Parys
“If you are lucky enough to have lived in Paris as a young man, then wherever you go for the rest of your life, it stays with you, for Paris is a moveable feast.”
Ernest Hemingway
Intimiderende, invloedryke, imposante Parys:
plek van bloed, opstand
en onthoofding.
Jy is my Bastille én Versailles.
Ek is jou Marie Antoinette:
“As hulle nie brood het nie,
gee hulle gedigte”. Eers vetgevoer met mites
oor die tuimelende proses genaamd, dig.
Hier staan ek,
want ek is anders,
immer op reis, soekend na ‘n kern,
‘n finale woord
en oksimoron.
Bloed vloei in bruisende are
en die klippe die rol in vele opstande, afseggings,
afleggings…
Mens haat of aanbid hier,
geen halwe hart word geduld.
Vyf keer besoek ek jou,
vyf keer spartel ek om jou af te weer,
vasgevang in ‘n obsessiewe verhouding.
Die eerste keer ruik ek jou stink knoffelasem
in die agterbuurtes,
oorhoops verlief
met my hart op my weerlose mou.
Hierna ‘n minder roekelose besoek
met wriemelende weeluise in die beddegoed
en ‘n concierge wat die deur krities toetrek.
Die derde keer is altyd skeepsreg.
In die Gare du Nord wagtend op ‘n trein na Strasbourg,
karteer ek die anatomie van melancholie
tussen stasies en netwerke van stede
wat terughunker en altyd terugkeer na jou.
“Paris je t’aime”.
Jou bogrond word presies
in jou rioolsisteem herhaal:
‘n ewebeeld van jou dreunende, druisende bo-grond.
Geguillotine deur die liefde,
verkeerde keuses,
oordeelsfoute,
keer ek in herinnering terug na jou:
“je ne regrette rien” se metriese voet.
Ondergronds in die métro verdwaal
al die digters op soek na Paul Celan
en Michel Houellebecq
in ‘n eindelose Moulin Rouge,
‘n vuurwiel wat draai en draai en draai.
Ek struikel oor jou kieselstene
die vierde keer,
kyk vanuit die Eiffel
na jou presisie, jou beheer,
elke arrondissement
in mosaïekwerk verpak
soos verse in ‘n lykbundel.
Ondraaglik toe dit stuifreën
in die Place d’Italie
met verbouings en verskuiwings:
Parys onder konstruksie.
‘n Gedig is soos foie gras
of ‘n bloedrooi glas wyn.
In die Notre Dame lui ‘n klok
met hierdie vyfde, vrygemaakte besoek.
Ek werp my gedigte op die Seine
se koue waters. Die son,
‘n vetgemaakte eend,
skryn ‘n oordeel:
daar is geen buite-teks.
(c) Joan Hambidge