Klankdig
Vir Fishagie
Hoe lyk die vingerafdruk en DNA
van die woekeraar met “die stil avontuur”,
die “glansende kiemsel”, die “woord en wonder”?
Daardie een wat ‘n villanelle, rondeel, o donder,
of Luc Bat soos ‘n stiervegter kan beheer?
Hoe lyk die ID of paspoort (met visums)
van hierdie geheime agent of klouterdief
wat katvoet ‘n sonnet of ballade bedryf?
Wie is hierdie digter van die visums by verstek
op reis deur vele glossariums op die internet
en voorskrifte oor sonnette, distigonne en ryme?
O nalatig, oppervlakkig, ‘n geweeklaag,
sal die kruppel kritikus bevind (sélf banaal),
in die soeke na nougesette vakmanskap
en gekonsentreerde poëtiese segging,
‘n speelse truuk verwar met ware ding!
Leser, mon frère, mon semblable?
So kom ons klink ‘n glasie op hierdie inspirasie.
Stiervegter pak die tollie aan sy horing,
007 en klouterdief het immers ‘n geluksensie.
© Joan Hambidge. Julie 2011
Goeie gedig – soos altyd. Dankie vir die kompliment! KLANKDIG is die titel van my 2006-digbundel (ISBN 0620377540). Groete. Johann P. Boshoff