Kuberlaai
Nothing that is not there and the nothing that is.
– Wallace Stevens
Die aard van angs is dat dit tydelik kwel,
meen ‘n digter van die kruis of munt.
Oor berou en misverstand vanuit ‘n ander punt,
dig sy meedoënloos, elke woord afgetel.
Om jouself te plaas teen dit wat nie bestaan,
of eerder, dit wat nooit was, word my spel.
In lande ver vandaan, beweeg ek nader aan
iets soos volledig afweeg, opweeg, uittel
van ‘n ander digter se beroemde stelling:
“My Life had stood – a Loaded Gun”; ‘n Russiese film,
stadig-bewegend met onderskrifte vertel,
die monde, ongesinchroniseer: ‘n private hel.
(c) Joan Hambidge (Julie 2011)