moeë gesigte van vlugtelinge uit Afrika (African Caribbean) wat hulle in Londen bevind na ons .

Die familie
Die familie
Gesigte van vlugtelinge
Gesigte van vlugtelinge

Die een man lyk soos ‘n model vir my Rubin Mpongane-skildery – veel later praat ons nog steeds oor hom. Die woorde van Olga Kirsch se Engelse gedig wat in Amerika in 1966 gepubliseer is, kom by my op:

Strange to be an immigrant

To wander through the centre of the town

Watching the people pass, not a face known

Everyone going somewhere – you alone

A nobody going nowhere.

Strange to be an immigrant…

And you cannot go back or elsewhere and you dare not look forward:

Grim to be an immigrant.

Dan, onverwags, is ons voor ‘n muur van reënboogkleure en ons sien dat op elke kleur ‘n gedig deur ‘n ander digter is – ons lees aandagtig en ek ontdek ‘n digter wie ek eenmaal  ‘n lesing oor T.S. Eliot hoor aanbied het – dit was so mooi, so liries, so hartseer dat die gehoor hom op hul voete toegejuig het. Robert Crawford van Aberdeen. ‘Scotland’ – die laaste strofe val my op:

To be miniaturised is not to be small-minded

To love you need more details than the Book of Kells –

Your harbours, your photography, your democratic intellect

Still boundless, chip of a nation.

Baie jare gelede het ek in Skotland gewoon. Die land was goed vir my. My herinneringe is soos Crawford se stem: warm, sag en aanloklik.

Op ‘n klein strandjie aan die oewer van die Teems, bou twee mans sand beeldhoukuns – die een bou ‘n groot gesig, die ander se sitkamer is klaar en hy sit en lees koerant op sy sandsofa – beide het matjies uitgesit waarop die mense donasies moet gooi. Ons gooi niks, maar loop aan op soek na iets om te eet en drink.

Iemand stop ons ‘n pamflet in die hand. Dit belowe chai tee verniet en ons volg die instruksies na Dishoom’s –

Dishooms vir middagete
Dishooms vir middagete
'n Uitsig op die Theems vanaf Dishooms
Uitsig op die Teems vanaf Dishooms

Dis ‘n vrolike vriendelik eetplekkie met helder someragtige dekor. Ons is glad nie spyt om daar te wees nie en die chai tee is die ware jakob – sterk van speserye: kaneel, gemmer, kardemom, peper. Dit brand ons kele en ons besluit summier dat dit tyd is vir middagete. Die kelner het die blouste oë. Die kos is net so smaaklik soos die tee. Ons twee sit en gesels sonder ophou en ek meen ek is ‘n geseënde vrou met so ‘n skoondogter!

Luilekker stap ons aan na ‘n nuwe konstruksie wat hulle nog aan die bou is.

Nuwe konstruksie met gedigte
Nuwe konstruksie met gedigte
Muur met wapperende gedigte
Muur met wapperende gedigte

‘n Paar dae later sien ek dit voltooid. Dis ‘n muur van gedigte wapperend in die wind – die gedigte is geskryf deur vlugteling kinders en dit wil jou laat huil:

 Postcard from London

 London tastes like mangos, chocolates and biscuits

Sometimes the streets smell like dirty socks

You see so much traffic on the roads

So many cars, motorbikes

People speaking on mobiles

And children on their way home from school

You can smell fresh air in the afternoon

And in some homes you smell pasta sauce.

I think their favourite food here is pasta.

When I think about freedom, I remember

When I used to cook with my mother.

When we used to cook together.

Whenever I smell oranges it reminds me

Of our garden in my country, Eritrea.

I collected oranges there every summer.

(Mohammed Ahmed)

Skielik herinner dit my aan die  woorde  van ‘n liedjie uit die laat sestigerjare wat Janis Joplin bekend gemaak het:  “Freedom’s just another word for nothing left to lose”. En ek wonder wat hierdie kinders uit Afrika se oorloggeteisterde gebiede sou dink daarvan.

… Why am I walking on my shoes and not my land, shouldn’t I be free

to feel the sand between my toes? Shouldn’t I be free

to feel the air sweeping away the sand between my toes?

(Muna Hayle)

 Elke gedig is maar net nog ‘n uitdrukking van verlange terug; terug na waar mens nie kan teruggaan nie, terug na waar mens veilig behoort te gevoel het, maar nooit was nie.

 I am so paranoid

 I just can’t trust nobody

(Sadig)

 Daar’s iets so intiems en tog verwyderd aan hierdie uitstalling van gedigte. As die wind te hard waai, kan hulle sekerlik loskom, iemand kan een afskeur of die reën kan dit uitwis – net soos oorlog en droogte en hongersnood hierdie kinders se lewens uitmekaar gewaai het.

Ons stap verder, ek en my skoondogter. Ons gesels oor wat ons vir aandete wil voorberei, oor ons toekomsdrome, oor Londen en die voorreg om daar te wees. Ons het ‘n keuse, ons kan huis toe gaan, daarom kan Londen vir ons ‘n magiese stad wees. Ons het gekies om hier te wees.

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Johann Lodewyk Marais. Stellings oor Eugène N. Marais

2e gedagtes oor “Egonne Roth.Van Israel na Londen”

  1. Annet says:
    7 June 2011 at 13:30

    Egonne, dis ‘n interessante vertelling hierdie en wat ‘n feestelikheid moes dit nie gewees het nie. Ek verstaan nie hoekom sulke konstruksies en mure vol gedigte nie ook in hierdie land ontstaan nie. Hier is immer so vreemde beklemming en vraagtekengesigte in die lug sodra mens oor die digkuns as konstruktiewe element met mense begin gesels…

    Reply
  2. Dishen says:
    6 June 2011 at 11:43

    Lovely layout and content !

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Joan Hambidge. Kerstyd 2024
  • Jacques Boshoff. Ontoereikend
  • Sharon Goliath. Here Hoe Groot Is U
  • Ruan Fourie. kindness is modern magic
  • Cobus Kruger. Deepfakes

Nuutste bydraes

  • Daniel Hugo. Rust-mijn-ziel: Digters gedenk Aucamp
  • Jacques Boshoff. Die hond in Desember
  • Elisma van Zyl. My Magnificat
  • Johann Lodewyk Marais. Windhoek se “onvolmaakte” kunswerk
  • Resensie: “waar daar eens ’n see was” (Jennifer Pape)

Nuutste kommentaar

  1. Bernard Odendaal on Rus in vrede Tony Ullyatt10 December 2025

    Voorwaar droewe nuus. As letterkundedosent, digter en poësievertaler ‘n uitmunter gewees.

  2. Rina Cascione on Nini Bennett. My Octopus Teacher5 December 2025

    'n Allerlieflike gedig oor 'n wonderlike dokumentêr. Dankie Nini! Jy het dit met soveel verbeelding vasgelê.

  3. Johan on Sanette Scheepers. Vrykoop5 December 2025

    Ek hou daarvan en ek verstaan die inhoud.

  4. Ben Nel on Andrea Sieberhagen. Ontsnapping5 December 2025

    Andrea, jy is ‘n rots Baie dankie vir jou bydrae tot die samelewing! Groete Ben

  5. Schalk Botha on Andrea Sieberhagen. Een helder ster4 December 2025

    Dis dalk nie die beste aand om hierdie impakvolle gedig te lees en te bedink nie; veral om uit ‘n…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d